Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
EKSKLUSIEF: Netflix-ster deel foto's van Charlize in SA
Die selfie wat die Oscar-bekroonde aktrise Charlize Theron saam met die motorwaaghals Stacey-lee May geneem het.

Die Oscar-bekroonde aktrise Charlize Theron het die Suid-Afrikaanse motorwaaghals Stacey-lee May met ’n supermotor bederf sodat sy aan die Netflix-werklikheidsreeks Hyperdrive kon deelneem.

Die reeks – wat sedert Donderdag op Netflix beskikbaar is, ook hier in Suid-Afrika – daag petrolkoppe van oor die wêreld heen uit om spoggerige toertjies in blink motors op ’n hindernisbaan uit te voer. Dit word deur Theron se produksiemaatskappy, Denver and Delilah Productions, vervaardig.

Die 23-jarige May, wat ’n regstudent aan Unisa is, het aan Netwerk24 gesê sy is deur Theron self gekies om die Suid-Afrikaanse vlag in die reeks te wapper. May is reeds twee jaar gelede via Google deur ’n span vervaardigers opgespoor danksy haar motorvernuf as spinner – ’n motoris wat ’n motor om en om tol – en haar titel as Suid-Afrika se “spin-koningin”.

“Toe hulle (die vervaardigers) my aanvanklik gebel het, het ek gedink dis ’n grap, maar ná ’n gesprek op Skype het ek besef: Dit is eg!” sê sy borrelend.

Voor die reeks in Julie 2018 in New York verfilm is, het ’n rolprentspan by May se ouerhuis in Eldoradopark, Johannesburg, opgedaag om insetsels oor haar lewe vir die reeks te skiet. Theron het toe onverwags haar verskyning op Mandeladag gemaak.

Charlize Theron en die May-gesin in Eldoradopark, Johannesburg. Foto: Verskaf

“Ek het in ons garage gestaan en was besig voor die kameras, toe ek skielik stemme hoor. Dit was Charlize. My ma (Lizel) het net gegil en gehuil.

“My eerste woorde aan Charlize was: Kan ons ’n selfie neem? Dit is byna al wat ek kon uitkry. Ek het geweet mense gaan my nie glo as ek dit oorvertel nie, so ek moes net ’n bewys kry dat Charlize Theron in my huis was!

“Sy het dadelik gevra waar my foon is en het ’n hele klomp selfies geneem.”

May onthou hoe bedagsaam Theron dié dag was en ook hoe die superster Afrikaans met haar pa, Lester, gepraat het.

“Sy het vlot Afrikaans gepraat! Toe my pa homself (in Afrikaans) voorstel, het sy mooi ‘aangename kennis’ geantwoord.”

Die groot oomblik toe Stacey-lee se ma, Lizel, vir Charlize Theron ontmoet. Foto: Verskaf
Lyk Charlize senuagtig om saam met Stacey-lee May, SA se “spin-koningin” in ’n motor te klim? Foto: Verskaf
Stacey-lee May in aksie op die stel van Hyperdrive. Foto: Verskaf
Charlize saam met Stacey-lee se pa, Lester.
Charlize saam met Stacey-lee se pa, Lester.

May en Theron het toe sowat vier uur saam deurgebring, ook in May se BMW E30 325i – die einste motor wat Theron vir May in Amerika gekoop het sodat sy daarmee aan Hyperdrive kon deelneem.

“Sy het gevra of sy langs my in die motor kan sit sodat sy kan sien wat ek kan doen. Ek het natuurlik ingestem. Terwyl ek bestuur het, het sy omtrent by die ruit uitgehang! Dit was ongelooflik!”

May sê sy was glad nie senuagtig met ’n Oscar-wenner in die passasiersitplek nie.

“Ek was eintlik meer senuagtig om met haar te praat, maar sy was eintlik so ongelooflik nice en sy het my werklik trots Suid-Afrikaans laat voel.”

Oor Hyperdrive wil May nie veel sê nie – kykers moet die aksie self beleef. Verfilming het sowat ’n maand geduur en haar horisonne is beslis verbreed, sê sy. Die vlug na New York was haar eerste keer op ’n vliegtuig.

“My pa het saam met my gegaan en ons het werklik baie cool mense ontmoet, maar die vervaardigers het gesê hulle dagvaar my vir ’n miljoen dollar as ek te veel oor die reeks weggee. Ek het nie ’n miljoen dollar nie,” sê sy laggend.

Sy glo die reeks sal motorsport groter blootstelling gee.

“Dit sal definitief deure vir motorsport oopmaak – ook vir vroue in motorsport,” sê sy.

“Hopelik gee dit ook vir mense en veral maatskappye ’n kykie van binne na wat ek doen en spoor dit hulle aan om die sport in Suid-Afrika meer te befonds.”

  • May sal in September aan ’n internasionale motorfees in Pakistan deelneem. Fondse is egter 'n kopseer. Enigiemand wat haar dalk kan bystaan, kan 'n e-pos aan haar ma, Lizel, na lizel@fosters.co.za stuur.
Meer oor:  Charlize Theron  |  Hyperdrive  |  Netflix  |  Motors  |  Stacey-Lee May
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.