Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
Dr. Deon terug in ‘Binnelanders’
Pietie Beyers en sy vriendin wat aktrise sowel as dokter is, Anneke Weidemann. Sy gaan moontlik in 2018 na die silwerdoek terugkeer. Foto: Facebook

Dr. Deon Visser is een van die dae terug in Binnelanders. Pietie Beyers (29), wat dié rol voorheen vertolk het, is opgewonde oor die nuwe “donker, dramatiese” storielyn wat vir dr. Deon voorlê.

Beyers het bevestig dat hy van 8 Mei af weer aan Binnelanders sal begin verfilm en teen Julie weer in die sepie sal wees.

Van volgende week af is hy te sien as die aanbieder van die nuwe speletjiesprogram op Via, Blitsbrein.

Beyers sê hy wou vandat Jeremy Maggs Who Wants to Be a Millionaire aangebied het, ook die aanbieder van ’n speletjiesprogram wees.

“Ek is ’n buite beheer opgewonde daaroor,” sê hy oor die werklikheidsreeks.

Volgens hom sukkel hy om die wenner geheim te hou.

Beyers se vriendin, Anneke Weidemann (25), gaan boonop moontlik in 2018 terugkeer na die silwerdoek. Weidemann was in 2012 laas in ’n fliek toe sy saam met Marius Weyers in Katinka Heyns se Die Wonderwerker gespeel het, maar het besluit om eerder ’n mediese dokter as ’n voltydse aktrise te word.

Pietie Beyers is een van die dae te sien as die aanbieder van Blitsbrein, Via se nuwe speletjiesprogram.

Maar alles was nie altyd so rooskleurig vir die akteurspaartjie nie.

’n Jaar gelede was Beyers se lewe besig om uitmekaar te rafel. Hy moes amper ’n maand se verlof neem uit Binnelanders nadat hepatitis A einde 2016 by hom gediagnoseer is. Beyers sê ’n mens kon sien hoe dr. Deon se oë geel was weens die siekte. Tonele moes geskuif word om aan te pas by Beyers se siekbed toe hy vir amper drie weke bedlêend was.

Hy het opgehou rook en drink nadat hy herstel het van dié gesondheidskok. Hy het sowat drie maande later gehoor dr. Deon se rol is beëindig.

Dit was nadat hy sy werk verloor het en “te veel tyd” gehad het om hom oor te gee aan eksistensiële gedagtes dat iets wat voorheen ’n quirky persoonlikheidseienskap was, sy lewe begin oorheers het.

Weidemann het hom aangeraai om hulp te soek. “Patologiese twyfel”, ’n vorm van obsessief-kompulsiewe steuring, is by hom gediagnoseer.

Die keerpunt was toe hy een dag agt uur lank in dieselfde kamer vasgevang was omdat hy ou e-posse en boodskappe ondersoek het wat hy jare gelede gestuur het.

“Jy dink elke liewe ding wat skeef loop in die wêreld is jou skuld,” sê hy.

“Rasioneel weet jy dit is nie so nie, maar jy probeer dit aan jouself bewys, want jy dra die intense skuldgevoel en jy weet nie hoekom nie. Dis ’n baie, baie vreesaanjaende plek,” sê Beyers.

Pietie Beyers sal binnekort weer as dr. Deon Visser in Binnelanders te sien wees. Foto: Facebook

Weidemann was die toppresteerder in haar finale jaar se psigiatrieklas en het presies geweet hoe om Beyers in dié tyd by te staan. Hy beskryf haar as ’n “wünderkind” met ’n “groot empatiese kapasiteit”.

“Sy weet hoe om dit te hanteer en sy het oneindige geduld, maar kon ook ferm wees waar nodig,” sê hy.

Beyers moet nog daagliks keer dat die “treintjie” van sy obsessief-kompulsiewe steuring nie sy gedagtes ontspoor nie. Hy drink nou medisyne vir dié steuring en sê dat dit waarskynlik altyd daar sal wees, maar dat hy nou weet hoe om sy gedagtes te fokus.

“Dit gaan baie, baie beter en ons is ontsettend gelukkig,” sê hy.

Weidemann is besig met die tweede jaar van haar internskap as dokter.

Beyers beplan om Skemerson, die fliek waarvan hy die draaiboek geskryf het, in Augustus te begin verfilm. Hy speel die hoofrol daarin en beskryf dit as ’n moderne liefdesverhaal gewortel in die realiteite van geestesgesondheid.

Blitsbrein begin 1 Mei om 21:00 op Via (DStv kanaal 147). Nuwe episodes word elke Dinsdag om 21:00 uitgesaai met heruitsendings op Sondae om 21:00

Meer oor:  Pietie Beyers  |  Akteur  |  Binnelanders
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.