Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
‘Brandkluis’-aanbieder Marinus Wijnbeek dood
Marinus Wijnbeek destyds as aanbieder van die wetenskapprogram “Brandkluis”.

Die wetenskaplike, oudjoernalis van die SAUK en televisie-aanbieder Marinus Wijnbeek (80), bekend om die wetenskapprogram Brandkluis, is Sondag in Nederland oorlede.

Die Nederlands gebore Wijnbeek het sedert 1996 saam met sy vrou, Annatjie, in Hoevelaken gewoon.

“Marinus kon ses tot agt minute lank sonder ophou praat, sy gedagtes was agtermekaar. Onthou, dit was die tyd voordat ’n mens maklik kon redigeer. Hy kon deur ’n program van 24 minute seil. Hy was briljant, en kon sy enorme kennis op ’n opwindende manier oordra,” het Jan Horn, regisseur van Brandkluis, gesê.

Brandkluis was sowat ’n jaar op die kassie en vier reekse van 13 episodes elk is uitgesaai.

“Ons het destyds saam by die Wits Technikon gewerk. Ek het hom daar gevra of hy ’n aanbieder wou word, want hy was goed met die studente. Hy had ’n enorme kennis en was ook lief vir die astronomie.”

Volgens Horn is al die Brandkluis-episodes op YouTube gelaai en kry dit steeds aftrek.

Hy onthou Wijnbeek as ’n gewaardeerde kollega en vriend, sê Riaan Cruywagen, oudnuusleser en televisieaanbieder.

“Ons het oor en weer gekuier voordat hy terug is Nederland toe. Sy absolute passie was die wetenskap, en hy het dit as doel gehad om wetenskap op ’n aangename en prettige manier by kinders tuis te bring. Sy aanslag met die moeilike vak was aansteeklik, ook vir ouer mense,” het Cruywagen Sondag uit Mosselbaai gesê.

Wijnbeek is in Den Haag gebore. Die gesin het in 1949 na Suid-Afrika geëmigreer. Hy het ’n BSc-graad met chemie en fisika as hoofvakke aan die destydse Universiteit van Potchefstroom behaal. Later sou ’n BA-graad met geskiedenis en staatsleer as hoofvakke volg, asook ’n honneurs in staatsleer aan die Randse Afrikaanse Universiteit. Hy was as lektor in die wetenskappe aan die destydse Witwatersrand Technikon, Kempton Park en Vanderbijlpark verbonde.

Sy jongste dogter, Jolanda Cloete-Wijnbeek, het die nuus van sy afsterwe met Netwerk24 gedeel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.