Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
Cobus Rossouw se ‘groot uitdaging’ in ‘Binnelanders’

Met sy terugkeer na die televisie in die kykNET-sepie Binnelanders vind die akteur en regisseur Cobus Rossouw jnr. toneelspel die moeilikste dissipline van alles wat hy al aangedurf het.

Cobus Rossouw jnr. as dr. Hugo Vos in Binnelanders. Foto: Binnelanders

“Ek het besef ek het sake wat nog nie afgehandel is nie wat my spel betref,” sê Rossouw wat die rol van dr. Hugo Vos, ’n neurochirurg wat ’n pos in die Binneland-kliniek se onkologie-afdeling aanvaar het, vertolk.

“Ek het nooit gedink ek het heeltemal die mas opgekom nie. Dis vir my ’n massiewe uitdaging by Binnelanders om by ’n drama van die een of ander aard betrokke te wees.”

"Ek wou Gerrie Nel wees . . ."

Hy was in die 1990’s op televisie in reekse soos Glaskasteel en Sleurstroom, en was later regisseur van Villa Rosa, kykNET se eerste sepie, en die kykNET-reekse Kruispad en Getroud met rugby.

Sy ouers is die akteurspaar Cobus Rossouw en Sandra Kotzé, maar hy het nie aanvanklik ’n loopbaan in die bedryf beplan nie.

Cobus Rossouw jnr.Foto: Binnelanders

“Ek het as student aanbiedinge gekry om in reekse te verskyn. Ek het B.Com (regte) aan die RAU (nou die Universiteit van Johannesburg) gestudeer. In daardie stadium was ek baie toegewyd om ’n advokaat te word. Ek wou Gerrie Nel wees . . .

“Ek het nie gedink ek gaan in my ouers se voetspore volg nie,” sê Rossouw, wie se susters, Wilmien en Susan, ook in die bedryf werk.

“Daar was egter iets bevrydend omtrent die medium van kameras. Dit het my nogal gestimuleer, want daar was ’n wiskunde én ’n kuns daaragter.”

Ná regte het hy drama in Londen gaan studeer. “Ek het dit half agterstevoor om gedoen.”

Sy visier was op regie en vervaardiging.

Nadat hy na Suid-Afrika teruggekeer het, het hy onder meer by die produksiehuis Urban Brew gewerk en opleiding by die destydse M-Net-sepie Egoli: Plek van Goud gekry.

“Ek het meer gehou van die reikwydte van om by ’n storie en kamera en produksie-ontwerp betrokke te wees. Dit maak soveel dissiplines oop.”

Rossouw, die pa van drie kinders tussen twee en ses, speel vir minstens die volgende nege maande in Binnelanders.

Sy karakter het lank in Amerika gewerk en hy het ’n bietjie van ’n donker verlede. Hy blyk nie baie vriendelik te wees nie en hy sal stellig ’n bietjie van ’n opskudding veroorsaak.

“Daar is ’n negatiewe geskiedenis tussen my en Ilne Nienaber (Elana) se karakters. Dit is nogal verspot, want ek is so lief vir Ilne as mens. Ons het saam by Villa Rosa gewerk. Dis nogal interessant om in daardie storielyn in te gaan.”

Cobus Rossouw as jong speler in die reeks Glaskasteel.

Gedurende sy grootwordjare het hy altyd aanvaar toneel is sy ouers se wêreld. “As kind was ek so trots op hulle as ek dink aan die toneelstukke wat ek gesien het. Die emosionele gevoel daaraan.”

Rossouw moet egter sy linker- én regterbrein voed.

“As ek net aan die een kant aandag gee, voel ek so ’n bietjie van balans af. Dis hoekom dit vir my altyd lekker was om regisseur te wees, want daar is ’n kreatiewe gedeelte en dan is daar die baie logiese, meer wiskundige aanslag. En vir my was dit altyd die lekkerste gedeelte wanneer jy daardie logiese en emosionele aspekte kon saamvoeg. Dan was ek happy.”

* Binnelanders word weeksdae om 19:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai.

Meer oor:  Kyknet  |  Gerrie Nel  |  Sandra Kotzé  |  Cobus Rossouw  |  Cobus Rossouw Jnr.  |  Sepie  |  Televisie  |  Binnelanders
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.