Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
Die seekoei met die bas ‘sing’ saam in reën

VIA (DStv-kanaal 147) se gewilde kampeerkompetisie Kom ons kamp is Donderdag 11 April terug op dié Afrikaanse leefstylkanaal. As jy die eerste seisoen misgeloop het, kan jy dít verwag: In elke episode spook drie spanne dit oor twee dae uit om as die beste kampeerders gekroon te word.

Ons het met die aanbieder, Paul du Toit, gesels oor die program.

Paul du Toit

Is jy mal oor kamp?

Nee, maar ek het al gekamp. Ek geniet dit om te gaan kamp, maar ek neem dit nie so ernstig op soos die meeste van die deelnemers nie. Hierdie program stel jou aan geharde kampeerders voor.

Wat vind jy uitdagend van die kampproses?

Om kontaklense in en uit te haal en skoon te hou in ’n vreemde area met min lig. Donkerte met ’n flits en vuil vingers werk nie!

Waar is jou gunsteling-kampplek?

Mdumbi in die Transkei. Hierdie bestemming het pragtige strande en is ideaal vir mense wat die besige lewe wil agterlaat. Die plaaslike mense beheer en bestuur die hele opset. Hulle verskaf alles en maak die kos. Die plaaslike drankwinkel is ’n hut en die plaaslike mense bedryf dit ook. Daar is dus geen eksterne inmenging nie. Elke mens werk vir homself en stimuleer só die plaaslike ekonomie. Dit is ’n lieflike bestemming vir branderplankry. Jy is ook omring deur pragtige riviere. Jy kan jou kampplek verlaat en by enige rivier opvaar. Dis net jy, jou kano en die natuur. Die beste moontlike manier om dit te beskryf is dat elke besienswaardigheid soos ’n screensaver lyk.

Watter deel van die produksie was vir jou indrukwekkend?

Wat ek nou eers besef, is hoe ernstig die deelnemers die kompetisie opneem. Daar was trane, humor, sports en grappies. Dis eintlik maar ’n groot fees. Dit was vir my lekker om te sien hoe die drie spanne se deelnemers groot vriende raak, maar steeds ernstig bly.

Wat is jou gunsteling-kampherinnering?

Ons sit in die Okavango-delta, Moonlight Bay, letterlik in die middel van nêrens. Daar was geen teken van die beskawing nie, net die natuur. Ek en ’n paar pelle het daar gebly, op ons bote geklim en in hierdie Moonlight Bay gaan kamp. Dit het skielik begin reën. ’n Ordentlike tropiese reënstorm. Ons besluit toe om musiek te begin maak. Ons het lekker saam onder ’n water-belaaide seil gesing. Skielik hoor ons toe ’n diep basstem. Dit het ons sowat tien minute geneem om te besef dat nie een van ons vir die geluid se oorsprong verantwoordelik was nie. Toe ons omkyk, was daar ’n enorme seekoei wat ons musiek waargeneem het. Hy was sowat tien meter van ons af. Ons hou toe op musiek maak en word stil. Ons stilte het sy belangstelling geblus en hy het besluit om ons te verlaat. Ons het rustig die aand verder geniet en nooit weer ons seekoeivriend gewaar nie.

  • Die tweede seisoen van Kom ons kamp begin op 11 April. ) Nuwe episodes word elke Donderdag om 20:00 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai met heruitsendings op Saterdae om 20:30. In samewerking met Weg! Ry&Sleep.
Meer oor:  Via  |  Paul Du Toit  |  Vermaak  |  Realiteitsreeks  |  Tv
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.