Ná die nuus dat Renette Lotriet van die 12de reeks van die werklikheidsreeks Boer soek ’n vrou verloof geraak het aan ’n ander man, het boer Theunis sy beste wense vir haar en haar verloofde uitgespreek.
“Ek wens vir Renette en Lian alle voorspoed toe vir ’n wonderlike pad saam,” sê boer Theunis, wat in ’n skokwending vir Marcia bo Renette gekies het.
“Mag hulle mekaar perfek aanvul en net nader aan mekaar groei. Ek is baie bly sy het iemand gekry wat haar onvoorwaardelik lief sal hê,” sê Theunis.

Boer Theunis
Renette het op Nuwejaarsdag op Facebook aangekondig dat sy verloof is aan Lian du Plessis.
“Met die eerste sonsopkoms van 2020 het jy my die gelukkigste vrou ooit gemaak,” skryf sy op Facebook. “Nou weet ek hoekom dit die moeite werd is dat God ’n mens se liefdesverhaal skryf. Dankie Here vir dié ongelooflike blessing. Lief jou met my hele hart.”
Sy het foto’s gedeel van haar verloofring en die pragtige uitsig van die plek waar hulle verloof geraak het.
Sy sê ook op Facebook dat sy en Du Plessis in September verlede jaar ontmoet het en dat hy haar gewys het wat onvoorwaardelike liefde is.
Boer Theunis het ná die vroue se kuiers op die plaas alleen daar agtergebly nadat Marcia nie ’n toekoms saam vir hulle gesien het nie.
“Ek wil nie bly en dan werk dinge dalk nie uit nie,” het sy ná die tyd vir Renette gesê. “Ek is bang ek maak hom nog meer seer.”
Donderdagaand is die laaste episode van die reeks en kykers sal dan uitvind of boer Theunis steeds ’n alleenloper is en of hy intussen ook nuwe liefde gevind het.

Lian du Plessis en Renette Lotriet.Foto: Facebook/Renette Lotriet