Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
Daniels te sien in nuwe moordraaisel
Brendon Daniels speel Trevor Fortune in die Showmax-reeks ‘Skemerdans’.

Skemerdans, ’n splinternuwe moordraaisel wat in ’n jazzklub op die Kaapse Vlakte afspeel en handel oor ’n magstryd tussen twee broers, ’n versmaaide en ’n misdaadsindikaat, is van 28 April op Showmax te sien.

Brendon Daniels (Sara se geheim, Arendsvlei, Die Byl) is te sien as Trevor Fortune, die broer van die meer gewilde Glenn, eienaar van die Oasis-jazzklub, vertolk deur Kevin Smith (Isidingo, Arendsvlei).

Ephraim Gordon, mederegisseur, sê Daniels is dié keer die sensitiewe karakter en nie die bose ou, soos kykers hom in die meeste TV-verhale leer ken het, nie.

Amy Jephta, skrywer van Die storie van Ellen Pakkies, het saam met Gordon die reeks geregisseer.

Trudy van Rooy is te sien as Jessie Fortune in ‘Skemerdans’.

Daniels sê toe hy vir die rol genader is, was sy eerste vraag in watter tydgleuf Skemerdans uitgesaai gaan word. Hy het gedink dit is ’n TV-reeks en met ’n ouderdomsperk van 16 sou net ’n laataand-gleuf deug.

Hier vertel Daniels meer van homself en die reeks van 13 episodes.

Wat het jou aangetrek tot ‘Skemerdans’?

Eerstens is ek in die tyd van inperking genader en ek het werk nodig gehad. Maar ek sal darem nie enigiets aangryp nie. Ephraim was die regisseur van Sara se geheim en ek het gehou van wat hy doen. Ek wou graag weer saam met hom werk en het ook uitgesien daarna om vir die eerste keer saam met Amy te werk.

Skemerdans is ’n neo-noir-verhaal, wat nie ’n algemene genre is nie, maar die meeste mense sal hulle met die storie kan vereenselwig. Daarby het dit ’n kulturele Kaapse identiteit en die tonele is verfilm by die ikoniese Galaxy, ’n plek wat die bruin gemeenskap goed ken.

Ilse Klink in die rol van Shireen Fortune.

Wat is jou herinneringe van die Galaxy?

Ons klubjare was meestal die laaste twee jaar op hoërskool. Ek onthou dit as goeie tye omdat ons saam met vriende daar uitgehang het.

Vertel ons van Trevor, jou karakter in ‘Skemerdans’.

Ek beskou hom as die stereotipiese tweede kind wat aan homself oorgelaat is. Hy leef ’n eenvoudige lewe waarmee hy tevrede is, maar die druk om aan ander se verwagtinge te voldoen, kry hom onder. En omdat hy altyd probeer om ander tevrede te stel, is dit maklik om hom te manipuleer. Hy het egter geen kwade bedoelings nie. Hy wil net sy vrou gelukkig hou.

Jy het in talle trefferreekse gespeel, soos ook ‘Die Boland moorde’, ‘Trackers’, ‘Die boekklub’, ‘Four Corners’, ‘Five Fingers for Marseilles’. Is daar een rol waarop jy besonder trots is?

Four Corners. Dit handel oor ’n onderwerp wat juis op daardie tydstip uitgelig moes word. Jy sou kwalik toe ’n verhaal oor ’n gemarginaliseerde gemeenskap soos die Kaapse bruin mense gekry het en toe Four Corners verskyn, het dit die deur vir soortgelyke narratiewe geopen.

Vind jy dat jy as bruin akteur deesdae ’n groter verskeidenheid rolle aangebied word?

Ja, tog. Ek onthou hoe opgewonde ek was toe Louis Pretorius van Die boekklub my gevra het of ek ’n skoolhoof sal speel. Dit is nie ’n soort rol wat ons sommer kry nie, al is daar byvoorbeeld honderde bruin skoolhoofde.

Wat was jou ervaring van die inperkingstyd?

Uitdagend. As jy nie op stel is en saam met mense wat soos jy dink nie, is dit ’n eensame reis. Die situasie was oorweldigend, asook die beperkings wat dit meegebring het, maar dan is daar darem die kreatiwiteit in jou wat jou staande hou.

Ek is egter baie bly om weer my beroep te kan beoefen. ’n Mens mis interaksie met mense en dit geld nie net akteurs nie, ook die mense agter die skerms, die kameramanne, skrywers, regisseurs.

Akteurs wat ook deurgaans te sien sal wees, is Trudie van Rooy, Kim Syster, Vinette Ebrahim, Ilse Klink, Danny Ross, Ann Juries, Carmen Maarman en Sanda Shandu.

So sê ander akteurs

Klink sê wat haar na Skemerdans aangetrek het, is die feit dat dit oor ryk bruin mense gaan. Hulle is nie versukkeld nie; hulle lewe nie op die broodlyn nie. "Dit is belangrik dat bruin mense nie net as gangsters en ander stereotipes uitgebeeld word nie.”

Ebrahim, matriarg van die Fortune-familie, noem die Galaxy ’n “erfenis-plek van Kaapse jazz. Mense in my ouderdomsgroep het grootgeraak met die Galaxy. As die mure kon praat, sou hulle waarskynlik ’n klomp geheime verklap. Dit het vreemd gevoel om terug te wees – selfs die reuk van die plek is dieselfde en ’n mens herken die hoekies, jy weet watter tafel is watter een. Skemerdans gaan baie herinneringe terugbring.”

Van Rooy sê “dit was die eerste keer dat ek as ’n bruin aktrise in ’n professionele konteks gewerk het in 'n rolverdeling wat byna volledig bestaan het uit bruin spelers. Dit was absoluut fantasties. Ons is nog nie vantevore so op TV gesien nie.”

Meer oor:  Brendon Daniels  |  Ilse Klink
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.