Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
‘Crown’ op Netflix is sjarmant
Kerneels Breytenbach

Amazon Video is besig om TV-kykers dwarsoor die wêreld ’n idee te gee van die rigting waarin kykvermaak beweeg. Met lidmaatskap van Amazon ­Prime TV kan ’n mens tans kyk na Jeremy Clarkson, ­Richard Hammond en James May se The Grand Tour – die enigste lewensvatbare vervolg op Top Gear.

Nadat Clarkson en die BBC ’n uitval gehad het, het Amazon die blink idee gekry om die program ’n bietjie turbokrag te gee en dit in ultrahoë definisie af te neem. Ja, ons kan nog ou en flou gekykte episodes van Top Gear op DSTv se kanaal 120 kyk, tot satwordens toe, maar The Grand Tour is die ware Jakob.

In episode twee van die nuwe reeks kon ons die ander ­Jacob, ons eie hoogs gewaardeerde president, meneer Zuma, in aksie sien. Die episode had as basis ’n ateljee wat opgerig is op ’n beboste koppie by die Wieg van die Mensdom, wes van Johannesburg. Die ateljeegehoor was almal Suid-Afrikaners, min of meer demografies verteenwoordigend van daardie deel van die bevolking wat goeie smaak het in motors.

Hulle het hul kis gelag vir die TV-insetsel oor meneer Zuma wat nie so lekker syfervaardig is nie, en ewe luidkeels gereageer op ’n insetsel oor die soort motorsport wat saans in die strate van Johannesburg aan die gang is. Donuts, baie rook en rubber, asook die massiewe houdings aan die kant van ons knapste motorbestuurders.

Clarkson-hulle kon hulle ook nie weerhou van ’n bietjie onopregte bewondering vir al die zef-permutasies wat plaaslike motorfoendi op die gewone BMW het nie. Daar was selfs een wat met denim oorgetrek is.

Wat my heelwat plesier gegee het, was om in baie goeie hoë definisie te sien presies hoe Clarkson-hulle lyk. Die lenige Clarkson is op pad na ’n stewige boepmaag. Hammond probeer sy plooie wegsteek agter ’n moestas en bokbaard. James May, die denkende man se karghoeroe . . . wel hy is sigbaar aan die verkeerde kant van elegante jeugdigheid.

’n Ander klomp Britte het my ook die laaste weke voor die TV vasgepen. Netflix se reeks The Crown, wat handel oor die lewe en probleme van koningin Elizabeth II. ’n Mens moet jou Netflix-voetwerk gedoen het, maar sodra jy die episodes begin kry, is daar werklik min anders wat jou só kan vaspen.

Daar is ’n paar dinge wat ’n mens eers moet internaliseer voordat jy kan swig voor die reeks se sjarme. Die grootste daarvan is die vertolking van prins Philip deur Matt Smith. Hy speel heeltyd met so ’n gegluur van onder sy wenkbroue, baie soos ’n stoute kind. Maar daar is ander akteurs wat sorg dat ’n mens die reeks se tien episodes in ’n naweek wil verorber. Claire Foy is baie oortuigend as koningin Elizabeth, en John Lithgow se voorstelling van Winston ­Churchill is absoluut indrukwekkend.

Die ster van die reeks is Peter Morgan, draaiboekskrywer en regisseur. Die verstommendste inligting is dat die vrou wat nou al soveel dekades lank in die openbare oog is, in ’n stadium ’n minderwaardigheidsgevoel gehad het oor haar intelligensie en gebrek aan behoorlike skoling. Dit is voor die dae van EQ (emosionele intelligensie), waarvan sy vrek baie het.

Daar is nog vier reekse in bewerking. Kan nie wag nie!

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.