In Woensdagaand se episode van die werklikheidsprogram Trap! Dis my huis op VIA het dit weer eens duidelik geword dat dié kompetisie nie vir almal is nie.
Drie deelnemers het besluit om uit die huis te loop omdat hulle nie die omstandighede langer kon hanteer nie. Die gebrek aan kos, slaap en oefening het sommige na tien dae begin onderkry.
“Ek geniet dit net nie meer nie,” het Tammy (19) gesê voordat sy geloop het. Ook haar beste vriend in die huis, Charl (19) het tou opgegooi.
“Ek het my limiet bereik. Ek kan nie regtig meer langer aangaan nie. Ek kan nie hierdie mense hanteer wat een ding sê en ’n ander ding gebeur nie. Mense is regtig tweegesig.”

Charl loop uit die huis uit.
Nie lank na hulle nie het Cheznay (21) ook besluit om te gaan. “Ek het net tot die besluit gekom dat ek kos in my sisteem nodig het. Geld is nie die moeite werd om maer te word, en om hartseer te voel, om saans in hongerte te gaan slaap nie.”
Die deelnemers kry kos om te eet, maar hulle moet dit self voorberei en dit maak uit kos wat hulle elke nou en dan by die aanbieders bestel.
Die kos word uit die prysgeld aangekoop en die kos se pryse is baie meer as wat mens regtig sou betaal. ’n Brood sal byvoorbeeld R1 000 kos, ’n houer pasta R500 en ’n klompie appels R5 000. Elkeen kry gewoonlik ’n enkele, klein porsie omdat daar talle monde is om te voer.
Die mededingers slaap ook moeilik aangesien daar net een dubbelbed in die huis is. Die res moet maar op die vloer of op die bank slaap.

Marike en Hilgard maak planne oor wie hulle wil uitstem.
Aan die begin van Woensdagaand se episode was daar 19 deelnemers oor. Nadat die drie geloop het, moes die nuwe huiskaptein Hilgard (36) niemand huis toe stuur nie. Daar is dus nou 16 mense in die huis oor.
Die pryspot staan op R772 700.
In Woensdagaand se episode het Lally ook besluit om nie meer oop kaarte met Marike en Rhona te speel nie. Sy was voorheen in ’n alliansie met hulle, maar begin vermoed hulle gebruik haar net vir haar stem.
Lally en Judith (20) het ’n band gevorm met ander groepe, soos die van Blue (35).
Die program word Woensdae om 20:30 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai. Heruitsendings op Vrydae om 18:00 en weer Saterdae om 22:00.