’n Christelike TV-pakket wat op die Netflix-model geskoei is, word volgende maand van stapel laat loop.
Die nuwe pakket genaamd RoepTV.com sal op 1 September beskikbaar wees.

Nico Panagio
“Ná ’n jaar se harde werk het ons ons droom bewaarheid,” sê Hardus Zevenster, hoof van RoepTV.
“Ons beoog om mense met die inhoud van RoepTV te inspireer.”
Dit sal R149 per maand kos om by RoepTV in te teken. Soveel as vyf toestelle kan op die diens ingeteken word, wat onder meer op Android- en IOS-toestelle beskikbaar sal wees. Selfs mense met analoog-TV’s sal kan inteken, aangesien ’n “slimboksie” beskikbaar sal wees wat RoepTV op hierdie ouer TV’s bruikbaar sal maak.
Wat die inhoud betref, sê Zevenster allerlei programme soos komedies, dramas, dokumentêre programme, Bybelverhale, programme vir kinders en flieks sal beskikbaar wees. Baie van die programme sal plaaslik vervaardig word.
“Ek en my vrou ondervind dikwels dat ons nie op die ander TV-kanale iets vir ons kinders kry om te kyk nie en ek sien uit na die inhoud wat op RoepTV beskikbaar sal wees,” se Nico Panagio, wat ook op RoepTV te sien sal wees.
Ander bekendes wat te sien sal wees, sluit onder andere Lindie Strydom, Retief Burger, Michael Mol en Frank Raubenheimer in.
“Waar ander kanale dikwels nie verantwoordelikheid neem vir die inhoud van hul programme nie, neem ons by RoepTV 100% verantwoordelikheid vir die inhoud wat ons uitsaai,” se Zevenster.
“Die strewe is om ’n baken van hoop, geloof en betekenis te wees in ’n wêreld wat verwoes is deur chaos, wantroue en woede.”