Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
Gedigte ‘teken geskiedenis van die hart op’

Die spesiale dokkie Ek wou nog sê, wat verlede jaar eksklusief op Via uitgesaai is, word vanaf 28 Augustus ’n nuwe TV-reeks. In dié geselsprogram verken die legendariese Coenie de Villiers en die digter Daniel Hugo die mag van die poësie om die emosies en idees uit te druk wat ’n mens nie andersins sou kon verwoord nie. Avbob borg dié geselsprogram en gee ook tans vir Suid-Afrikaners die geleentheid om hul digkuns te deel. Besoek gerus die volgende skakel vir meer inligting: avbobpoetry.co.za. Ons gesels met De Villiers, die aanbieder van Ek wou nog sê, oor die program en sy waardering vir Suid-Afrikaanse letterkunde.

Coenie de Villiers

Hoe sal die projek Suid-Afrikaanse letterkunde en die lewens van Suid-Afrikaanse lesers verryk?

Letterkunde – en dus ook hierdie projek – verwoord wat mense voel. Ek dink soms die woord “letterkunde” skep ’n versperring by mense. Pragtige, aangrypende stories wat goed geskryf is word inderdaad mos eintlik letterkunde, of dit nou ’n roman is wat eerlik en outentiek is, en of dit ’n gedig is wat jou aan die hart vat. Letterkunde – dit wil sê die mag van die woord en hoe goed ons dit kan ontsluit – vertel ons as mense se stories, en maak sin van dit wat ons mens maak. Dis mos hoe ons die geskiedenis van die hart van dag tot dag en van jaar tot jaar opteken.

Hoe het jy by die projek en die dokkie betrokke geraak?

Die produksiespan het my genader en gevra of ek die program sou aanbied. Dis min dat iemand jou vra om iets te doen waarin jy wérklik kan glo, en so iets is vir my die poësie. Dis ekstra-lekker dat daar ’n borg is wat bereid is om geld te skenk om dit te bevorder. Ek het dadelik “ja” gesê en is voluit betrokke by die projek. Ek help ook so ’n bietjie agter die skerms om van die uitvoerings en inkledings bymekaar te sit.

Is poësie vir almal? Wat is jou boodskap aan mense wat voel dit is nie?

Poësie is sonder twyfel vir almal. Dis gewoon cool. Natuurlik is alle poësie nie onmiddellik toeganklik vir almal nie, maar daar is meer as genoeg goeie werk vir almal om betekenis uit te put. Ons probeer almal sin maak van dit wat om ons en met ons gebeur – en dis waarmee

poësie ons help. My boodskap is eenvoudig: Moenie daarvoor skrik nie, en luister en lees sonder om te oordeel . . . dit sal bes moontlik ’n ontdekking wees wat jou lewe kan verander!

Watter Afrikaanse gedig sal jou altyd diep raak?

Die gedig wat my altyd sal raak, is NP van Wyk Louw se “Vroegherfs”. As jongeling het ek dit gelees, en iets het in my hart verskuif. En dan natuurlik sy weergalose skryf van Afrikaans. Daarna was poësie my vriend, maar hierdie gedig bly die vertrekpunt vir hierdie wonderlike en persoonlike reis met en óm die woord.

Wat is vir jou die kosbaarste woord in Afrikaans?

Deernis.

  • Ek wou nog sê begin op 28 Augustus met nuwe episodes op Dinsdae om 18:30, slegs op Via (DStv-kanaal 147.)
Meer oor:  Via  |  Coenie De Villiers  |  Vermaak  |  Tv-Reeks  |  Tv
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.