Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
Familie, vriende bring hulde aan Lieb Bester

“Ons pappa was ’n man met ’n diep geloof in God, ’n man wat lief was vir musiek en musiek maak. By enige byeenkoms kon hy die hele vertrek ophelder met sy opgewekte klanke waarmee hy almal bekoor het. Dit was sy gawe en hy het mense daarmee geseën.”

So sê Erika Venter, dogter van die akteur Lieb Bester (72), wat Woensdag in Pretoria dood is.

Lieb Bester was medeaanbieder van die kykNET-program ‘Met ’n huppel in die stap’. Foto: Eden Wessels

“Sy lag was aansteeklik. Hy kon uit sy maag uit lag dat sy hele lyf sommer so ruk en die trane loop. En dan ook kon die trane loop oor dinge wat sy hartsnare geroer het. Hy het empatie gehad met mense. Sy hart was groot, goed en mooi.”

Bester, wat tans nog in die kykNET-drama Spoorloos: Steynhof te sien is, het vroeër Covid-19 opgedoen, maar dit die laaste twee weke nie meer gehad nie.

Sy organe is egter beskadig, sê sy broer, ds. André Bester van die Evangelies-Gereformeerde kerk Rietfontein in Pretoria.

Bester het by sy broer en skoonsuster in die pastorie gewoon.

“Hy is verlede Dinsdag (vir die tweede keer) weer ontslaan, en hy het goed by die huis aangesterk. Maar Sondag het hy baie verswak.”

Bester is omstreeks 05:30 Woensdag dood. Hy was nog nie ingeënt nie, maar wou dit laat doen.

“Al is ek bitter hartseer oor my ouboet, het ek vrede. Die matrone het vir ons gesê min mense sterf so vreedsaam. Lieb was die afgelope tyd so dankbaar teenoor alle mense, vir wat hulle vir hom gedoen en beteken het. Hy was dankbaar vir die pad wat hy met die Here geloop het. Dit was kosbaar om dit te sien.

Lieb Bester in die reeks ‘Spoorloos: Steynhof’, wat tans op kykNET te sien is. Foto: kykNET

“Ons pa is dood toe ek 11 was en Lieb was 23. Hy het die vaderrol oorgeneem – op ’n sagte en mooi manier. Hy was daar as ek sport gespeel het. Hy het vir my hardlooptekkies gekoop. Ons het ’n besonderse band gehad. Ek dank die Here dat ek hierdie wonderlike herinneringe aan hom het.”

Bester, medeaanbieder van die kykNET-program Met ’n huppel in die stap, het sy teaterdebuut in Uys Krige se toneelstuk Die ryk weduwee gemaak.

Hy het in die vroeë 1970’s in die fliek Seun van die wildtemmer die eerste keer op die silwerdoek verskyn.

Die ryk weduwee is deur ’n amateurgeselskap in Springs aangebied,” sê André. “Lieb was bevriend met die skrywer Chris Barnard, wat hom saamgenooi het. Iemand het toe nie opgedaag nie en Lieb is sommer gevra om die rol oor te neem. En die regisseur Bertrand Retief (regisseur van Seun van die wildtemmer) was in die gehoor. Dit het eintlik toevallig gebeur. Hy het nie toneel-opleiding gehad nie.”

Bester het ná sy diensplig ’n ruk op die spoorweë gewerk, maar het later in ’n musiekwinkel in Johannesburg gaan werk, waar hy orrels en klaviere verkoop het.

“Hy het deur Unisa sy BA kommunikasiekunde-graad verwerf. Hy het later ’n nagraadse diploma (ek is onseker waarin dit was) gedoen en ’n meestersgraad in rekenaargesteunde onderrig.”

Lieb Bester
Lieb Bester was 'n kolonel in die weermag. Foto: Argief

Venter sê baie mense beskou haar pa as ’n legende.

“Maar vir ons is hy meer as dit. In sy binnekamer was hy stil, hy was diep en hy was vreedsaam. Sy lewe was vol rykdom. As ’n mens terugdink aan hom wat vroeg in sy lewe sukses behaal het op die silwerdoek en ’n groot gunsteling in die Suid-Afrikaanse kunste geword het. ’n Soldaat wat vir sy land gaan veg het op die grens. Hy was ’n onderwyser, hy was ’n musikant, hy was ’n pa, hy was ’n oupa. Hy was en is en sal vir altyd baie geliefd wees, en ons sal hom mis totdat ons ons by hom kan aansluit in die ewigheid.”

Bester is op 15 April 1949 in Brakpan aan die Oos-Rand gebore. Hy het aan die Hoër Seunskool Stoffberg gematrikuleer en daarna sy militêre diensplig in Walvisbaai in Namibië gaan doen.

Lieb Bester in die fliek ‘Liefste Madelein’. Foto: Argief

Jaco Marais, Netwerk24-fotograaf, was saam met hom in die weermag in Pretoria.

“Hy was ’n kolonel en ek ’n luitenant. Hy was by die Geneeskundige Diens se inligtingsafdeling (Suid-Afrikaanse Militêre Geneeskundige Diens). Ek was in dieselfde gebou in die tyd wat (Jan Scoltz se dramareeks) Die vierde kabinet (waarin Bester verskyn het) op televisie uitgesaai is. Mense het partykeer terwyl ons in die hysbak was hom gevra wat volgende gaan gebeur in die storie. Hy het hulle dan net so gekyk en gespot: ‘Jou sekerheidsklaring is nie hoog genoeg nie.’ ”

Johan van Wyngaard was ook saam met hom in die weermag. “Ons paaie het in die weermag op Oudtshoorn gekruis. Toe ek my ma vertel my buurman is Lieb Bester, het sy gesê hulle het as kinders op die spoorweë in Brakpan gespeel. Ons paaie het later weer in Namibië gekruis. Ons het huisvriende geword. Hy het ‘n paar keer hier by my in Bloemfontein kom kuier. Hy was ontsaglik veelsydig. Hy was sowel humoristies as ernstig en ‘n ou met wie jy diep kon gesels.”

Bester het ook in reekse soos Paradys, Sterk skemer, Arsenaal, Torings en die destydse kykNET-sepie Villa Rosa verskyn.

Benewens toneelspel was hy baie musikaal.

“Hy was handig met ’n paar instrumente,” sê die musikant Theo Erasmus.

“Hy was goed met onder meer klavier en die konsertina. Ons twee het seker drie jaar lank naweke by die restaurant La Fayette in Centurion gespeel – ons elkeen met ’n trekklavier. Hy het ’n goeie oor vir musiek gehad. Ons het mekaar ontmoet toe televisie nog nie eens daar was nie. Ek het nog onlangs WhatsApp-boodskappe aan hom gestuur, maar nie antwoorde gekry nie. Hy was reeds siek. My ou vriend is nou nie meer daar nie.”

Bester en die akteur Harald Richter, wat ’n pa en seun in Villa Rosa vertolk het, het saam twee albums uitgereik.

“Ek is dankbaar ons kon verlede week nog praat. Hy was van jongs af in soveel flieks en het gewild en bekend geword. Maar vir my was hy net Lieb. Daar was geen ego by hom nie. En hy kon ook sing!” sê Richter.

Lieb Bester in ‘Seun van die wildtemmer’. Foto: Argief

“Kyk, hy kon moeilik wees, maar hy was wonderlik as jy in sy goeie boekies was. Ek is hartseer dat hy nie enduit (en finansieel) die loopbaan kon volg wat hy moes nie. Ek is hartseer dat hy nou al moes gaan.

“Ons het mekaar ontmoet toe Villa Rosa in 2004 begin het. Ons moes mekaar eers uitkyk, maar ons het baie geheg geraak. Ek sal daardie road trippies mis. Ek het nou so ’n leë gevoel. Hy het wel ’n sagte heengaan gehad. In daardie opsig was hy geseënd,” sê Richter.

Met ’n huppel in die stap het in 2016 op kykNET begin en Bester het hom in die derde seisoen by die span aangesluit.

Die voormalige nuusleser Riaan Cruywagen is die aanbieder.

“Die nuus oor Lieb se afsterwe het die mat onder my voete uitgepluk. Hy was ’n ongelooflik innemende mens met ’n opregte belangstelling in elkeen met wie hy te doen gehad het. As ’n veldaanbieder van Met ’n huppel in die stap het hy ’n reuse-aandeel in die sukses en gewildheid van die program gehad. Dit was ’n voorreg en vreugde om hom te ken, want hy het my lewe verryk met sy vriendskap, talent en toewyding. My hart bloei oor ons groot verlies,” sê Cruywagen.

Die akteur Simon Bruinders is ook mede-aanbieder op Met ’n huppel in die stap.

Lieb Bester

“Ek is baie hartseer oor Lieb. Ek het die afgelope paar jaar saam met hom gewerk. Hy was ’n professionele mens, met goeie empatie in sy onderhoude. Maar ek het nie graag met hom oor sport gepraat nie . . . Hy het baie sterk oor enige sport gepraat. Dit is ’n groot verlies vir die vermaaklikheidsbedryf in Suid-Afrika,” sê Bruinders.

Venter onthou een van haar pa se gunsteling-gesegdes: “ ‘Eendag as jou pa groot is . . .’ En dan kon ons so lekker saam giggel oor wat ook al gevolg het. Hy was wys. Hy kon so ver sit en staar en dan kom hy weer terug na jou toe met ’n wysheid wat jou weer bietjie anker in God se waarheid. Wanneer ek terugdink aan my pappa, dan was dit so spesiaal om op ’n stoel langs sy klawerbord te sit, van waar hy my serenade terwyl hy stip in my oë staar. Ek sal dit vir altyd mis!”

Benewens Venter het Bester ’n seun, Goppy Bester, uit sy eerste huwelik, en ’n dogter, Nicole Nieman, uit sy derde huwelik.

Nieman is die enigste oorlewende van die gesinstragedie in 2002 waarin Bester se vrou, Hanlie, en hul ander dogter, Suné (7), deur haar man, Gerhard Pieterse, doodgeskiet is. Pieterse het ook sy eie dogter, Elzanne, doodgeskiet en daarna homself om die lewe gebring.

* Hierdie berig is aangepas sedert dit aanvanklik gepubliseer is.

Meer oor:  Lieb Bester  |  Pretoria  |  Flieks  |  Akteur  |  Hospitaal  |  Televisie  |  Sterf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.