Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
Gavin Prins nou ’n ‘dominee’

Die voormalige vermaakjoernalis Gavin Prins vertolk die rol van ’n predikant in die derde reeks van die Safta-bekroonde SABC 2-drama Swartwater, wat Dinsdag begin.

“Ek is een oggend gebel oor die rol van ’n predikant wat beskikbaar is,” sê Prins, ook medeaanbieder van die destydse kykNET-kletsprogram Tongelos.

Gavin Prins

“Ek het gewonder wie van my akteursvriende sou dit kon speel. Toe hoor ek dit word vir mý aangebied. En hulle sê ons skiet die volgende dag – 05:00 op stel. Binne 24 uur was ek voor die kamera. Ek het op 19 laas toneelgespeel. Die mense op stel was baie geduldig met my.”

Op stel het almal hom met “hallo, dominee” gegroet.

Hy moes baie van die tegniek leer. Sy vriend die akteur Marlon Roelfze, wat ook in die reeks verskyn, het hom daarmee gehelp.

“Annie Malan het my ook ’n toneel uit die reeks op haar foon gewys.”

André Odendaal, een van die drie regisseurs, het hom baie op sy gemak laat voel.

“Ek speel ’n tipiese dominee,” sê Prins.

Gavin Prins op die stel van ‘Swartwater’.

“Daar is ’n bietjie drama aan hom, ds. Simon. Hy het ’n paar geraamtes in die kas.”

Hoewel die drama destyds begin het met ’n pa wat per ongeluk sy kind doodskiet en die vorige reekse hardebaard-onderwerpe soos mensehandel en tikverslawing getakel het, is die nuwe reeks rustiger, het Hélène Truter, hoofskrywers, vroeër op ’n stelbesoek aan Netwerk24 gesê.

Tog is die derde reeks nie sonder spanning nie. Motorkapings kom voor “en daar is ’n paar cliffhangers en ’n mooi liefdesverhaal”.

“Dis ’n baie lekker reeks, baie real,” sê Prins.

David Isaacs en Philip Nolte is die ander regisseurs.

Gesoute akteurs soos Antoinette Louw, Louw Venter en Dorette Potgieter vertolk weer hoofrolle en Truter verskyn ook in die reeks. ’n Paar ander akteurs het egter lanklaas op televisie verskyn.

Roelfze, bekend om sy rol as Shaun in die destydse M-Net-sepie Egoli: Plek van Goud, vertolk die rol van Neville, ’n “goodie én ’n baddie”.

“Hy werk vir ’n sindikaat,” sê Roelfze.

“Tog is hy nie altyd gemaklik met die besluite wat hulle neem nie. Neville is regtig nie net sleg nie. Hy is ’n bietjie van ’n uitdaging om te speel. Dit is was amper soos om in werklikheidstelevisie te verskyn, want hierdie dinge gebeur werklik. Dit is nou iets wat ek nooit gedink ek met toneelspel sal uitbeeld nie.”

Marlon Roelfze en Gavin Prins op die stel van ‘Swartwater’.

Hy het ’n paar jaar laas toneelgespeel en hy was baie senuagtig op sy eerste dag op stel.

“Maar Franz Marx (skepper van Egoli) het ons geleer van voorbereiding. Jy moet weet wat agter die kameras aangaan. Alles kom terug na jou, selfs ná ’n lang ruk. En toe word dit makliker,” sê Roelfze.

“Ek was soggens so opgewonde om stel toe te gaan. Ek het wel dikwels gedink: Kan ek nie maar nog ’n kans kry nie? Daar is net drie of vier takes en dis verby.”

Henriëtta Gryffenberg, wat tans in die kykNET-sepie Binnelanders te sien is, vertolk die rol van Anika, ’n ma van twee kinders.

“Ek lyk ’n bietjie anders. Ek dra bruin lense en ek het my hare gesny en dis grys. Dit is om dit meer geloofwaardig te maak dat ek dié twee karakters se ma vertolk. Dit was lekker om met ’n spesifieke look te werk. ’n Mens kry selde die kans.”

Henriëtta Gryffenberg as Anika in ‘Swartwater’.

Gryffenberg is net so dankbaar vir die twee geleenthede om midde-in die Covid-19-pandemie weer ná ’n lang ruk te speel.

“En Anika is ’n interessante rol, want sy pas nie in haar wêreld in nie – nie in haar biologiese agtergrond nie en nadat sy getrou het, pas sy ook nie by daardie wêreld in nie. Dis nogal ’n uitdaging as jy vinnig moet werk om jou karakter te ontdek. Die verhouding met die kinders is ook kompleks – hulle kom nie van dieselfde maatskaplike wêrelde nie. Daar is lekker vlakke van spel wat daarmee saamgaan.”

Swartwater word Dinsdae om 19:30 op SABC 2 (DStv-kanaal 192) uitgesaai.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.