Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
Daar’s ’n kinkel in die nuwe ‘Kokkedoor’

Soos wat Marinda Engelbrecht, Tiaan Langenegger en natuurlik tannie Poppie bekende name in kosmaakkringe én ons huis geword het, sal 30 nuwe deelnemers nou die kans kry om hul vernuf te wys en ’n storm los te kook in die nuwe reeks van Kokkedoor.

Sam Woulidge, Nic van Wyk en Hetta van Deventer is beoordelaars in die nuwe reeks van Kokkedoor.

Kokkedoor is binnekort terug vir ’n derde draai in die kykNET-kombuis nadat die eerste en tweede reeks in 2015 en 2016 uitgesaai is. Kokkedoortjie (vir jongelinge) was in 2017 op die kassie, en Koekedoortjie (vir jong bakkers) in 2018.

Kokkedoor word vanaf Donderdag 18 Julie om 20:00 op kykNET uitgesaai en dié keer trek die reeks ’n byderwetse “stadsbaadjie” aan.

“Vir die derde reeks gaan 30 deelnemers – 20 onthoukokke en tien kinkelkokke – hulle in Kaapstad aanmeld,” sê Nic van Wyk, ’n beoordelaar wat weer in dié reeks gesig gaan wys.

“Maar tien onthoukokke gaan sommer dadelik, ná die eerste episode se uitdaging, die trekpas kry,” sê hy.

“Tien spanne, wat elk ’n kinkel- en onthoukok as ‘bestanddeel’ het, gaan dit vir die Kokkedoor-kroon uitspook.”

Wat is ’n onthoukok?

Hulle is die fakkeldraers vir onthoukos en al het hulle nie formele sjef-opleiding en professionele ondervinding nie, klop hul hart warm vir tradisionele kos.

Vir inspirasie span hulle herinneringe en beproefde metodes van ma’s, oumas en tannies uit die huiskombuis in. Onthoukokke word gekies vir hul vernuf as ’n huiskok en hul kennis en passie vir onthoukos.

Wat is ’n kinkelkok?

’n Kinkelkok se uitdaging is om hul sjefkwalifikasies, professionele kombuiservaring en uitstekende tegniese vaardighede vir vernuwing in te span. Kinkelkokke word gekies vir hul kwalifikasies en/of hulle ondervinding in ’n erkende restaurant of professionele kombuis.

“Soos in die vorige reekse gaan die deelnemers ook weer diep in almal se hart kruip en die kykers gaan sonder twyfel saam lag en huil,” sê Van Wyk.

’n Ander beoordelaar, Sam Woulidge, sê almal sal Kokkedoor geniet.

Kokkedoor is ’n reeks wat by almal sal aanklank vind, of jy nou kan kosmaak of nie. Dit gaan oor ons almal se kosstories wat só deel is van wie mense is,” sê Woulidge.

“In die nuwe reeks sien ons as beoordelaars wonderwerke voor ons gebeur. Jy sien oor episodes heen hoe kos mense transformeer,” sê hy.

Hier is hulle!

Kinkelkokke

Anmar Wilding, Wellington

Annelize Visser, Woodstock

Danie du Toit, Kempton Park

Ilana Gossmann, New Castle

Pasch du Plooy, Heilbron

Pieter Malan, Witrivier

San-Marie Kotze, Bredasdorp

SJ Nel, Stellenbosch

Snoes Gildenhuys, Stellenbosch

William White, Hartswater

Onthoukokke

Georgina Damons, Knysna

Gerda Buter, Standerton

Gertals Smith, Mitchells Plain

Jaco Nel, Heidelberg

Lientjie Wessels, Cullinan

Madelein Roets, Philadelphia

Mariana Kotze, Standerton

Mariette Aucamp, Koffiefontein

Marlene Wessels, North Riding

Ralph Farmer, Krugersdorp

Rita Willers, Bloemfontein

Salome Froneman, Dundee

Sanette Louw, George

Sonja de Beer, Pretoria

Tino Williams, St. Helenabaai

Tippie Enslin, Randburg

Tossie van Rensburg, Caledon

Werner du Toit, Stilbaai

Wilhelmina Garcao, Bloemfontein

Zelda Els, Hopefield

    Meer oor:  Kokkedoor  |  Tv-Reeks  |  Kook
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.