Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
Emmys: ‘Watchmen’, ‘Mandalorian’ wen groot

Die superheld-drama Watchmen, wat op Showmax te sien is, en Disney+ se Star Wars-reeks The Mandalorian het met vyf pryse elk die voortou in vanjaar se Emmys-wedloop geneem.

Foto ter illustrasie: ‘Watchmen’ het vyf Creative Arts Emmys gewen. Regina King, wat vir haar hoofrol in die reeks benoem is, hoor eers Sondag by die Primetime Emmys of sy gewen het. Foto: Getty Images

Dié wedloop het oudergewoonte weer met die jaarlikse Creative Arts Emmy-pryse begin, wat gewoonlik oor twee aande uitgedeel word en grootliks prestasies in tegniese kategorieë, soos grimeerkuns, visuele effekte, skryfwerk, kamerawerk en beligting, beloon.

Dit is in die verlede altyd ’n week later deur die Primetime Emmy-pryse opgevolg, waarin akteurs en TV-programme in hoofkategorieë om ’n Emmy-beeldjie meeding.

Die Covid-19-pandemie het egter dié spoggerige instelling op die TV-kalender deurmekaar gekrap: Die Creative Arts Emmys is vanjaar oor vier aande aangebied, van Maandag tot Donderdag (17 September), en dit sal reeds Sondag deur die Primetime Emmys opgevolg word.

Nicole Byer, komediant en aanbieder van Nailed It! op Netflix, het die virtuele Creative Arts Emmy-seremonie aangebied. Wenners se toesprake is vooraf opgeneem en uitgesaai.

Watchmen het vyf van sy 15 Creative Arts Emmy-benoemings – die meeste benoemings vanjaar – gewen, onder meer dié vir kinematografie in ’n beperkte reeks en kostuums in ’n fantasie- of wetenskapfiksiereeks. Die reeks, wat ook die meeste benoemings by die Primetime Emmys ontvang het, gaan Sondag om nog 11 pryse meeding.

The Mandalorian, wat 14 Creative Arts Emmy-benoemings ontvang het, het ook vyf pryse gewen, onder meer dié vir beste visuele effekte en beste produksieontwerp in ’n program wat minder as ’n halfuur duur. Dit het egter net een benoeming by die Primetime Emmys losgeslaan, waar dit in die kategorie beste drama sal meeding.

Sir David Attenborough het vir die derde opeenvolgende jaar ’n Emmy gewen vir die beste verteller in ’n TV-reeks, dié keer vir ‘Seven Worlds, One Planet’. Foto: Getty Images

Ander groot wenners by die Creative Arts Emmys sluit in die fopdos-werklikheidsreeks RuPaul’s Drag Race, wat vier pryse gewen het, onder meer die beste rolverdeling in ’n werklikheidsreeks en beste haarstilering in ’n niefiksie- of werklikheidsreeks.

Apollo 11, CNN Films se dokumentêr oor die eerste maanlanding, het drie pryse gewen, onder meer beste redigering van ’n niefiksie-program, terwyl die sketskomedieprogram Saturday Night Live en die laatnaggeselsprogram Last Week Tonight With John Oliver ook met drie pryse elk huis toe is.

Die Suid-Afrikaner Trevor Noah en sy span by The Daily Show With Trevor Noah, wat vir vier Creative Arts Emmys benoem is, kon in geen kategorie seëvier nie.

Die aktrise en komediant Maya Rudolph het haar eerste Emmy gewen vir haar stemwerk in die animasiereeks Big Mouth. Die legendariese aktivis en natuurliefhebber sir David Attenborough het vir die derde opeenvolgende jaar ’n Emmy vir beste verteller in ’n reeks gewen, dié keer vir ’n episode in Seven Worlds, One Planet.

Die Emmys-wedloop duur Sondag (Maandag SA tyd) voort met die Primetime Emmys. Die virtuele seremonie, wat deur die komediant Jimmy Kimmel aangebied sal word, sal van 02:00 op M-Net (DStv-kanaal 101) uitgesaai word. Dit sal op dieselfde dag om 21:30, ook op DStv-kanaal 101, herhaal word.

Besoek https://www.emmys.com/awards/nominees-winners vir ’n volledige benoemings- en wennerslys.

  • Saamgestel deur Christiaan Boonzaier met bykomende bronne: emmys.com, vanityfair.com, indiewire.com, hollywoodreporter.com
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.