Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
Gaan stories oor bruin mense dan net oor dwelms en bendes?

Vinette Ebrahim in ‘Skemerdans’.

In die nuwe Showmax-reeks Skemerdans word Kaapstad se minder romantiese kant gewys, ’n wêreld van geweld en dwelms in ’n jazz-nagklub. Rafiek Mammon vra hoekom veg bruin mense dan nog steeds om ander tipes stories oor hul lewe te vertel.

Skemerdans het styl en dit het waagmoed. Dis ’n eerste van sy soort wat rêrig minder van die oorskatte romantiese persepsie van Kaapstad wys en liewer ’n blik op sy wanorde gee.

Ons betree outentieke grondgebied. Lof en prys moet gaan aan Amy Jephta (draaiboekskrywer) en Ephraim Gordon (vervaardiger) vir hierdie keuse. So far so good.

Die storie van die Oasis-nagklub en wat daar aangaan, is miskien ’n goeie beginpunt vir die verkenning van hierdie stories, maar is dit ons applous werd as die beste wat ons het om aan die wêreld te bied?

Maar aangesien ons nie eensoortig is nie, as ek nie een van daardie bruin mense is soos hier uitgebeeld is nie, hoe gaan ek my merk maak, om die wêreld te laat weet dat ek ook bestaan?

Wanneer skrywers kies om Kaapse verhale te vertel, vertel hulle te dikwels stories oor dwelms en/of bendegeweld. Om te verstaan hoekom dit so is en om dit te aanvaar as die status quo, is twee verskillende argumente, want bruin mense word selde as intellektuele of akademici uitgebeeld. Selfs wanneer dialoog vir hulle geskryf word, swem hulle gereeld in die dommerige geenpoel. Knoeiend, ja – intelligent? Nee. En dis daardie gebrek aan intellek wat gereeld tot hul grusame en bebloede einde lei.

Ilse Klink in ‘Skemerdans’.

En wanneer die mengsel van tale, in besonder Kaaps, tot die potpourri gevoeg word, vind ons onsself in selfs groter neerslagtige status. Wanneer hierdie karakters hul mond oopmaak, klink hulle soos onopgevoede bendelede wat nie meerlettergrepige woorde kan gebruik nie, om nie eens te praat van liriese taalgebruik nie. Hulle klink altyd soos ’n sepie – só word geloofwaardigheid ingeboet.

’n Gevoel van identiteit moet tog deur een se eie volkstaal of dialek ten toon gestel word as dit kom by die ware vertelling van ’n storie. Ons wil weet dat ons – en mense soos ons – op televisie verteenwoordig word, sowel as in literatuur, op die silwerdoek en in kuns.

Maar aangesien ons nie eensoortig is nie, as ek nie een van daardie bruin mense is soos hier uitgebeeld is nie, hoe gaan ek my merk maak, om die wêreld te laat weet dat ek ook bestaan?

Dit is wat daartoe gelei het dat swart mense tot optogte genoodsaak was met plakkate wat uitroep – om die res te herinner dat hul lewe saak maak. En dit is skandelik dat ons as die mensdom toegelaat het dat sake tot op hierdie vlak agteruitgegaan het. Dis ’n diep skande.

Wanneer ’n televisiereeks soos Skemerdans sy verskyning maak, moet ons die perspektief van sy oorsprong insien. Veg ons nog steeds om ons eie stories te vertel? Indien ja, wat is die stories wat nou dringend en meeslepend gaan wees? En hoe kan ons dit op die professioneelste manier vertel, wat nie net vasvang wie ons rêrig is nie, maar wat ook ons oorspronklikheid en vertoonkuns ten toon stel? Wat ons skryfvernuf met dialoog en ons vaardighede voor en agter die kameras beklemtoon?

Wanneer ’n televisiereeks soos Skemerdans sy verskyning maak, moet ons die perspektief van sy oorsprong insien. Veg ons nog steeds om ons eie stories te vertel? Indien ja, wat is die stories wat nou dringend en meeslepend gaan wees? En hoe kan ons dit op die professioneelste manier vertel, wat nie net vasvang wie ons rêrig is nie, maar wat ook ons oorspronklikheid en vertoonkuns ten toon stel? Wat ons skryfvernuf met dialoog en ons vaardighede voor en agter die kameras beklemtoon?

Dis nie dat Skemerdans swak is nie . . . ver daarvan! En ja, Skemerdans het bruin mense wat bruin stories vertel. Ja, dis wonderlik om behoorlike beligting en interessante kamerahoeke te sien, in vergelyking met talle plaaslike sepies en hul swak, niebestaande produksiewaardes.

Die sogenoemde noir-styl en gevoel in Skemerdans is welkom. Maar is dit die beste wat ons kan doen? Is die storie nuut, is die karakters vars en goed uitgebeeld – of ’n cliché? Is die dialoog aanloklik en gedenkwaardig genoeg vir my om karakters se lyne te wil herhaal? Is ons akteurs goed genoeg om femme fatale en bendebase en onderduimse karakters wat in die Kaapse strate skuil te vertolk?

Dis nie eens dat dit oorspronklik is nie, want ons het hierdie karakters 1 000 keer vantevore ontmoet in ’n ontelbare aantal reekse.

In Skemerdans is die hoofakteurs fantasties, maar met te veel tref-of-mis-gevalle onder die byspelers. Dis ’n probleem as, in enige gegewe toneel, kykers moet worstel met die hoogs verfynde vaardighede van Ilse Klink, Brendon Daniels, Vinette Ebrahim, Kevin Smith en Danny Ross, en ’n minder bekende akteur wat duidelik nie in hierdie geselskap kan byhou nie.

Die reeks handel oor die Oasis-nagklub en die magstryd tussen twee broers – ’n familie van diewe, saamgesworenes, wannabes en alles tussenin. Dit verken die onderbuik van die dwelm- en mafiawêreld, wat reg onder ons neus hul bestaan voer.

Die uitbeelding van die klub kom egter nie tot sy reg nie met ’n paar digbyopnames van die klante wat nie een lyk asof hulle dit eens geniet om in die klub te wees nie. En wanneer die geld rol, is dit ’n paar honderd op ’n lessenaar, getel deur wie ek seker maar moet glo, ’n gierige swendelaar is? Dit kom lagwekkend voor, eerder as geloofwaardig by tye.

En ek weet ons het nie die lokettrefferbegrotings van ons Amerikaanse eweknieë nie, maar sodra ons in die internasionale arena saamspeel, moet ons die gehalte lewer – so eenvoudig soos dit.

Ons makeer ekstras – baie van hulle – om die duidelike leemtes te vul en sodoende stemming te skep. Soos dit staan, wakker dit geensins vrees by die kyker aan of beeld oorvloed uit nie: twee konsepte wat belangrik is in die wêreld wat hier geskilder word.

En ek weet ons het nie die lokettrefferbegrotings van ons Amerikaanse eweknieë nie, maar sodra ons in die internasionale arena saamspeel, moet ons die gehalte lewer – so eenvoudig soos dit. Ons moet hoër spring as twee meter as ons wil kwalifiseer of selfs in aanmerking wil kom vir die hoogspringitem by die Olimpiese Spele. Ons produkte, wat ons lof toedien, kan nie soos hulle B-graad-goed lyk nie.

’n Mens wil nie aspris fout vind nie. Is dit kykbaar? Ja, is die antwoord.

Maar ons wil hê ons landgenote moet vooruitkom. Ons wil hê ons rolprentbedryf moet floreer. Ons wil hê ons rolprentmakers, draaiboekskrywers, tegnici en akteurs moet werk.

• Skemerdans is beskikbaar op Showmax.

• Rafiek Mammon is ’n onafhanklike teaterpraktisyn, dramaturg en kunstejoernalis van Kaapstad.

Meer oor:  Rafiek Mammon  |  Ilse Klink  |  Amy Jephta  |  Skemerdans
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.