Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
Frilletjies en flaters red Oscars
Kerneels Breytenbach

Wanneer laas het die mensdom so lekker gekry oor ’n TV-blaps as vir Warren Beatty se kwaai mistykie met die Oscar-aand se Groot Oomblik? Daai blaps het gesorg dat M-Net Maandagaand sekerlik ’n rekordkykertal gehad het.

Was dit nie daarvoor nie, is ek seker sou dit die verveligste Oscar-aand nog gewees het. Vervelig kwadraat.

Die bedankingstoesprake was deur die bank voorspelbaar en versigtig. ’n Paar het politieke dinge gesê, en Jimmy Kimmel het sy “vete” met Matt Damon voortgesit. Alles só goed afgespreek vooraf dat Damon selfs geglimlag het terwyl het verontwaardig moes gelyk het oor Kimmel se sarkasme en kwajongstreke.

Ek het saam met ’n groep vriende gekyk, en omdat een van ons land se voorste modeontwerpers in ons geledere was, had ons newepret met sy bespreking van die rokke. Hy het nie geweet dat ek hom gaan aanhaal nie, dus sal ek volstaan met sy kommentaar op Ryan Gosling se hemp: “Hygend hert! Mans dra nie eers in Portugal nog sulke hemde nie!”

Hy was ook skerp oor Meryl Streep se vreemde broekpak en ’n ander aktrise wie rok gelyk het asof sy ’n wolhaarbrakkie doodgetrap het en nou op haar voete ronddra.

Was ons aandag versplinter omdat ons geweet het die aand gaan in skande en skaamte eindig? Was die waardigheid en swier van die geleentheid aangetas daardeur?

Ek dink so. Maar daar was ’n ander element wat ingesluip het en tot luide wrewel en histeriese gille gelei het. Gaan ons ooit weer na daardie advertensie van Rolex kan kyk en nie intense irritasie voel nie?

Elke keer dat die advertensie-onderbreking gekom het met Peter Sellers wat vir ’n Franse speurder sê dat hulle nou hul horlosies moet sinchroniseer, is daar bitter gal gebraak. Wie beplan sulke eindelose herhalings van dieselfde advertensies? Besef M-Net nie dat dit kontraproduktief is nie?

Terwyl ek nou met M-Net praat: Hoeveel van daardie kort rolprente en dokumentêre prente wat benoem was, gaan julle aankoop en vertoon? Sies man. Besef julle nie hoe die uittreksels daaruit tydens die seremonie ’n mens prikkel nie? Ek brand van nuuskierigheid, en voel ’n versurende moer in my opwel, want ek weet kykers word besig gehou met erge snert. Gooi weg Wipeout op kanaal 120 en vertoon daardie dokkies en kortprente in sy plek.

Terug by die blaps. Dit was sekerlik nie Beatty s’n nie, maar dié van die mense wat die koevert aan hom moes gee.

Ek hou wel baie van die teorie dat dit ’n ingeboude glips was, iets wat deel was van die teks, in die trant van die busvrag toeriste wat in die loop van die aand deur die saal geslenter het.

Volgens die teorie is die verkeerde koevert doelbewus aan Beatty gegee, om te sien hoe op en wakker hy en Faye Dunaway nog is, en om vir die troepe van La La Land voor die wêreldgehoor te toets – het hulle sportmanskap, goeie maniere en ’n humorsin? Die antwoord is ’n dawerende Ja! Beatty was wakker genoeg om te sien iets is nie pluis nie, maar het toe soos ’n ware heer die koevert vir Dunaway gewys sodat sy effe aan die slaap betrap is en die aankondiging gemaak het.

Toe La la Land se mense halfpad deur hul fuifsprake was, het die boodskap hulle vanuit die newels bereik, en het die groot Oscar van die aand van eienaar verwissel.

Wat bitter is, is dat Moonlight die prys nie met trompetgeskal en basuine ontvang het nie. Hul groot oomblik was in gedempte toon. Almal het geglimlag, maar diep binne het hulle gemor. Met reg.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.