Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
Digter maak debuut met draaiboek ‘Die smaak van saffraan’

Met ’n “sensitiewe onderwerp waaroor mense hopelik verder sal dink”, maak die digter Johann van der Walt met die kykNET-fliek Die smaak van saffraan sy debuut as draaiboekskrywer.

Dit is deel van kykNET se reeks Storie films en word op 14 Maart uitgesaai.

Monique Rockman en Viljé Maritz. Foto: kykNET

Die smaak van saffraan handel oor ’n boer en ’n veearts wat mekaar ontmoet nadat hulle albei hul familie verloor het. Hulle smee dan ’n onverwagte vriendskap.

“Dit is ’n groot een vir my kerfstok. Hoe hanteer ’n mens pyn? Wat is die voortgang? Hoe beweeg ’n mens vorentoe?”

Van der Walt, wie se debuutdigbundel, Parlement van uile, verlede jaar deur Naledi uitgereik is, was ’n Engelse kortverhaal aan’t skryf toe Francois Nolte, stigter van Green Planet Productions, hom gevra het of hy daarin sou belang stel om ’n draaiboek te skryf.

“Die Engelse verhaal was nog nie klaar nie, maar ek het die kern daarvan geneem en ’n Afrikaanse storie geskep. Die karakters verskil van dié in die Engelse kortverhaal. Geen karakter is set in stone nie.”

Sallas de Jager is die regisseur.

Francois Nolte en Sallas de Jager op die stel van die kykNET-fliek ‘Die smaak van saffraan’. Foto: kykNET

“Sallas se rol as fasiliteerder om die draaiboek ‘uitsaaigereed’ te kry was vir my van onskatbare waarde. Met ’n draaiboek moet jy weet hoe die storie gaan eindig. Ek moes by ’n begroting hou. Met die skryf van ’n roman of kortverhaal kan dinge uitbrei soos wat jy skryf, maar hier is ek gelei ten opsigte van die tegniese aspekte en begroting. Sommige tonele moes saamgevoeg word. Tog was daar aspekte van die teks wat vir my baie belangrik was om te behou.”

Van der Walt het in 2019 die eerste Ingrid Jonker L’Art Poetique-digkompetisie gewen en het al in verskeie publikasies in die buiteland gepubliseer.

Hy was op stel die laaste dag waarop die fliek verfilm is.

“In ’n mate voel dit onrealisties. Ek het nie geweet watter akteurs die karakters sou vertolk nie. Dit was emosioneel én opwindend. Dis ’n baie groot geleentheid wat jy gegun word om so ’n projek te doen.”

Die spelers is Viljé Maritz, Monique Rockman, Gustav Gerdener en John-Henry Opperman, asook die hond Flirt, wat al voorheen op televisie verskyn het.

“Ek het nog nie die fliek gesien nie – net grepe, wat visueel baie mooi lyk. Ek gaan dit die 14de saam met die res van Suid-Afrika kyk.”

• Die smaak van saffraan word op 14 Maart om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.