Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
Camilla Waldman ná lang stilte weer op TV

Die aktrise Camilla Waldman het Maandag ná ’n lang stilte weer op televisie verskyn toe sy in die M-Net-telenovelle Legacy as die Griekse Dimitra haar seun en sy verloofde in hul huis verras het.

Dit nadat haar seun, Jonno (Richard Gau), Petra (Trix Vivier) onkant gevang het met sy skielike huweliksaansoek en sy boonop in die arms van haar vorige kêrel beland het.

Camilla Waldman as Dimitra in ‘Legacy’.

Dimitra, wat in Mbombela in Mpumalanga woon, het ’n groot hart, maar is vurig. Sy daag op met ’n mandjie vol Griekse fyngebak. Sy reik (met ope arms) uit na Petra, wie sy vir die eerste keer ontmoet.

Dimitra het groot bewondering vir haar seun, wat haar nou die eerste keer van sy liefdeslewe vertel het. Daarom wou sy graag die vrou ontmoet wat haar seun se hart gesteel het.

Waldman, wat voorheen in die SABC 1-sepie Generations: The Legacy verskyn het, het dadelik weer tuis voor die kamera gevoel.

“Ek sien die akteur se bydrae om die storie te vertel as die medium wat lewe in ’n karakter blaas, die vermoë om in ’n ander mens se skoene te staan. So is dit ook voor die kamera. Dit is die medium van uitdrukking.”

Waldman het vroeër vanjaar in die solostuk Rose in die Markteater in Johannesburg opgetree, en het aan twee flieks gewerk.

Sy het in 2018 in Sylvaine Strike se produksie van die Franse dramaturg Molière (1622 tot 1673) se toneelstuk Tartuffe opgetree en ’n Naledi-benoeming as beste byspeler gekry.

Sy het hierin opgetree teenoor Neil McCarthy, wat ook in Legacy te sien is en een van die regisseurs is.

Camilla Waldman vertolk Jonno (Richard Gau) se Griekse ma, Dimitra.

“Ek is mal daaroor om in Neil se kreatiewe omtrek te wees. Hy is ’n begaafde akteur, skrywer en regisseur. Ek ken hom al lankal en daardie gedeelde ervaring maak dit gedetailleerd, lekker én ’n uitdaging om saam met hom te werk, maar daar is altyd humor. Hy is baie gevat.”

Legacy word Maandae tot Donderdae om 19:30 op M-Net (DStv-kanaal 101) uitgesaai.

Meer oor:  M-Net  |  Legacy  |  Telenovelle  |  Televisie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.