Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
Dié reeks se diagnose? Briljant!

Dr. Lisa Sanders, ’n Amerikaanse internis en Emmy-bekroonde joernalis, skryf sedert 2002 ’n mediese rubriek in The New York Times Magazine waaraan lesers wêreldwyd verknog is.

Aanvanklik het sy in die rubriek getiteld Diagnosis geskryf oor mense wat raaiselagtige siektes het en hoe dokters omtrent moes kopkrap om hulle te diagnoseer. Die rubriek het eindelik die trefferdrama House, M.D. geïnspireer, waarop Sanders ook as ’n konsultant gewerk het.

In 2011 het Sanders van rat verander en lesers uitgedaag om self die speurwerk te doen: Kan hulle binne rekordtyd, met net ’n paar simptome as wenke, ’n tameletjie van ’n diagnose reg raai? In ’n onderhoud met The New York Times sê sy selfs sy was verbaas hoe in die kol hulle was. Dit het haar en Scott Rubin, die Oscar-bekroonde vervaardiger van No Country for Old Men, ook laat wonder: As lesers moeilike diagnoses kan vasvat wat dokters reeds opgelos het, kan hulle nie ook dalk hand bysit met diagnoses wat dokters nog nie kon maak nie?

As lesers moeilike diagnoses kan vasvat wat dokters reeds opgelos het, kan hulle nie ook dalk hand bysit met diagnoses wat dokters nog nie kon maak nie?

Die antwoord op dié vraag is in die nuwe dokumentêre reeks Diagnosis saamgevat, wat ook hier in Suid-Afrika op Netflix beskikbaar is. In die reeks het Sanders Amerikaners opgespoor wat dodelik siek is: ’n man wie se hart gaan staan wanneer hy déjà vu ervaar; ’n sesjarige meisie wat 300 keer per dag beheer oor haar hele lyf verloor; en ’n vrou wat alles opbring wat sy drink of eet. Benewens hul siekte, het hulle almal een ding gemeen: Dokters kan glad nie vasstel wat fout is met hulle nie.

Elk van die reeks se sewe episodes volg dieselfde resep: Sanders leer ken die siek persoon en hul familie, bestudeer hul mediese geskiedenis en skryf dan ’n blog op The New York Times se webwerf, waar sy haar dan tot “The Crowd” wend – enigiemand wêreldwyd wat dink hulle kan agter die kap van die byl kom.

Dié insette – wat Sanders van medici én Jan Alleman kry, veral dié wat met soortgelyke penaries geworstel het – bestudeer sy dan totdat sy in die meeste gevalle een kry wat haar help om al die legkaartstukke inmekaar te sit. Eindelik probeer sy, die siekes se dokters én “The Crowd” saam lewens red.

Die reeks is in sy geheel verblydende en roerende kykstof wat jou mond gaan laat oophang en jou dalk ook soos ’n baba gaan laat tjank. Veral “The Crowd” se insette is ’n briljante illustrasie van die mensdom wat hande vat om iemand wat hoop verloor het te help. Dis ’n magtige herinnering, ’n gebaar wat hopelik soos ’n veldbrand versprei, ook hier in Suid-Afrika waar ons dit nou broodnodig het.

Ek hou duim vas vir ’n tweede reeks.

  • Diagnosis, wat op Netflix in Suid-Afrika beskikbaar is, het ’n ouderdomsbeperking van 16.
Meer oor:  Lisa Sanders  |  Netflix  |  Tv  |  Diagnosis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.