Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
Dié 1ste 2 ‘Spreeus’ maak reeds ’n ysige winter

Spoke en bonatuurlike gebeure skuil om elke hoek in die nuwe dramareeks Die spreeus wat Dinsdag op kykNET begin.Hoewel die kykers se senuwees by tye sal knaag, is daar tog heelwat waarmee hulle hulself sal kan vereenselwig. AJ Opperman het ’n voorskou van die reeks se eerste twee episodes bygewoon en die Hertzog-bekroonde dramaturg Tertius Kapp oor sy nuwe reeks uitgevra.

Chris Vorster in Die spreeus

Die spreeus gaan by jou spook.

Met ’n onlangse voorskou van dié nuwe kykNET-dramareeks was dit duidelik dat spoke, fabels, bose skepsels en bonatuurlike gebeure die karakters en natuurlik die kykers in Tertius Kapp se jongste pennevrug die een na die ander raaisel gaan besorg.

Van Dinsdag af kan kykers die ontknoping van hierdie raaisels en dramatiese gebeure volg.

Die eerste twee episodes stel die kyker reeds aan ’n paar eienaardige karakters bekend, maar hoe later hoe kwater, blyk dit as ’n mens na die vervaardigers van die reeks luister. Die scenario’s en situasies word glo net al hoe erger en vreemder.

En jy sál skrik.

Die verskillende storielyne het almal ’n oorsprong in die geskiedenis, mites of fabels uit Suid-Afrika of Afrika.

“Hoe kan ’n mens ’n bonatuurlike reeks in Suid-Afrika doen sonder die tokkelossie, Antjie Somers en ’n bietjie Langenhoven?” vra Kapp, bekroonde dramaturg bekend om toneelstukke soos Rooiland en Liewer.

Jaco Bouwer is die regisseur.

“Die dooies is nie weg nie, die verlede is nie verby nie, die wêreld is nie so eenvoudig soos jy dink nie,” sê Kapp. “Daar is iets magies buite die gewone, rasionele perspektief.”

Met skitterende verfilming en musiek wat jou onraad laat vermoed, kom die eerste raaiselagtige karakter by ’n bouval die storie ingesluip. Dit is onmiddellik duidelik dat alles nie pluis is nie.

Wat maak sy hier met haar mantel en kappie op? En met wie praat sy?

Die eerste twee episodes is gegrond op C.J. Langenhoven se verhaal “Die bouval op Wilgerdal”.

Tertius Kapp

Chris Vorster, Sandi Schultz en Monique Rockman vertolk die speurders in elke episode.

Bongolethu Mbutuma is die enigste ander akteur wat deurlopend in die reeks verskyn.

“Ek het natuurlik baie nagevors, maar dit was van die lekkerste werk wat ek al moes doen,” sê Kapp.

“Die meeste stories trek op een of ander manier op bestaande verhale – en dit het ons almal ingekry by ’n oom of ’n ouma om die kampvuur. Daar is ook ’n paar wat verder noord kyk in Afrika en daarvoor was boeke oor mites en legendes baie handig. En dan het ek een of twee uit my duim gesuig, waarvoor die navorsing maar net tyd was.”

Kapp reken dit is ’n genre in Afrikaans wat nog nie behoorlik ontgin is nie.

“Soos in enige kultuur was mondelingse verhale ook die eerste in Afrikaans en hulle is dikwels spookstories. Stel jou voor hoe die mense op die plase mekaar bang gepraat het. En daai stories reis – daar is so baie elemente van Europese, Asiese en Afrika-tradisies wat langs mekaar beweeg! Dis onder meer hoekom dit so ryk is. Dis vir my ’n baie bevrydende genre wat deure oopmaak na ander wêrelde.”

Vir Kapp is die skep van spookstories baie moeiliker as monsterstories.

Chris Vorster en Sandi Schultz in Die spreeus.

“Jy moet die spook se agtergrondstorie en motivering behoorlik uitwerk. So jy moet eintlik verskeie stories met mekaar ineenvleg om een spannende lyn te skep. Wat dit baie lekker en spannend maak, is om vir jouself die tonele te verbeel. Ek skryf dikwels laat in die nag, op my eie . . . elke klankie begin ’n ander betekenis aanneem. Ek het myself lekker uitgefreak.”

Die hoofkarakters se persoonlike verhale verleen ’n meer “normale” aspek aan die storie wat baie geslaagd is. Kykers sal hulle hiermee kan vereenselwig.

Die storie bevat goeie dialoog, wat ook nogal skerp en snaaks by tye is.

Of die res van die reeks dieselfde daar gaan uitsien, is natuurlik ook nog ’n raaisel, maar wat tot dusver gesien is, is beslis ’n aanwins vir Afrikaanse televisie.

Dit laat ’n mens opnuut besef oor hoe ’n groot skatkis van stories ons vasteland werklik beskik.

* Die spreeus word Dinsdae om 20:00 op kykNET uitgesaai. Die reeks is ook op Showmax beskikbaar.

Meer oor:  Kyknet  |  Monique Rockman  |  Chris Vorster  |  Die Spreeus  |  Televisie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.