Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
Energieke webreeks vir 3- tot 7-jariges geskep

Die teater- en TV-persoonlikheid Pedro Kruger borrel van opgewondenheid oor ’n nuwe webreeks wat hy en die teaterskepper Hennie van Greunen vir woelwaters dwarsoor Suid-Afrika geskep het.

A Playdate with Curious Kate gaan die jongspan vir agt weke aan die sing, dans, oefen, lag, leer en lees kry. Dit is ’n Engelse reeks wat uit 24 episodes bestaan en word vanaf Maandag 25 Mei een na die ander op Maandae, Woensdag en Vrydae om 10:00 gratis op Curro Create se YouTube-kanaal uitgereik.

Kruger sê Marí Lategan, hoof van bemarking en kommunikasie by Curro Holdings, het eintlik met die idee vir die webreeks vorendag gekom. Lategan het Kruger en Van Greunen uitgedaag om ’n webreeks te skep vir drie- tot sewejariges, wat veral gedurende die staat van inperking ’n sprankie pret nodig het, terwyl hulle ook iets leer.

“Curro het besef daar is ’n groot nood met betrekking tot aanlyn opvoeding. Tuisonderrig vir drie- tot sewejariges oor die internet is ingewikkeld omdat dit só interaktief is en Curro het daarom besluit hulle moet iets vir alle kinders in dié ouderdomsgroep doen.”

Die eindproduk is die webreeks wat Kruger en Van Greunen nou in ’n japtrap vervaardig het wat saam met Homebrew Films by Atlantic Studios in Kaapstad verfilm word.

“Kate, vertolk deur Crystal Donna Roberts, is ’n meisietjie wat álles wil weet – van oefening en musiek tot lees en kunshandwerk,” sê Kruger.

“Dit speel in Kate se huis af en in elke vertrek ontmoet sy iemand anders by wie sy iets wil weet.”

Die rolverdeling van ‘A Playdate with Curious Kate’ is (agter, van links) Kyle Seconna, Sive Gubangxa en De Klerk Oelofse. In die middel sit Cintaine Schutte (links) en Lara Hattingh. Crystal Donna Roberts sit voor. Foto: Verskaf

Dié ander karakters sluit in Belle the Book Fairy (vertolk deur Cintaine Schutte), wat stories gaan lees; Jim Buni (De Klerk Oelofse), wat oefeninge gaan doen; Singalong Sam (Kyle Seconna), wat musiek gaan maak; Lara Craft (Lara Hattingh), wat allerhande kunshandwerk gaan maak, en prof. Brainfreeze (Sive Gubangxa), wat die jongspan allerhande eksperimente gaan leer.

Benewens onderwysers in die Curro-groep, is heelwat kenners genader om te verseker dat elke aspek van die reeks tot die jongspan spreek. Jemma Kahn, Bianca Flanders, Karli Heine en Nico Scheepers het, byvoorbeeld, stories vir die reeks geskryf wat direk op sekere ouderdomsgroepe gemik is.

“Ons het ook die sanger en akteur André Terblanché gevra om 24 splinternuwe liedjies te skryf volgens elke episode se tema. Kyle (Seconna) gaan self die choreografie van elke liedjie doen,” sê Kruger.

“Die fiksheidsghoeroe Dieter Voigt het ook al die oefeninge uitgewerk wat De Klerk saam met die kinders gaan doen en die Cape Town Science Centre het hand bygesit met al die eksperimente wat op die drie- tot sewejariges gemik is.”

Kruger sê daar is talle redes vir waarom dié projek vir hom belangrik is.

“Ek het ’n mantra: Saam maak ons ’n verskil. Ons moet veral in hierdie tyd gee en deel – geen kind moet agterbly nie. Dít is die belangrikste – ook om ’n hand uit te steek na kleintjies wat nog in die ontwikkelingsfase is,” sê hy.

“Ons kon ook deur die projek vir 17 jong mense werk skep. Teatermense kry (weens die staat van inperking) swaar, want daar gaan nie veel aan nie, so ons gebruik meer teaterakteurs.”

Volgens Kruger is almal net bly om te werk, weer kreatief te wees en net vir ’n paar dae van Covid-19 en finansiële stres te vergeet.

“Daar is soveel mooiheid wat aan hierdie projek gekoppel word – dít is hoekom ek sê dit gaan ongelooflik wees en ’n glimlag op mense se gesig sit.”

Meer oor:  De Klerk Oelofse  |  Cintaine Schutte  |  Pedro Kruger  |  Curro Holdings  |  Tv  |  Curro  |  Hennie Van Greunen
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.