Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
Clive Scott: Spirituele mens wat almal laat lag het

Die akteur Clive Scott (84), wat Woensdag aan hartversaking dood is, word as ’n nasionale skat beskou.

“Hy het beslis sy stempel afgedruk,” sê die akteur Anthony Fridjhon.

Clive Scott

“Ons het veral baie in radio saamgewerk. Dit was die dae van Springbok Radio. Ek het baie episodes van die reeks Squad Cars geskryf. Hy was nie grootdoenerig of spoggerig nie. Hy was ’n lekker ou. Hy was ook ’n baie spirituele mens.

“Ek het net vandag (Donderdag) met Petru (Wessels, die aktrise) oor hom gepraat. Hulle het maande lank saam aan ’n reeks gewerk.”

Dié reeks was River Horse Lake met David Lister as regisseur.

Wessels en Scott het ’n egpaar vertolk.

“Dit was een van die lekkerste reekse waarvan ek deel kon wees,” sê Wessels.

“Dit was heerlik om saam met Clive te werk. Hy was ’n mens-mens en so gemaklik, dog toegewyd, met ’n heerlike humorsin. Ek het nie besef hy was siek nie. Dit voel soms asof ons daagliks geliefde kollegas en vriende moet groet, soos kerse wat die een ná die ander uitgeblaas word, maar die herinneringe bly.”

Die akteur Clive Scott was dekades in die toneelbedryf. Foto: Argief

Scott het ’n geruime tyd met ’n hartkwaal geworstel.

Hy het in Kensington in Johannesburg gewoon en in reekse soos The Villagers en die destydse SABC 3-sepie Isidingo verskyn.

Die aktrise Karin van der Laag, wat die rol van Maggie vertolk het, was van 1998 tot in die 2000’s saam met Scott in Isidingo.

“Ek onthou hoe saggeaard hy was. Hy het waardigheid gehad en was besonder spiritueel. Hy het my ook die beste raad gegee wat ek nóg gekry het. Hy het my palm gelees en gesê ’n klein krisis moet my nie laat ontspoor nie. Hy kon my angs as jong akteur sien en wou my kalmeer. Hy het opgemerk dat ek probeer om in te pas en mense tevrede wil stel, en sê toe: ‘Why would you want to be part of the common horde?’ Dit het my laat lag. ’n Goeie man, ’n gentleman, ’n uitstekende komediant en hy het beslis nie teen ouderdom gediskrimineer nie. Ek was baie lief vir hom.”

Magda Beukes het sy vrou in The Villagers vertolk. Hulle was die Dixons.

“Ons het baie lekker saam komedie gespeel. Daar was ’n baie goeie interaksie tussen ons. Dit was baie besonderse jare – ons was baie na aan mekaar, die hele Villagers-familie. Almal was beskermend teenoor mekaar.

“Dit was lekker jare, genugtig. Ek onthou die episode waarin hy met ’n skilpad by die huis aangekom het. Nou vra ek hom wat wil hy nou met die skilpad doen?

“En natuurlik maak die skilpad dan ’n plassie. Baie onskuldige en cute tonele, en sy karakter was beautiful.”

Magda Beukes en Clive Scott het ’n egpaar in ‘The Villagers’ vertolk.

The Villagers was een van die eerste reekse op Suid-Afrikaanse televisie. Die eerste seisoen is in 1976 uitgesaai, waarna nog twee sou volg.

“In die storie was ek in ’n stadium verwagtend. Ek moes ’n kussing dra, soos die babatjie groei. En sy reaksie op die babatjie was so mooi.

“Ek kan nie onthou waar haar (Beukes se karakter) baba se geboorte was nie. Maar nou soek ons ’n baba wat rooi hare het. Want Ma het rooi hare en nou moet die dogtertjie ook rooi hare hê.

“Toe gebruik ons (die aktrise) Lerina Erasmus se seuntjie. Die baba is eintlik ’n dogtertjie, maar Lerina het gesê niemand sal weet nie. En kan jy glo, die mense het vir ons babakleertjies na die SAUK-ateljee gestuur.

“Clive was baie liefdevol, baie caring. En natuurlik ’n absolute nurturer. Hy was altyd besig om te help as mense siek is en om om te gee. Ja, ek is hartseer oor ons verlies.”

Eddie Eckstein, Clive Scott en James Borthwick in ‘Oh George!’. Foto: Argief

Scott is op 4 Julie 1937 as Robert Clive Cleghorn in Johannesburg gebore. As kind het hy sy pa aan die dood afgestaan, waarna sy ma na Kaapstad verhuis het.

Scott het as jong man in Zimbabwe (destyds Rhodesië) en later in die Verenigde Koninkryk gewoon. Hy het aan die Webber Douglas Academy of Dramatic Art gestudeer, in die Agatha Christie-toneelstuk The Mousetrap opgetree en in ’n episode van die Britse wetenskapsfiksie-reeks Doctor Who verskyn.

Gray Hofmeyr, skepper van Isidingo, was gaande oor Scott.

“Hy het die gevoel vir komiese tydsberekening gehad. Hy het nooit die geloofwaardigheid van sy karakter verloor nie. Ek onthou ’n dag op stel van The Villagers waar hy op en af geloop en sy woorde opgesê het. Ek het daar gesit, bietjie verlore in die oomblik.

“Ek het gedink, heng, dit was ’n mooi aktrise wat gister op die stel geloop het en soos ek dit gedink het, het Clive dit hardop gesê.”

Die aktrise Anne Power onthou die komiese sy van Scott.

“Mense moenie vergeet hoe snaaks hy was nie. Hy en Bill (Flynn, die akteur met wie Power voorheen getroud was) kon sulke onsin kwytraak.

“Hy het ’n skertsende manier gehad. Hy kon met lawwe sêgoed vorendag kom. Hy het nie in sy eie publisiteit geglo nie. Hy was baie nederig. Hy wou eerder gee. Niks was ooit ’n probleem wat te groot was nie.”

Scott word oorleef deur sy vrou, Margie, drie kinders, Thomas, Gudrun en Luke, 'n aangenome seun, Brian (ook bekend as Lufuno), en drie kleinkinders, Jude, Laird en Hannah.

Meer oor:  Televisie  |  Huldeblyk  |  Akteur  |  Hartversaking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.