Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
Franse reeks lok meeste oë op Netflix

Netflix-reekse in tale buiten Engels is boaan die ranglys van kykstof wat in die eerste kwartaal van die jaar die grootste deel van die stromingsdiens se sowat 207,64 miljoen intekenare gelok het.

Die Franse reeks Lupin het die aandag van 76 miljoen intekenare in die eerste vier weke ná sy uitreiking getrek – verreweg die meeste op die platform van Januarie tot Maart.

The Hollywood Reporter berig slegs Bridgerton (82 miljoen) en The Witcher (76 miljoen) kon sedert 2019 Lupin se syfer oortref.

Die Engelse reeks Fate: The Winx Saga (57 miljoen) en die Meksikaanse riller Who Killed Sara? (55 miljoen) was ’n kortkop agter Lupin, terwyl Netflix-base waarskynlik ook nie hul neuse vir Ginny & Georgia (52 miljoen) Firefly Lane (49 miljoen) en Cobra Kai (45 miljoen) se syfers optrek nie.

Dié syfers beteken egter nie dié reekse is die platform se gewildste nie: Netflix, wat byna nooit oop kaarte oor sy syfers speel nie, teken ’n reeks as “gekyk” aan sodra ’n kyker dit langer as twee minute kyk. ’n Kyker wat, byvoorbeeld, ná drie minute die hasepad kies omdat hulle nie daarvan hou nie, word dus ook by die bogenoemde syfers ingesluit.

Onder Netflix se rolprente het die wetenskapfiksierolprent Outside the Wire met ’n kykertal van 66 miljoen koning gedraai. Dit het die komedie Yes Day (62 miljoen), die drama I Care a Lot (56 miljoen) en To All the Boys: Always and Forever (51 miljoen) ore aangesit.

Volgens Business Insider gaan Netflix vanjaar $17 miljard “in kontant” aan nuwe inhoud bestee – meer as sy begroting in 2019 ($15,3 miljard) en 2020 ($11,1 miljard). Variety berig die stromingsdiens sal teen 2028 sowat $26 miljard per jaar aan nuwe inhoud uitgee.

TV-vrate moet egter nie in die eerste helfte van die jaar hul asem ophou vir ’n ooraanbod van nuwe kykstof nie: Groot dele van die rolprent- en TV-aanbod wat Netflix vir dié tydperk beplan het, is uitgestel weens vertragings wat verlede jaar deur die uitwerking van die Covid-19-pandemie veroorsaak is.

– Saamgestel deur Christiaan Boonzaier

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.