Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
Eldon gaan die ‘bielie kielie’ in ‘Ouboet en Wors’
Eldon van der Merwe Foto: Andmor Media

Willie Esterhuizen het spesiaal vir die akteur Eldon van der Merwe (24) ’n karakter geskep in die tweede seisoen van Ouboet en Wors.

Dié boorling van Piketberg het al vantevore saam met Esterhuizen gewerk in die sitkom Koelpixels.

Esterhuizen het nie daarin gespeel nie, maar agter die skerms ’n groep jong akteurs, waarvan Van der Merwe deel was, van televisiekomedie geleer.

Nou het Van der Merwe as Elvis Prinsloo die geleentheid om in Ouboet en Wors teenoor gesoute akteurs soos Frank Opperman en Sally Campher te speel.

Dit was ’n droom van Van der Merwe om in ’n sitkom te wees.

“En dis ’n voorreg om saam met sulke gesoute akteurs te werk.”

Frank Opperman as Ouboet en Eldon van der Merwe as Elvis Prinsloo in Ouboet en Wors. Foto: Willie Esterhuizen

Hy het sy eerste rol in 2007 losgeslaan in ’n verhoogweergawe van Fiela se kind, onder regie van Sandra Prinsloo. Daarna het hy by ’n agent aangesluit, maar eers ná skool en sy tersiêre studies die bedryf amptelik betree.

“Ek het my skoolloopbaan aan die Hoërskool Piketberg voltooi en drama by Northlink-kollege (in Bellville) studeer.

“Die rol van Elvis is ’n ongelooflike geleentheid en ek is steeds oorweldig om weer saam met Willie te kan werk. Dis meer as net nog ’n werksgeleentheid,” sê hy.

Hoewel Van der Merwe drama verkies, geniet hy die proses daarvan om meer van komedie te leer.

“Dis nog die begin van my loopbaan en ek vat elke karakter soos dit kom.”

Dit val hom op dat die bedryf in hul stories van stereotipes wegbeweeg.

“Daar is ’n groot beweging om stereotipes te verander en om die uitbuiting van kunstenaars te verhoed. Dis ook wat ek by Willie leer met die komedie wat hy maak. Dis eenvoudig, alledaags en probeer nie om mense te beledig of te oordeel nie. Jy moet elke karakter met respek hanteer.”

In die nuwe reeks werk Elvis saam met Ouboet (Opperman).

“Hy bring ’n jonkheid wat behoorlik die bielie sal kielie.”

Die verfilming van die nuwe reeks is reeds aan die gang en Van der Merwe het vir eers die Moederstad vir Johannesburg verruil.

In die toekoms wil hy terugkeer na die planke.

“Ek sal graag nog ’n verhoogstuk wil doen waarin gehore ’n ander kant van my kan sien.

Ouboet en Wors het egter op die regte tyd gekom en omdat ek so goed saam met Willie werk, het ek nie enigsins gehuiwer om ‘ja’ te sê nie.”

Van der Merwe sê dit is nie komedie wat poog om “relevant” te wees nie, dis gewone mense wat nét leef en dít beloof om kykers te laat skater.

* Ouboet en Wors is op 8 Oktober om 20:00 terug op kykNET (DStv-kanaal 144).

Meer oor:  Eldon Van Der Merwe  |  Televisie  |  Ouboet En Wors
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.