SWART-VRYDAG-AANBOD! Betaal slegs R9,99 vir die eerste twee maande as jy nou ’n intekenaar word. Spring gou!
Tv
Elvis kuier saam met Coenie en George
07 September 2018

Maak jou maar reg vir ’n uur lange musiekkeurspel hierdie Sondag om 17:00 op SABC2 wanneer die sanger Elvis Blue in die nuwe musiekreeks In die kollig met . . . in jou woonkamer kom kuier.

Dit voel kompleet of die kyker in die voorste sitplekke sit tydens die episodes van In die kollig met . . .

Die nuwe televisiereeks waarvan Johan Stemmet die meesterbrein is, het verlede week afgeskop en vir die volgende 12 weke gaan kykers weekliks vermaak word met ’n uur lange konsert waar van ons land se mooiste stemme gehoor kan word.

In elke episode kry die gaskunstenaar (wat ook as aanbieder optree) die geleentheid om nog ’n spesiale gas na die episode te nooi en ook ’n “goue legende” te kies wat saam met hom of haar optree.

In Sondag se program sing Elvis Blue en Coenie de Villiers die Afrikaanse weergawe van “Nkosi sikelel’ iAfrika” saam.

In Sondag se program het Elvis Blue vir Coenie de Villiers as sy “goue grote” gekies en sy gas is die splinternuwe sanger Faraway George.

“Hoekom het ek vir Coenie gekies? Want Coenie is Coenie de freakin Villiers,” sê die sanger laggend.

“Jare voordat ek Elvis Blue begin doen het, het Coenie my so ontsettend baie gehelp. Ek het donkiejare gelede ’n album onder die naam Jan Hoogendyk opgeneem waarvoor ek toe ’n ATKV-Lier-prys gekry het. Ek het by die toekenningsgeleentheid opgetree en ná die tyd het Coenie na my toe gekom en vir my gesê hy sal graag eendag iets saam met my wou doen. Jy kon my met ’n veertjie omtik,” onthou Elvis.

Coenie het sy nommer vir Elvis gegee en ’n jaar later het Elvis (toe nog Jan) weer ’n album opgeneem.

“Ek het vir Coenie gebel en gedink hy sal my glad nie meer onthou nie, maar hy het presies geweet wie ek was. Hy het dadelik ingestem om my te help en ons het die Afrikaanse weergawe van “Nkosi sikelel’ iAfrika” op daardie album opgeneem. In Sondag se episode sing ek en Coenie weer daardie liedjie saam en dit het ongelooflik baie betekenis op soveel vlakke vir my,” se hy.

Toe niemand hulle juis aan Jan Hoogendyk gesteur het nie, was Coenie de Villiers daar vir hom.

Elvis Blue was ’n tyd gelede by ’n talentkompetisie in ’n winkelsentrum in George toe hy die jong sanger Faraway George hoor sing het.

“Ek was onmiddellik verstom deur die man se stem – hy is regtig so ’n interessante en goeie musikant. Ek het hom opgevlieg Johannesburg toe en ons het van sy musiek laat opneem,” se Elvis.

In Sondag se episode van In die kollig met . . . het Elvis vir Faraway George as sy gas gekies en dié twee sing die liedjie “Spore” saam.

“Ek dink net mense moet eenvoudig van hierdie nuwe sanger weet, dis hoekom ek hom gekies het. Luister net na hom, jy sal nie spyt wees nie.”

Elvis gaan Sondag heelwat liedjies van sy nuwe album Stories sing, waarop hy al sy gunstelingliedjies van alle tye opgeneem het.

“Ek het nooit gedink ek sal ’n album met covers maak nie, want ek is mos self ’n liedjieskrywer en ek het nog altyd my eie liedjies gesing. Maar hierdie album het natuurlik gebeur en dit was tyd vir hom,” se hy.

Die legende waaraan hy hulde in Sondag se program bring, is Koos du Plessis en hy sing ook sy treffer “Die gebed”.

“Ek het as kind my lewe lank koor gesing en daai liedjie het my van kleins af aangeraak.”

* In die kollig met . . . word Sondag om 17:00 op SABC2 uitgesaai.

Meer oor:  Sabc2  |  In Die Kollig Met . . .  |  Elvis Blue
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.