Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
Borg onttrek aan ‘Love Island SA’

Nog net twee episodes van die maatsoekprogram Love Island SA het al die lig gesien toe die hoofborg Dinsdagmiddag onverwags onttrek het.

Tasoulla Hadjigeorgiou, direkteur van LottoStar, het Dinsdagmiddag in ’n kort verklaring op sosiale media bekend gemaak dat hulle as borg aan dié werklikheidsprogram gaan onttrek.

Die program, wat Sondagaand op M-Net (DStv-kanaal 101), begin het, het reeds ná die eerste episode hewige kritiek gekry weens die swak produksiegehalte en ’n gebrek aan diversiteit wat die deelnemers betref. Dit is egter nie duidelik of dit die rede is dat LottoStar onttrek het nie.

Leandie du Randt is die aanbieder van ‘Love Island
Leandie du Randt is die aanbieder van ‘Love Island SA’. Foto: Verskaf

“Ons wens die program en elke deelnemer ’n suksesvolle reis vorentoe,” lui die verklaring.

By navraag het ’n werknemer van LottoStar aan Netwerk24 gesê die hele maatskappy is opdrag gegee om nie nou kommentaar te lewer nie.

LottoStar is ook die borg van ander werklikheidsprogramme op M-Net soos The Bachelor SA en The Bachelorette SA.

Love Island SA het uit alle oorde kritiek ontvang en kykers het selfs so ver gegaan om die program Pain Island te doop.

Die eerste episode het erg deurgeloop met kykers wat hul misnoeë oor die gebrek aan diversiteit en swak produksiegehalte uitgespreek het.

Maandagaand se episode het nie veel beter verloop nie. Gedurende deelnemers se gesprekke het die klank geëggo en by tye was daar geen klank nie.

Benewens die kritiek wat uitgespreek word, word die spot gedryf met die program en van die foute word uitgewys, op onder meer die Instagram-profiele Pain Island SA, Love Island SA Needs Help en Love Island SA Memes.

Die doel van Love Island is vir elke deelnemer om ’n maat te vind in die luukse huis waar die groep saam woon sonder kontak met die buitewêreld. Die deelnemers is dus ook gewoonlik aantreklike, slanke of gespierde enkellopendes wat die meeste van die dag in hul baaibroeke deurbring.

Gedurende die reeks word nuwe deelnemers bygevoeg en sommige uitgeskakel.

Die paartjie wat aan die einde van die reeks die publiek se gunsteling is, wen R1 miljoen.

DStv het Maandag in ’n verklaring gesê hy is trots daarop dat sy programme, wat Love Island insluit, diversiteit en insluiting weerspieël.

“Kykers kan verseker wees dat dit in die toekomstige episodes van Love Island SA duideliker sal blyk.”

M-Net het nie reageer op versoeke om kommentaar nie.

Love Island SA word daagliks om 21:30 op M-Net (DStv-kanaal 101) uitgesaai.


Meer oor:  Love Island
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.