Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
Dís hoe Afrikaanssprekendes glo
Susan Booyens is die aanbieder van die program ‘Pelgrims’. Foto: Wynand Dreyer

Daar is min dinge so fassinerend en inspirerend soos om iemand eerlik en weerloos met passie oor hartsake te hoor praat. En as Susan Booyens daardie tinteling langs haar ruggraat af voel, weet sy sy is waar sy hoort: aan die luister na ’n boeiende storie oorkant ’n gas met wie sy die voorreg het om ’n TV-onderhoud te voer.

Sy is die aanbieder van Pelgrims: Dis hoe ons glo, ’n nuwe dokumentêre kykNET-reeks oor Afrikaanssprekendes se geloof en spirituele reise. Sy beantwoord ’n paar vrae hieroor.

Waar kom die gedagte vir Pelgrims vandaan en hoe het jy betrokke geraak?

My vriend Wynand Dreyer is ’n ervare en bekroonde TV-regisseur en hy en sy vervaardigervennoot by Khaki Produksies, Christelle Parrott – hulle is ook die span agter die gewilde Megaboere – het lankal gedink dit sal interessant wees om geloof as tema vir ’n reeks te hê en kykNET het saamgestem.

Wynand het nog altyd in spiritualiteit belang gestel en in die verlede verskeie programme oor godsdiens gemaak. Ons ken mekaar al van die ou SAUK-dae af toe ek eers ’n radioaanbieder by RSG was en hy by TV-nuus en toe ek later ’n veldaanbieder by Pasella en Kwêla geword het, was Wynand ’n insetselregisseur en ons het wonderlik gekliek. Ek was dadelik entoesiasties toe hy my verlede jaar nader om by Pelgrims betrokke te raak, want ek wou graag weer saam met hom en sy span werk!

Waaroor gaan die program?

Ons stel die kykers aan die hand van persoonlike gevallestudies aan verskillende godsdienste voor. Die deelnemers het dikwels ’n soort geestelike pelgrimsreis onderneem. Afrikaanssprekendes is en was nooit net aan die drie susterkerke verbonde nie.

Dis beslis nie ’n realiteitsreeks nie, iets soos “Susan soek ’n geloof” of ondersoekend en onthullend soos Carte Blanche wat instansies oopvlek nie. Dis ’n objektiewe, storiegedrewe dokumentêre reeks wat op persoonlike geloofsreise fokus en is glad nie veroordelend nie.

Soos Wynand graag benadruk, ons hanteer al die gelowe met die grootste respek en wys bloot wat en hoe die deelnemers glo. Dis vir hom belangrik dat ons die res aan die kyker oorlaat.

Hoekom dink jy sal mense dit kyk?

Hopelik om meer van mekaar te leer. Ek onthou Wynand het op ’n kol gesê ons moet altyd onthou daar is ander hartstogte ook as joune wat ’n mens nie voor die voet moet kritiseer of beoordeel nie.

Ons het nog altyd diepgaande verskeidenheid in ons geloofsgemeenskappe gehad. Die tekstuur en kleure van die tapisserie maak ons land wat dit is, ons leef al baie jare met soveel godsdienste saam en dit maak nie ’n verskil aan ons nie. Afrikaanse mense het hul eie evolusie, die gelowe het ’n groot rol gespeel in hoe die taal gevorm is. Ons ontwikkel, vra vrae en mense maak keuses wat hulle pas. Mense soek deesdae wyer na antwoorde.

Dis interessant om te kan beleef hoe iemand anders se padkaart, reis en roete lyk. En dit beteken glad nie jy moet van jou eie oortuiging en einddoel afwyk as jy kyk hoe landgenote hul spiritualiteit uitleef nie. Ek probeer, wanneer ek na iemand in hierdie verdeelde en verdelende tye luister, om nie te reageer, argumenteer of bekeer nie, maar om te leer, waardeer en respekteer. Ek hoop ons kykers sal ook.

Wat het ’n groot indruk op julle gemaak?

Dit het my opgeval hoe almal, tot wie hulle ook al bid, eintlik maar net ons wêreld en land ’n beter plek wil maak. Die deelnemers aan Pelgrims is betrokke by kleuterskole, kinderhuise, naskoolsentrums, musieklesse, ouetehuise en sopkombuise – ons geloofsgemeenskappe staan aan die hart van welsyn en opheffingswerk.

Vir Wynand was die sagtheid van die mense ’n openbaring, die gebrek aan aggressie, en hoe bereid almal was om ons in hul binnekamer in te neem, daar waar hulle boekevat.

Hoe het julle die reeks verfilm as jy voltyds werk?

Met ingewikkelde logistiek. Maar alle eer aan die span van Khaki Produksies, wat my werk van Dinsdag tot Saterdag as taal-en-feiteversorger (teksredakteur) by Media24 se Afrikaanse koerante geakkommodeer het. Ons het gewoonlik op Sondae en Maandae en vroegoggende voor werk geskiet.

Ná al die jare ken ek en Wynand mekaar nog so goed, ons het letterlik net ’n halwe woord nodig.

O ja, en ’n laaste woord oor Pelgrims: Emile Minnie het die lieflike kenwysie gekomponeer en Christelle Parrott se redigering is volgens Wynand soos poësie. Ons is baie trots op die reeks en hoop dit sal mense aan die kyk en gesels kry.

* Pelgrims: Dis hoe ons glo is ’n reeks van 13 halfuur-episodes en begin op Donderdag 16 Julie om 20:00 op kykNET (kanaal 144). Die heruitsendings is Vrydag om 13:00, Sondag 22:00, Maandag 10:30 en Dinsdag 15:00.

“ ’n Pelgrimstog is ’n reis na ’n heilige plek toe – dalk die ewigheid. Die tog word met toewyding afgelê en spreek van hoop, maar stap dikwels ’n pad deur wanhoop. Elkeen se weg is uniek en op ’n manier is almal pelgrims . . .”

In die eerste episode besoek Susan ’n Afrikaanse Christen-Ortodokse kerkie in die wynland by Robertson en stel ons voor aan vader Zacharias van Wyk en sy klein gemeente van heinde en ver. Die res van die reeks fokus onder meer op Hare Krishnas, Gereformeerdes, Ortodokse Jode, die Renaissance-gemeenskap, die Bahá’í-geloof, Morawiese Kerk, Rastafariërs, Katolieke, Boeddhiste, Sewendedag-Adventiste en Moslems.


Meer oor:  Televisie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.