Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
Gaan Showmax binnekort verander?
Showmax word stadig maar seker ’n internasionaal mededingende internetstroomdiens, meen die joernalis André-Pierre du Plessis.

Showmax het oor die laaste vier jaar min aan sy prys en aanbod verander. Dit kos steeds R99 vir dié wat nie MultiChoice-intekenare is nie. Daar is ook steeds hoofsaaklik buitelandse televisieprogramme beskikbaar. Maar met dié dat Netflix se Suid-Afrikaanse gehoor vinniger gegroei het as wat aanvanklik voorspel is, bestaan daar ’n groot moontlikheid dat Showmax binnekort in iets anders gaan verander.

Showmax word stadig maar seker ’n internasionaal mededingende internetstroomdiens. Oor die laaste paar weke word byvoorbeeld met die hulp van SuperSport met ’n regstreekse sportkomponent geëksperimenteer. Jy sal later die maand die Wêreldbeker-krieketeindstryd regstreeks op Showmax kan kyk en jy sal kan teruggaan om weer al die hoogtepunte vroeër in die toernooi te sien.

Teen die tyd dat die Wêreldbekerrugby aanbreek, kan ons waarskynlik uitsien na ’n reuse-bemarkingsveldtog wat gefokus sal wees op daardie Afrikaners wat saam met Steve Hofmeyr in trurat oor hul dekodeerders gery het. Enigiemand sonder ’n skottel (vir watter rede ook al) wat versot is op rugby, sal waarskynlik oortuig kan word om meer as die huidige R99 te betaal om die Bokke in Japan regstreeks op hul selfone te kan sien speel.

Dis ten minste my voorspelling. Ek voorsien ’n grootskaalse bemarkingsveldtog wat mense sal teiken wat nie weet dat MultiChoice en Showmax eintlik dieselfde ding is nie.

Die uiteinde van die saak is dat Netflix ’n veel groter impak het op DStv as wat verwag was; daarom maak dit sin dat alle aandag nou op Showmax gerig word om sy inhoudsaanbod veel groter en sterker as enige ander internetstroomdiens tot ons beskikking te maak.
André-Pierre du Plessis

Want sien, met dié dat MultiChoice nou genoteer is op die JSE, is die maatskappy se sake-entiteite soos Showmax onder druk om aandeelhouerwaarde te ontsluit. Met ander woorde, Showmax sal noodwendig duurder moet word. Dit is ook deel van die rede waarom besluit is om met afleggings onder die meer as 2 000 werknemers te begin.

Die uiteinde van die saak is dat Netflix ’n veel groter impak het op DStv as wat verwag was; daarom maak dit sin dat alle aandag nou op Showmax gerig word om sy inhoudsaanbod veel groter en sterker as enige ander internetstroomdiens tot ons beskikking te maak.

Dis nie net goeie nuus vir sportfanatici nie. Daar is deesdae programme op Showmax waarvoor jy maklik drie keer meer sou moes opdok as jy op enige ander plek in die wêreld gebly het. ’n String programme vervaardig deur HBO, wat loshande die beste televisiekykstof nóg is, kan jy steeds vir slegs R99 per maand kyk. Dit sluit die reeks Chernobyl in, ’n gedramatiseerde weergawe van die 1986-kernkragontploffing. Dié program is onlangs aangewys as die beste televisieprogram nóg (as jy die televisieresensente glo). Ander HBO-programme wat die kyk werd is, sluit Big Little Lies, Game of Thrones, Succession en die verbysterende dokumentêr The Inventor in.

Naas sport en buitelandse vermaak is Showmax ook besig om ’n gros Via-programme in te sluk . . .

Naas sport en buitelandse vermaak is Showmax ook besig om ’n gros Via-programme in te sluk, wat goeie nuus is vir dié van ons wat nog nooit langer as ’n halfuur DStv-kanaal 147 kon kyk nie.

Dalk het jy nog nooit tyd gehad het om te besluit of Pietie Beyers ’n beter aanbieder as ’n akteur is nie. Wel, met drie seisoene van Blitsbrein wat vanaf 11 Julie op Showmax beskikbaar is, sal jy nou ’n definitiewe oordeel kan vel. Of as jy wonder waarom baie programme op Via uit net een woord bestaan, behoort Honger, Nisboere en Opgetof jou ’n beter antwoord te gee.

Maak nie saak waarvoor jy lus is nie, Showmax behoort teen die einde van die jaar iets vir die meeste Suid-Afrikaners te bied.

Ja, ons mag dalk almal Netflix dié winter vraatkyk, maar teen die lente wéét Showmax ons sal uitgehonger vir Kampkos, Slank en Nege Maande wees.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.