Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
Britse TV het waarde
Kerneels Breytenbach

Nog nooit was ek só dankbaar vir die tydsverskil tussen Suid-Afrika en Amerika as met die TV-debatte tussen Donald Trump en Hilary Clinton nie. Dit moet hel wees om die debatte volledig te bekyk – maar dit is onverdunde plesier om soggens gou op CNN te kyk na sy opsomming daarvan.

Wat CNN se hantering van die debat veral goed maak, is die gebruik wat hy nou het om be­werings wat die twee kandidate maak, veral Trump, blitsvinnig te laat kontroleer om te sien of dit die waarheid is.

Dit sê nogal baie van die vlak waarop vanjaar beweeg word. En ewe betekenisvol is die feit dat dit nog net Trump is wat op hierdie manier aan die kaak gestel is.

Daardie feitkontroleerders gaan ’n swaar taak voor hulle hê met die derde debat, waarin Clinton hopelik die een en ander by Trump gaan probeer verneem oor sy idee van hofmakery en of hy hom as ’n ware heer sal beskryf.

Sedert die eerste debat tussen die twee het die waters rondom hulle werklik onstuimig geword. Trump se jongste eis, naamlik dat Clinton vir dwelmgebruik getoets moet word voordat hulle voor die kameras uitstap, is ­sekerlik die mislikste poging tot karaktermoord wat ’n Amerikaanse presidentskandidaat tot nog toe gemaak het.

Ek wonder wat Trump sal doen as Clinton inwillig om so ’n toets te ondergaan op voorwaarde dat Trump eers sielkundig geëvalueer moet word.

Gewis nie ons kerk se mense nie.

In skrille kontras hiermee is die TV-reeks Madam Secretary, wat nou sy derde seisoen op DStv beleef. Die minister van buitelandse sake is in hierdie geval Téa Leoni.

Sy is nie net mooier as enigiets wat die werklikheid nog opgelewer het nie (Clinton inkluis), maar sy het ook die verleidelikste stem wat ek nog ooit op TV gehoor het.

Sy praat asof sy ’n padda in haar keel het nadat sy jou die hele aand leer soen het en jy dit nooit heeltemal bemeester het nie.

Dit is sanerend om te dink dat alles wat in Madam Secretary gebeur ’n ouwêreldse sjarme sal hê as Trump ooit president word.

In die reeks speel Keith Carradine die rol van die president. “Buffel” is nie ’n woord waarmee ’n mens hom ooit sou beskryf nie, en so ook nie “ghwar”, “ploert” of “robbies” nie.

Die werklikheid is altyd aakliger as TV-reekse.

En tog kom die twee soms onverwags bymekaar.

Kyk ’n mens na een van die jaar se debuutreekse, Bull, sit jy heeltyd in jou agterkop met die besef dat die reeks gegrond is op die lewe en ondervindinge van dr. Phil McGraw – einste hy wat ons aanvanklik via Oprah bereik het.

McGraw het beroemd geword danksy die werk wat hy en sy firma gedoen het as konsultante by groot verhore. Dr. Phil se eweknie in die reeks word vertolk deur Michael Weatherley, wat 12 seisoene lank die rol van DiNozzo in NCIS vertolk het.

Hopelik bring Weatherley en dr. Phil hope geluk met hulle saam.

’n Vorige reeks met ’n soortgelyke verwysingsveld, Lie to Me, het net drie seisoene lank gehou, toe is dit oor die muur.

Ek wonder of die Amerikaners se oordadigheid nie uiteindelik veroorsaak dat reekse sneuwel nie. Mense raak sat daarvan om ’n kwartaal lank (13 episodes) na presies dieselfde formule te kyk.

Maar as die Britte op dieselfde skaal iets doen, het dit omtrent ewigheidswaarde.

Silent Witness van die BBC is nou op DStv in sy 19de seisoen. Die spelers word elke paar jaar deur nuwes vervang, en tans is Emilia Fox die middelpunt van forensiese uitnemendheid en skugter sensualiteit.

Ek moet egter beken daar was al oomblikke dat ek gewens het sy moet Die Donald op die tafel voor haar kry.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.