Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
‘Game of Thrones’-ster te sien in plaaslike reeks

Die Skotse akteur Iain Glen, bekend om sy rol in die gewilde HBO-fantasiereeks Game of Thrones, verskyn as die booswig in die M-Net-drama Reyka.

Dit begin Sondag.

Iain Glen as Angus Speelman in ‘Reyka’. Foto: M-Net

Volgens die draaiboekskrywer, Rohan Dickson, het Glen dadelik in die reeks belang gestel toe hy gehoor het waaroor dit handel.

“Gedurende die eerste helfte van die reeks se ontwikkeling sou sy karakter eintlik Suid-Afrikaans gewees het,” sê Dickson.

“Maar soos mense begin het om geld te bestee, raak die gesprekke toe ernstiger en toe (die Britse produksiemaatskappy) Fremantle betrokke raak, het dit in meer internasionale besprekings ontwikkel.”

Die Britse vervaardiger Serena Cullen en Fremantle het reeds ’n verhouding met Glen gehad.

“Dit is sover ek weet. Hy was gaande oor die besonderhede wat vir hom gewys is,” sê Dickson.

“Hy het hom daartoe verbind lank voordat die verfilming begin het. Hy het hom verdiep in die karakter en soveel insig daarin gehad. Hoewel hy die booswig speel, is hy baie kompleks. Iain het veral in die kriminele patologie van sy karakter belang gestel.”

Glen vertolk die rol van Angus Speelman, ’n piesangboer in KwaZulu-Natal, wat die hoofkarakter, Reyka, op 12-jarige ouderdom ontvoer het.

Kim Engelbrecht vertolk die volwasse Reyka – nou in haar middel 30’s.

Die idee vir die reeks het sowat 14 jaar gelede by Dickson posgevat.

“Ek het as ’n draaiboekskrywer gevoel die internasionale gehoor het ’n baie vae begrip van Suid-Afrika en ek wou ’n reeks maak oor identiteit wat verteenwoordigend van die nuwe Suid-Afrika is. Ek het daarin belang gestel om ’n storie te vertel oor ’n jong meisie wat ontvoer word en wat daardie ervaring vir haar later as grootmens beteken. En iets daarvan resoneer in die nuwe Suid-Afrika.”

Kim Engelbrecht vertolk die hoofrol in ‘Reyka’. Foto: M-Net

Reyka word op 27 April 1994, op die dag van die eerste demokratiese Suid-Afrikaanse verkiesing, ontvoer.

“Die karakter verteenwoordig waar ons histories as ’n land vandaan kom, maar belangriker nog: Hoe dit vir haar as volwassene is om haar weg deur die lewe te vind. Ek het besef so ’n karakter kan my op ’n ander manier oor die nuwe Suid-Afrika laat praat ten opsigte van letsels en genesing, en toe het sowel die maatskaplike as politieke en kulturele aspekte daarvan kop uitgesteek.”

Engelbrecht glo mense kan hulle vereenselwig met Reyka, wat ondanks haar depressie en ongelukkige verlede steeds elke dag opstaan en haar werk doen en voortgaan.

“Ons bevind onsself in aaklige situasies, maar dikwels as ons eerlik is oor wat ons ervaar, put ons krag daaruit. En Reyka is nogal veerkragtig. Sy het ’n depressiewe persoonlikheid. Vreemd genoeg sukkel sy nie met haar werk as ’n ondersoekende sielkundige en profielsamesteller van misdadigers nie, en dis ’n hoogs veeleisende werk. Sy worstel eerder met eenvoudige dinge waarmee ander mense nie sukkel nie. Sy kan nie ’n behoorlike gesprek met haar ma voer nie. Sy het ook nie ’n goeie verhouding met haar dogter nie. Sy sukkel om beloftes na te kom.”

Anna-Mart van der Merwe as Elsa in ‘Reyka’. Foto: M-Net

Dit is egter in die eerste episode duidelik dat Reyka en haar ma, Elsa (Anna-Mart van der Merwe), wel ná die ontvoering herenig is. Dit bring egter ander probleme mee.

“Elsa neem Reyka weg uit Suid-Afrika en gaan woon in Engeland ná die trauma van die ontvoering,” sê Van der Merwe.

“Sy glo dit sal Reyka help om weg te kom van Speelman, van die ‘duiwels’ wat haar jaag. In die reeks sien ons dat hulle terugkeer nadat Reyka ’n baie goeie werksaanbod in Suid-Afrika kry. Elsa glo Reyka is nou sterk genoeg en in beheer van haar lewe; dat sy ’n ma vir haar eie dogter, Thuli, kan wees.”

Elsa was ’n joernalis, wat onder meer die eerste demokratiese verkiesing gedek het toe sy Reyka verloor het.

“Ná wonderlike jare van saamwerk en mekaar inspireer in die wêreld van joernalistiek en politieke kommentaar in die 1980’s, was dit vir Elsa ’n geweldige skok toe haar man, Vincent Gama, skielik sterf toe Reyka sewe jaar oud was. Haar pa was haar alles en sy was sy oogappel. Elsa kon nie bekostig om in duie te stort nie en moes as enkelouer ’n lewe vir haar en Reyka skep. Sy het haarself ten volle aan haar werk gewy en in die proses nie altyd haar dogter se emosionele behoeftes raakgesien of aangevoel nie. Vincent was ’n belangrike skakel tussen ma en dogter. Met sy heengaan het dit ’n leemte vir albei geskep.”

Reyka bestaan uit agt episodes en begin Sondag om 20:00 op M-Net (DStv-kanaal 101).

Meer oor:  Johannesburg  |  Reyka  |  Game Of Thrones
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.