Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
En wat sê die ma’s van die boere se meisies?
Boer Réan stel Rox-Zee (links) en Minette aan sy vriende en familie voor. Foto: Verskaf

In Donderdagaand se episode van Boer soek ’n vrou het die boere hul gaste aan familie en vriende voorgestel.

Daar is lekker gemaklik gekuier, maar daar is ook menings gelug.

Die oggend voor die braai was daar vet pret in Duncan se kombuis toe hy vir Kelly en Louise geleer het om wors te stop.

Hoewel Louise gesê het die ontmoeting met sy geliefdes is “maak of breek”, sê sy vriende en familie Duncan staan voor ’n moeilike keuse.

Bertus, een van Duncan se vriende, sê “solank sy net ’n bietjie wyn kan drink en ons kan ball chat is alles oraait”.

Op boer Réan se plaas het hy sommer vroeg die oggend met ernstige vrae weggeval, terwyl ontbyt langs die rivier gemaak word.

“Hou julle van aanraking? Ek praat nie van origheid nie, soos warm – want ek is baie só. Ek sal die meeste meisies irriteer, want as ek jou sien, wil ek net aan jou boud vat,” sê hy.

Die Engelse Rox-Zee het op sy vraag gereageer met “ek sal bekommerd wees as jy nie wil nie”.

boer soek 'n vrou
Boer Duncan leer vir Louise (links) en Kelly om wors te stop. Foto: Verskaf

Toe Réan vir haar en Minette aan sy mense voorstel, het hy skertsend gesê: “Moet nou nie op jou rug val nie, maar dié een is Engels. Jy hoef darem nie Engels met haar te praat nie.”

Daar is gemengde gevoelens by sy familie en vriende oor watter een van dié twee vroue beter by Réan sal pas.

Sy ma, Estelle, sê wel hy kort iemand wat nie te sag is nie, want anders gaan hy haar ore aansit.

Francois, ’n vriend van Réan, sê Rox-Zee is die meisie wat Réan “ ’n bietjie meer in toom gaan hou (en dit is) wat hy nodig het”.

Réan het laat glip hy is baie verlief, maar nie gesê op wie nie.

boer soek 'n vrou
Boer Réan en Minette (links) en Rox-Zee maak gereed om kleiduif te skiet. Foto: Verskaf

“Ek het ’n vrou nodig vir wie ek lief is, want dan gaan my boerdery floreer,” sê hy.

Boer Cassie het ook laat blyk dat daar iemand spesifiek is op wie hy sy oog het.

“Albei (Alyssa en Linnaé) sal by my lewe inpas, maar daar is beslis een wat vir my uitstaan.”

Die oomblik was vir hom só groot toe hy saam met die meisies by die spitbraai opdaag, dat hy vir ’n oomblik vergeet het om hulle aan sy vriende en familie voor te stel.

Linnaé, een van Cassie se vroue, het egter by die kuier laat blyk sy het ’n vermoede wie hy op die uiteinde gaan kies.

“My nommer een is steeds my nommer een,” het Cassie gesê.

Sy geliefdes sê hulle het ook gesien dat hy sy oog op ’n spesifieke meisie het.

“Ek persoonlik dink hy sal vir die blondie (Alyssa) gaan,” sê sy vriend Eugene.

Vroegoggend het Madelé en Corinne saam met boer André gaan skape tel.

By die braai het sy pa, Dries, gesê albei die meisies het ’n positiewe indruk op hom gemaak.

boer soek 'n vrou
Boer Toanette het vir Adriaan (middel) en Nardus uitgedaag met drie hindernisse. Foto: Verskaf

“André is broeis,” het Hannes, ’n vriend van André gesê.

“Hy is vol liefde en omgee.”

André sê dat watter dame hy ook al kies, hy die gelukkigste man ter wêreld gaan wees om een van hulle beter te leer ken.

Boer Toanette het vir Adriaan en Nardus verras met drie hindernisbane.

“Ek wil nou jul skills sien. Julle moet uithaal en wys.”

Kort voordat sy die mans aan haar familie en vriende voorgestel het, het sy eers haar ouers, Anton en Trudie, aan hulle voorgestel.

Sy het vroeër in die program aan die mans gesê haar ma het kanker en dat sy enige ondersteuning sal waardeer. Haar ma is intussen dood.

“Dit lyk of jy goed gedoen het sover,” het Toanette se ma vir haar gesê in die episode wat Donderdagaand uitgesaai is.

Sy het Toanette aangeraai om die man te kies wat by haar sal pas.

Toanette het gesê dit was vir haar ma moeilik om die ontmoeting saam met die ander mense by te woon, omdat sy ’n bietjie selfbewus was.

Volgens Toanette se pa het sy ’n man nodig wat saam met haar ’n sukses kan maak.

Meer oor:  Boer Soek 'N Vrou  |  Tv-Reeks  |  Realititeitsreeks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.