Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
Casper val (weer) kort voor nuwe TV-reeks begin
Casper de Vries

Die komediant Casper de Vries het hom weer te pletter geval – dít nadat hy in Desember 2018 tydens ’n nagwandeling in Linden geval en homself pimpel en pers beseer het.

“Ek het nie korona nie,” het De Vries oor die jongste voorval geskerts, “maar ek het geval, so alles in my lyf voel asof dit stukkend is. Ek is op spierverslappers en allerhande k**.”

Hy sê hy sterk nou by vriende aan.

Die grapjas was ondanks sy fisieke pyn vol woema toe hy oor sy nuwe TV-reeks op kykNET, Cas oppie kassie, gepols is, wat hy as een van die hoogtepunte van sy lewe beskryf.

“Ek is baie, baie, baie, baie trots op Cas oppie kassie. Ek dink dit is ’n baie, baie goeie reeks en almal wat daaraan deelgeneem het, is regtigwaar die beste, amazing mense.”

Die program is op die oppervlak beskou soortgelyk aan sy nou legendariese TV-reeks Die Casper Rasper Show, wat tussen 2001 en 2003 uitgesaai is, en Casper Rasper Weer, wat in 2009 gevolg het, maar daar is ook groot verskille, sê hy.

“As ek kyk na Die Casper Rasper Show se eerste reeks en Cas oppie kassie is daar ’n helse verskil, maar dit is steeds eg ek – die kern van my talent is steeds daar,” sê hy.

“Dit moet ek vir kykNET gee, die lof, dat hulle gesê het ek moet myself bly, want die mense (kykers) het baie koekerig geraak die afgelope tyd. Mense haat my en dink ek is die Satan self, maar daar is baie mense wat op straat gevra het dat ek asseblief weer ’n show moet doen – en kykNET was bewus daarvan.”

De Vries span ook weer sy uithalerhumor in die reeks in, wat hy sê ook verander het maar steeds eg hý is.

“Ek dink humor verander en evolve soos enige mens. Dit stagneer nie, want as dit stagneer is dit onvrugbaar en staan stil en dan gebeur daar niks nie. Maar op die einde van die dag probeer jy net jouself wees en my humor is dalk kru en op die man af, maar dit vertel die waarheid en daarvan hou ek.”

Hy sê met hierdie reeks, 20 jaar ná Die Casper Rasper Show, is daar steeds elemente wat mense dalk kan skok, veral mense wat deur eendimensionele vermaak gesus is.

“Maar ek het gevoel dis tyd – daar’s een plek vir my en dis kykNET, want dis waar ek begin het, dis waar ek ’n rebel was, dis waar ek uitgestaan het en die stout kind was van die kanaal en ek is dit hierdie keer weer.”

Die reeks (Cas oppie kassie) is ook een van die eerste Afrikaanse programme wat ’n animasie-insetsel, Con se storie, insluit.

Die komediant het talle van sy geliefste karakters in sy vorige twee TV-reekse, onder andere oom Kallie Marie en Montelle, in die nuwe reeks herwin, maar hy het sy repertoire ook met nuwe karakters aangevul.

“Daar is ’n aanbieder van ’n Survivor-agtige Groot Trek-werklikheidsreeks, en dan is daar Greta, wat gegrond is op die Sweedse klimaatsaktivis, en Giselle, wat in haar element in haar seksvertoning is.”

Die reeks is ook een van die eerste Afrikaanse programme wat ’n animasie-insetsel, Con se storie, insluit.

“Ek wou nog altyd ’n animasiereeks vir kykNET gemaak het, maar dit is net te duur, veral in Afrikaans – jy verkoop dit nie aan 26 ander lande wat Engels praat nie.”

Hy sê hy doen al die stemme self, hy het die storie self geskryf en dit kyk met deernis na die konserwatiewe en verligte deel van die Afrikaner.

“So Ds. Con is die hoofkarakter se naam en dit is sy storie, maar ’n konsistorie is natuurlik ook die gebou aan ’n kerk waar die dominee werk, so dis ’n lekker woordspel.”

De Vries sê hy wil graag deur die reeks wys dat “humor nie gebonde is aan Afrikaans nie – dit is Suid-Afrikaans”.

“Ek het onlangs tydens die pantomime (Jack and the Beanstalk) met soveel swart akteurs gewerk wat ek ook in Cas oppie kassie gebruik het en hulle is amazing mense. Dit (die reeks) wys regtig Suid-Afrikaanse humor soos wat jy nog nooit elders gesien het nie – en ek is so trots daarop.”

  • Cas oppie kassie word vanaf 6 April elke Maandag om 20:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai.
Meer oor:  Kyknet  |  Dstv  |  Komedie  |  Tv  |  Casper De Vries
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.