Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
Dorette wys oë in ‘Binnelanders’

Dit was vir die aktrise Dorette Potgieter veral kosbaar om die liefde en begrip tussen ’n ma en kind in die kykNET-sepie Binnelanders te vertolk.

Sy het Donderdag in die rol van June Spies, René (Simoné Pretorius) se ma, haar eerste verskyning gemaak.

Dorette Potgieter

Dit blyk egter sy en René se kollega en vriend, Quinton (Ramey Short), het ’n verlede waarvan René nie weet nie. Dit terwyl Quinton verlief op René geraak het sonder om te weet June is haar ma.

Potgieter glo baie mense sal hulle vereenselwig met haar karakter wat Donderdag in die kykNET-sepie Binnelanders opgedaag het.

“June kom doen ’n kursus in sportbeserings wat haar in die toekoms sal help in die mediese veld waarin sy is. Ek dink hierdie storielyn bring so ’n bietjie verskeidenheid, as ek dit so kan stel . . .

“Sy is in daardie tyd van haar lewe waar sy wil regmaak wat in die verlede verkeerd geloop het.

“Ons kom mos maar op ’n tyd in ons lewens waar ons met die verlede wil vrede maak. En ek dink sy het hulp nodig. Sy kom op ’n baie interessante tyd in haar dogter se lewe.”

Potgieter het einde verlede jaar klaar aan die tonele verfilm.

“Dit was net ’n vinnige in en uit.”

Sy het lank gelede in die sepies Egoli: Plek van goud en Villa Rosa verskyn en sy het verlede jaar ’n draai in 7de Laan gemaak.

Sy moes haar voete baie vinnig op die stel vind.

“Jou korttermyngeheue benodig ’n bietjie afstof wanneer jy weer op ’n sepie begin werk.

Dis ’n ongelooflike pas. Daar is min tyd. Dit was met 7de Laan baie stresvol. Toe ek by Binnelanders begin het, wou ek kyk of die masjien nou beter rol nadat ek vroeër die jaar ’n bietjie kon opwarm. Kon ek dit al beter hanteer?”

Potgieter se verhouding met haar eie dogter, Lia Luna Li, verskil baie van haar verhouding met haar dogter op televisie.

“Lia Luna Li het saam met my na die ateljee gegaan. Naderhand het almal haar geken. Dis soos ’n familie.”

Dit was die eerste keer wat Potgieter saam met Pretorius gewerk het, maar sy ken ’n paar ander akteurs in Binnelanders al baie lank.

Sy het ook saam met Gerrit Schoonhoven, een van Binnelanders se regisseurs, jare gelede op die dramareeks Soutmansland gewerk.

Sy het tans geen ander akteursprojekte in die visier nie omdat sy haar aandag aan haar opleidingsprogram, FILM 4 Offenders, by die Pollsmoor-gevangenis in Kaapstad bestee.

Met dié program maak sy 25 jong gevangenes en vyf personeellede per dienssentrum touwys oor die rolprentbedryf.

“Ek lewer ook in Februarie my eerste dokumentêr, Kans, vir M-Net. Dit duur 48 minute en dit speel in Pollsmoor af.”

* Binnelanders word weeksdae om 19:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.