Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
Dokkie belig Chris Barnard se briljantheid
Dr. Chris Barnard

Skaars beeldmateriaal van dr. Chris Barnard uit 1968 waarin hy die eerste hartoorplanting verduidelik maak deel uit van die dokumentêr Christiaan Barnard: Deurbraak Sondag op kykNET.

Hy verduidelik hoe hy dit aangepak het en hy praat ook oor die verskille tussen die eerste en tweede hartoorplantings wat hy uitgevoer het.

Dié dokumentêr deur Wynand Dreyer en Christelle Parrott van Khaki Productions word uitgesaai aan die vooraand van die 50ste herdenking van die eerste hartoorplanting ter wêreld. Dit fokus op die hartoorplanting en die invloed wat dit op die wetenskap daarna gehad het met die akteur Hans Strydom as die stemkunstenaar.

Die grepe waar Barnard verduidelik hoe hy die hartoorplanting gedoen het, kom uit die dokumentêr The Heart of Cape Town.

Barnard het op 3 Desember 1967 die eerste hartoorplanting uitgevoer en drie dae later het die Amerikaanse dr. Adrian Kantrowitz die tweede een gedoen. Barnard se tweede hartoorplanting is op 2 Januarie 1968 gedoen.

“Chris Barnard word veral onthou omdat hy die guts gehad het om die eerste hartoorplanting uit te voer,” sê Dreyer.

“Daar was so baie navorsing om te doen en ons moes besluit waaroor ons wil praat. Ons besluit toe om die program in vyf segmente op te deel. Die Kaapse joernalis Amanda Botha het die meeste van die navorsing gedoen.”

In die eerste segment word Barnard se agtergrond geskets.

Die tweede segment gaan oor Louis Washkansky, wat die eerste hartoorplanting ondergaan het en daarna nog 18 dae lank geleef het. Die hart was met sy dood steeds in ’n volmaakte toestand, maar hy het aan ander komplikasies gesterf.

Die derde segment handel oor Philip Blaiberg op wie Barnard sy tweede operasie gedoen het. Hy het 19 maande daarna nog geleef. Hy is dood aan koronêre hartvatsiekte.

Blaiberg het die hospitaal verlaat 74 dae nadat hy ’n hartoorplanting ontvang het.

“Philip se hart is nou in die hartoorplantingsmuseum by die Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad. Daar is ’n foto van hom en Chris Barnard wat na sy hart kyk in ’n bottel.

Dis die eerste mens op aarde wat na sy eie hart kon kyk.”

Chris Barnard

Hulle praat verder met ’n mediese student en ’n vrou wat albei op ’n nuwe hart wag en ’n man wat al vyf jaar lank met ’n nuwe hart loop.

“En hy het die mooiste ding vir my gesê,” sê Dreyer, “ I mourn for my donor’.”

Denise Darvall wie se hart Washkansky ontvang het, se storie word ook vertel, maar daar word nie in die program met iemand onderhoude daaroor gevoer nie.

Verder belig die dokumentêr Barnard se briljantheid.

Daar was ’n wedloop oor wie dit eerste sou doen. Destyds is baie navorsing gedoen oor die moontlikheid van so ’n oorplanting, maar Barnard het dit eerste gewaag om dit uit te voer.

“Ek onthou die debatte destyds ná die eerste hartoorplanting,” sê Dreyer.

“Die kopskuif wat ’n mens moes maak dat die hart net nog ’n orgaan is en nie die setel van die siel is nie. Ons begin die program met Barnard wat altyd gesê het wat hom verstom van ’n hart: Die oomblik wanneer hy met bloed gevoer word, dan begin hy klop. ’n Hart gee nie sommer op nie. Hy het ook nie opgegee nie. Chris Barnard het net aangehou.”

* Christiaan Barnard: Deurbraak word Sondag om 21:00 op kykNET (kanaal 144) uitgesaai. Dit het ’n ouderdomsbeperking van 13.

Kyk hier hoe Blaiberg in 1968 die hospitaal ná sy hartoorplanting verlaat: 

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.