Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
Elma Postma en landbou raak groot vriende

Sy het al dikwels programme op plase aangebied, maar die aktrise Elma Postma doen met die VIA-reeks Landbouweekliks baie meer kennis oor boerdery op.

Elma Postma op ‘Landbouweekliks’ op VIA. Foto: VIA

Sy het onlangs as aanbieder by Nadia Beukes oorgeneem. Postma en HemelBesem (Simon Witbooi) besoek boere oor die land heen.

“Ek leer nou baie oor verskillende gewasse, diere en kwessies rondom landbou,” sê Postma, wat voorheen die kykNET-werklikheidsreeks Boer soek ’n vrou aangebied het.

“Dis asof ’n nuwe wêreld met elke kuier vir my oopgaan,” sê sy oor Landbouweekliks.

“Dit kan nogal ingewikkeld raak, veral wanneer dit kom by genetika en stoettelery ensomeer, maar ek voel veilig met die span van Brand Republic, saam met wie ek reis. Die span het ’n ongelooflike kennis van landbou, en hulle lei en staan my by deur die hele proses.”

Postma besef sy moet nog baie leer, maar dis vir haar ’n kosbare ervaring.

Elma Postma, nuwe aanbieder op ‘Landbouweekliks’. Foto: VIA

Haar oupa en ouma, Naas en Bettie le Roux, het tussen Klerksdorp en Wolmaransstad geboer.

Postma het in Wolmaransstad gewoon totdat sy in gr. 4 was. Die gesin het toe na Klerksdorp verhuis, waar haar ouers nou nog woon.

“Om te boer, verg baie meer as wat ek besef het,” sê Postma.

“My respek vir wat ons boere doen om kos op ons tafels te bring en om te oorleef onder moeilike omstandighede, styg met rasse skrede soos wat ek meer tyd saam met hulle deurbring. Daar word darem ook gefokus op die hart van die mense – so dis vir my lekker dat daar ’n balans tussen feite en emosies is.”

Sy het tot dusver ’n heerlike ervaring op die stel.

“Ek kry die geleentheid om met nuwe oë deur die land te reis, wonderlike mense te ontmoet en baie vars lug in te asem.”

Sy is dankbaar dat hulle te midde van die Covid-19-pandemie steeds kan werk.

“Dit is moeiliker as onder normale omstandighede, want daar is reëls wat jy moet volg om almal se veiligheid te verseker, maar ek is veral in hierdie tyd bewus van hoe goed ons boere is en hoe dankbaar ons moet wees dat hulle kan aangaan om voedsel te produseer.”

Elma Postma op die stel van ‘Landbouweekliks’. Foto: VIA

Postma, wat binnekort in die dramareeks Spoorloos: Heksejag op kykNET te sien is, het voorheen die reisprogram Mooiloop op SABC 2 aangebied.

“Deur die jare het dit tot ’n mate makliker geword om myself op die skerm te sien omdat ek probeer om minder krities te wees.”

Sy raak nog steeds gespanne en soms ’n bietjie bewerig.

“As mens glo in die program en die boodskap wat dit oordra, is dit ook makliker om nie te dink aan die kamera nie – jy fokus op die mense en hulle stories . . . en ek glo as jy opreg is, sal dit ook so oorkom. Vir eers is Landbouweekliks my hooffokus en ek sien vreeslik uit om met elke besoek aan ’n plaas meer en meer kennis op te doen.”

Landbouweekliks word Dinsdae om 19:30 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai.

Meer oor:  Kyknet  |  Via  |  Elma Postma  |  Televisie  |  Landbouweekliks  |  Boerdery  |  Landbou  |  Aanbieder
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.