Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
Dokumentêr oor struggle-heldin op SABC3 uitgesaai

13:05

klink dalk soos ’n Agatha Christie-verhaal, maar dié prent wat in Maart in twee dele op SABC3 uitgesaai word, is allesbehalwe fiktief en belig 'n verskriklike tyd in Suid-Afrika se struggle- geskiedenis.

Die onbesonge struggle-heldin Dulcie September. Foto: africasacountry.com

Dit is ’n dokumentêr oor die onbesonge Suid-Afrikaanse struggle-heldin Dulcie September wat op 29 Maart 1988 in die Franse hoofstad, Parys, vermoor is.

Sy het pas pos uitgehaal en was besig om die ANC-kantoor in die Paryse middestad oop te sluit toe sy vyf keer in die kop geskiet is. Die moordenaar is nooit opgespoor nie.

Nadat die Nederlander Evelyn Groenink se navorsing in 2001 in haar boek Dulcie: Een vrouw die haar mond moest houden gepubliseer is, het die Suid-Afrikaanse filmregisseur Enver Samuel opnuut navorsing oor die gebeure gedoen.

Die plan vir die dokkie het toevallig in sy skoot beland. Samuel het in 2017 die filmfees Visions du Réel in Bern, Switserland, bygewoon toe hy en Randolph Arendse aan die gesels raak. Arendse, wie se broer met September se suster getroud was, het Samuel se bekroonde dokumentêr Indians Can’t Fly oor die vermoorde Ahmed Timol gesien en pols Samuel toe oor die moontlikheid van ’n fliek oor September.

Minder as 24 uur later het Samuel toestemming en die seën van die familie gehad en kon hy die bal aan die rol sit.

Die dokkie sluit beeldmateriaal in van die 30-jarige herdenking van September se dood wat in Maart 2018 in Parys gehou is, asook argiefmateriaal wat die eerste keer in Suid-Afrika vertoon sal word.

September is op 20 Augustus 1935 in Athlone gebore en was ’n onderwyseres in die buurt toe sy by aktivisme betrokke geraak het. Die polisie het haar aangekeer, sy is verhoor en het vyf jaar in die tronk deurgebring, waarna sy haar nog vyf jaar van aktivisme moes weerhou.

Toe die beperking opgehef is, is sy Brittanje toe waar sy opgang in die ANC-strukture gemaak het. Sy is later as hoof van die ANC in Luxemburg, Switserland en Frankryk aangestel en dit is in dié hoedanigheid dat sy in Parys gewoon het, waar sy op 52-jarige ouderdom vermoor is.

September se dood is destyds nie in Suid-Afrika aan die groot klok gehang nie, maar in die buiteland is sy op verskeie maniere vereer.

Die bekende fliekkomponis Jean-Michel Jarre het in 1988 die lied “September” aan haar opgedra en dit by sy Revolutions-album ingesluit.

Die Duits gebore konseptuele kunstenaar Hans Haacke het ’n vervalle fontein voor die Grande halle de la Villette in Parys nuwe lewe met sy konstruksie One Day, The Lions of Dulcie September will Spout Water in Jubilation gegee.

Verskeie plekke in Frankryk is na haar genoem: ’n plein in die tiende arrondissement in Parys, ’n plein in Nantes, ’n straat in Cléon, ’n skool in Évry-sur-Seine en ’n kollege in Arcueil, ’n dorpie naby Parys waar sy voor haar dood gewoon het.

In Engeland is die raadskamer van die studentevakbond aan die Universiteit van Staffordshire, waar September ’n student was, na haar genoem.

Hier in Suid-Afrika het dit lank geneem voordat sy die eerste erkenning gekry het – in 2010 toe die Universiteit van Wes-Kaapland die Dulcie September-gedenklesing gehou het. In 2013 is die stadsentrum in Athlone die Dulcie September-stadsentrum gedoop.

September het voor haar dood onwettige wapen- en kernmateriaalhandel tussen Frankryk en Suid-Afrika ondersoek, wat onder meer in Murder in Paris belig word.

Die ANC-veteraan Alfred Nzo het ná haar dood gesê “as daar ooit ’n sagte teiken was, was dit Dulcie September”.

Samuel, wat ook dokumentêre oor Walter Sisulu en Oliver Tambo gemaak het, sê “die verhaal van die onselfsugtige heldin Dulcie September is ’n inspirasie vir diegene wat na demokrasie en maatskaplike geregtigheid streef”.

  • Murder in Paris: 21 Maart om 19:30 en 28 Maart om 19:30 op SABC3.

– Saamgestel deur Elretha Britz met bykomende bronne Wikipedia, afridocs.net, SABC-mediaverklaring.

Meer oor:  Ahmed Timol  |  Walter Sisulu  |  Oliver Tambo  |  Sabc3  |  Tv
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.