Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
Dukas nog lank gehoor ná sy dood
David Dukas hier saam met Quinne Brown in ‘7de Laan’. Foto: Argief

David Dukas se wonderlik aanpasbare stem sal nog ’n geruime tyd in Doodsondes op S3 (DStv-kanaal 105) gehoor word, al is dié Suid-Afrikaanse akteur op 21 Julie aan ’n massiewe hartaanval oorlede.

Die akteur Morné Visser, wat sedert 2007 met David bevriend was, sê dié gebore Vrystater het in 2018 van Gauteng na Kaapstad verhuis, enersyds omdat daar baie werk is in veral internasionale rolprente en andersyds ter wille van ’n leefstylverandering.

“David was uitstekend met aksente, veral Amerikaanse en Britse aksente. Dit is waarskynlik een van die redes waarom hy nie in Suid-Afrika so bekend is nie – omdat hy gesog was vir rolle in internasionale flieks. Hy het ook stemoorklanking vir baie Bollywood-flieks gedoen.”

’n Jong David Dukas. Foto: Argief

Daarby was Dukas uitsonderlik met karakterisering en het hy ’n prysenswaardige werketiek gehad.

“David was net mooi klaar met die oorklanking vir al drie seisoene van Doodsondes, oorspronklik in Turks verfilm, toe hy die hartaanval gekry het.”

Visser sê David was altyd trots op sy Vrystaatse herkoms en het dikwels gegroet met die woorde “hoe gaan dit daar, dis lekker in die Vrystaat”. Hy het ook enduit ’n vurige Cheetah-ondersteuner gebly.

Visser en Dukas was sielsgenote vandat hulle mekaar in Gauteng leer ken het. Toe Visser Kaap toe verhuis, het Dukas hom elke keer besoek wanneer hy daar was vir werk en nadat Dukas hom in 2018 in Kaapstad gevestig het, het hulle gereeld saam gekuier. Trouens, Visser het hom op die vooraand van sy dood nog gesien.

Volgens Visser is Dukas na die Mediclinic Kaapstad geneem, maar was met sy aankoms reeds dood. Sover hy en sy vriendin, Daniela di Lorenzo, weet, het Dukas geen hartprobleme gehad nie. Hy was fiks en blakend gesond.

’n Mede-stemkunstenaar en akteur, Keeno L. Hector, skryf op Facebook dit was altyd ’n plesier om in David se teenwoordigheid te wees.

“Hy het ’n wonderlike humorsin gehad, ’n sprankelende geaardheid en dit was ’n fees om saam met hom te werk.”

Dukas se akteursloopbaan is geïnspireer deur sy ma, wat hy gereeld vergesel het na repetisies en opvoerings van die dramavereniging The Goldfields Players, waarvan sy ’n lid was.

Ná skool is hy van die myndorp Virginia, waar hy grootgeword het, na die destydse Pretoria Technikon, waar hy ’n kwalifikasie in toneelspel verwerf het.

Sy eerste professionele werk was as ’n ad hoc-akteur vir die destydse Truk (Transvaalse Raad vir die Uitvoerende Kunste). In 1993 het hy sy TV-buiging in die reeks Triptiek gemaak. Hy sal ook onthou word as die skurk Matt Atkins in 7de Laan, Connie (gespeel deur die aktrise Quinne Brown) se eksman.

Die rolle wat hy in die afgelope 28 jaar vertolk het, beslaan bladsye.

Sy mees onlangse werk was in die TV-reekse The Cars That Made the World, Black Beauty en Warrior.

Hy was ook gereeld te sien in Suid-Afrikaanse sepies wat alles van Binnelanders, 7de Laan, Generations, Skeem Saam en Villa Rosa tot Isidingo en Getroud met Rugby insluit.

Trackers, gegrond op Deon Meyer se spanningsverhaal Spoor, die gewilde Black Sails, Knapsekêrels en Sterlopers is maar enkele ander reekse waarin hy rolle gehad het.

Visser se stem kan in die e.tv-reeks Die vreemdeling gehoor word, ook oorspronklik ’n Turkse rolprent, en van begin Augustus in The Kissing Booth 1, 2 en 3.

Meer oor:  David Dukas  |  Televisie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.