Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
Die naels kom uit vir Pasha op The Bachelor
Pasha nadat Marc vir haar ’n roos aangebied het.Foto: M-Net

In Donderdagaand se episode van The Bachelor op M-Net was dit duidelik dat Pasha (27) van Milnerton ’n groot teiken op haar rug het en dat die ander vroue wat om Marc Buckner se hart meeding, niks van haar hou nie.

In Donderdag se episode het die vroue en Marc ’n speletjie gespeel waar hy vir hulle vrae vra en hulle ’n ander vrou se naam moet neerskryf wat hulle dink daarby pas.

Pasha is uitgewys as die vrou wat almal dink met ’n ander man sal flikflooi terwyl sy in ’n verhouding is. Die ander vroue het ook gesê Pasha is jaloers en sal eerder tyd saam met haar vriende deurbring as saam met haar familie of kêrel.

Pasha het erg hierteen kapsie gemaak en gesê dat sy net twee vriende het. “As hulle my geken het, en eintlik met my gepraat het, sou hulle dit weet,” het Pasha gesê.

“Sy kom voor as ’n bedorwe brokkie en ek dink sy sal die eerste een wees om met ’n ander man te flankeer as sy in ’n verhouding is,” het Bridget (31) van Seepunt gesê.

Die vroue het ook vir Pasha gestem toe hulle gevra is wie sal ’n wrok teen iemand hou, en wie sal kwaad raak oor simpel goed.

“Ek is net iemand wat nie eintlik omgee nie, en dit is hoekom mense sal aanneem dat ek ’n wrok teen hulle hou. Ek gee net nie om nie,” het Pasha gesê.

Jess C (27) van Constantia het gesê sy hoop Marc kan deur Pasha se reaksie sien hoe sy regtig in die huis is. Pasha was bekommerd dat dit so gaan gebeur en het gesê sy hoop Marc glo nie wat hulle oor haar gesê het nie.

Marc het uiteindelik ’n romantiese afspraak gehad met Bridget waar hulle deur die musikant Daniel Baron vermaak is. Hy het vir hulle ’n paar liedjies gesing en die twee het mekaar beter leer ken. Hy het egter nie vir haar ’n roos gegee nie.

Marisia en Marc deel weer ’n vurige soen.Foto: M-Net

Terug by die huis het die vroue steeds aanhou hoop dat Marc “die regte Pasha” kon sien deur hul antwoorde tydens die speletjie. Pasha was emosioneel oor wat gebeur het en Mulesa (27) van Oos-Londen het haar getroos.

Die aand by die skemerkelkie was dit die eerste keer dat niemand ’n roos gehad het voordat Marc elkeen se name uitgeroep het nie. By die skemerkelkie het Pasha die geleentheid gebruik om met Marc te praat en hom te oortuig dat ander mense haar op haar baadjie takseer.

Marc het weer ’n vurige soen gedeel met Marisia (24) van Klerksdorp wat in ’n smeulende blou aandrok geklee was. “Elke keer as ek jou soen, verander my asemhaling,” het Marc vir haar gesê.

“Daar is baie vlinders en vonke tussen ons,” het Marisia later gesê. “Al is daar ’n ouderdomsgaping van 12 jaar tussen my en Marc dink ek ouderdom is net ’n konsep. Dit gaan meer oor hoe versoenbaar twee mense is.”

Aan die einde van die aand het Marc wel vir Pasha ’n roos gegee. Andeline (24) van Namibië het gesê: “Ons het hom probeer waarsku. Duidelik is haar sjarme suksesvol.” Jess R (28) van Kaapstad het gesê: “Jy kan nie ’n verhouding net op seks baseer nie.”

Marc het vir Andeline huis toe gestuur en daar bly nou nege vroue in die huis oor. Die program word Donderdae om 19:00 op M-Net-kanaal 101 uitgesaai.

Meer oor:  The Bachelor
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.