Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
BSV: Dié paartjies het die paal gehaal

Net twee paartjies wat kykers tydens die dertiende seisoen van Boer soek ’n vrou op kykNET leer ken het, is steeds bymekaar, maar ’n hele klomp van die ander het ook nuwe liefde gevind.

Richann en René van Vredefort in die Vrystaat en Niel en Chereze van Grabouw in die Wes-Kaap kon die spreekwoordelike wa deur die drif trek en is steeds bymekaar ná Donderdagaand se reünie-episode.

Niel en Chereze. Hulle is steeds ’n paartjie. Foto: Donna Lewis

Dié episode is reeds in Desember opgeneem en daar is sedertdien heelwat verwikkelings op die plase.

Niel het vroeër vanjaar uit Grabouw getrek en op ’n vrugteplaas buite Prince Alfred Hamlet naby Ceres in die Wes-Kaap begin werk. Hy en Chereze het saam by die reünie opgedaag en is nou, bykans vier maande later, steeds ’n paartjie.

“Dit gaan met my en Chereze baie goed,” sê hy. “Ons het al gepraat oor die volgende stap en is besig om te werk aan ’n paar nuwe planne vir ons. Liefde het beslis gewen.”

Richann, met sy voorliefde vir musiek, en pasmaat René het sommer vinnig hul verhouding amptelik gemaak en ná Donderdagaand se episode bekend gemaak dat hulle hul eerste enkelsnit onder hul verhoognaam Reën gaan bekend stel.

Richann en René wat nou as die musiekgroep Reën bekend staan. Foto: Donna Lewis

Dit sal Donderdagaand  beskikbaar wees op Netwerk24 en Vrydag op alle digitale platforms.

Déan (29) van Mbombela, Mpumalanga, het in Donderdagaand se episode gesukkel om die trane te keer toe hy praat oor wat skeefgeloop het tussen hom en Marné. In verlede week se episode het hulle nog gesoen, maar is nou uitmekaar.

Hy sê sy het steeds baie eienskappe wat hy in ’n lewensmaat wil hê, “maar daar is net iets afwesig”. Marné het gesê sy is bly sy het Déan ontmoet. “Ons is vriende en dit is reg.”

Intussen het Déan laat weet dit gaan goed met die liefde nadat hy Megan, wat in sy topdrie was, nou byna ’n maand lank ’n paartjie is.

Déan het haar eerste huis toe gestuur nadat die vroue op die plaas kom kuier het. “Dit gaan regtig goed. Ek is baie gelukkig,” het hy gesê.

Kobus (53) van Randfontein, Gauteng het Nastassja, die vrou waarvan hy in die vorige episode gepraat het, saamgebring na die reünie en haar aan die ander boere en hul pasmaats voorgestel.

Kobus en Nastassja wat saam by die reünie was, maar nie nou meer bymekaar is nie. Foto: Donna Lewis

Dit is die vrou wat vir hom ’n boodskap gestuur het wat hom “geruk” het.

Hulle het meer vertel oor hul ontmoeting, glo nadat Maxie en Lynette weg is van die plaas af, en Kobus het gesê: “Sy is die vrou wat ek aan my sy wil hê. Sy verstaan my. “Sy maak bitter lekker kos. Ons kan oor enigiets praat.”

Kobus het tydens die episode gesê hulle twee “gaan nog lank saam wees”, maar Donderdag het dit bekend geword dat hy en Nastassja, wat met 17 jaar verskil, besluit het om net vriende te wees.

Déan en Megan voordat hy haar huis toe gestuur het. Hulle is nou ’n paartjie.

Albert (25) van Clanwilliam in die Wes-Kaap het alleen by die reünie opgedaag nadat Marlia besluit het om nie te kom nie. Albert het erken dat sy gevoelens vir haar nie so sterk was soos haar gevoelens vir hom nie.

Hy het ook, soos Déan, intussen weer uitgereik na iemand wat hy reeds huis toe gestuur het. Hy het vir Chanté K, wat in sy topvyf was, ’n boodskap op Instagram gestuur toe sy in die Kaap was en sy het laat weet sy gaan na die provinsie verhuis.

Chanté het in Pretoria gewoon en het haar B.Rek.-klerkskap verlede jaar voltooi. “Ek het by haar gaan kuier en sonder al die kameras kon ons mekaar beter leer ken,” sê Albert. “Van daar het die dinge gebeur.”

Nog boere vind liefde

Van die vyf boere wie se soeke na liefde nie op die program uitgespeel het nie, het ’n paar op hul eie liefde gevind.

PF (30) van Laingsburg in die Wes-Kaap het Chantelle ontmoet nadat sy vir hom ’n brief geskryf het, en hulle meen hulle is oor mekaar se pad gestuur.

Boer PF en Chantelle. Hulle is steeds ’n paartjie. Foto: Donna Lewis

“Ek en Chantelle is nou al amper sewe maande saam,” sê PF. “Sy het nader getrek en hou nou skool hier en ons al twee is opgewonde oor wat die toekoms inhou. Ek is honderd persent oortuig ek het die regte een raakgeloop.”

Ook Stephan (40) van Lichtenburg, Noordwes het verklap dat die liefde al amper blom nadat ’n plaaslike vrou van Lichtenburg na hom uitgereik het.

Hulle het op afsprake gegaan, maar hy het haar nie na die reünie gebring nie. Selfs tot nou toe is hulle twee nie “op die ernstige liefde-fase nie”.

Chanté K (in geel) saam met wie Albert nou kuier. Sy het nie sy topdrie gehaal nie.

Hannes (52) van Kroonstad en Marthinus (25) van Arlington, albei in die Vrystaat, het alleen vir Marciel tegemoet geloop by die reünie en gesê hulle het die afgelope seisoen al hul tyd aan die boerdery spandeer en nie genoeg tyd gehad om liefde te vind nie.

Hannes het laat weet hy het intussen iemand ontmoet wat vir hom ’n brief geskryf het en Marthinus het ook “enetjie saam met wie hy kuier”.

Marthinus sê dit is ’n langafstandverhouding en hulle het nog net twee keer in persoon gekuier. “Ek wil nog nie sê wat haar naam is nie, want dis nog in die begindae,” sê hy.

Al het Mathys (25) van Dullstroom in Mpumalanga kontak behou met Irené, die vrou wat Marciel en Mathys gebel het nadat hy sy briewe ontvang het, het dinge nie tussen hulle uitgewerk nie.

“Op die oomblik is ek enkellopend. Ongelukkig het dinge nie uitgewerk soos ek gehoop het nie, maar daar is ’n plan vir alles.”


Wil jy liefde vind?

Inskrywings vir boere vir seisoen 14, wat van Januarie 2022 uitgesaai word, maak direk ná die reünie-episode oop. Boere kan op die volgende maniere inskryf:

• Besoek www.kyknet.tv

• Bel Marche Media by 079 335 5137

• Stuur ’n e-pos na boer@marche.media (let wel .media en nie .com of .co.za nie)

Marciel Hopkins, die aanbieder van die 13de seisoen. Foto: Donna Lewis
Meer oor:  Reeks 13
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.