Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
Geliefde Schoonhoven deur kollegas en vriende gevier
Gerrit Schoonhoven Foto: Brendan Croft

“Wie het jou nié liefgehad nie,” skryf die akteur Gérard Rudolf oor Gerrit Schoonhoven, sy vriend van meer as 30 jaar, of soos hy hom noem, “bróér”.“Jou lig sal nooit verdwyn uit my hart nie. Jy het nooit ’n slegte woord vir enigiemand gehad nie, jou respek vir akteurs en ons diep respek vir jou en jou sagte siel bly,” skryf Rudolf verder in ’n huldiging op Facebook vir die akteur en regisseur Gerrit Schoonhoven, wat vandeesweek op 62 aan kanker in sy huis in Johannesburg dood is.

Sy ondersteuning aan akteurs en mentorskap van jongelinge wat die bedryf betree, is wyd geloof in talryke huldeblyke op sosiale media.

“Daar is nie nog ’n mens soos Gerrit Schoonhoven nie. Hy was vreeslik lief vir mense en het belê in akteurs en kunstenaars, hy het mense in hulself laat glo. By hom was mensheid voor kunstenaarskap,” het Saartjie Botha, uitvoerende hoof van die Toyota US Woordfees, waar Schoonhoven enkele jare gelede Ryk Hattingh se Sing jy van bomme opgevoer het, aan Netwerk24 gesê.

Die skrywer en sanger Nataniël sê “ek het seker ’n miljoen goed by hom geleer”.

“Ek het hom met my hele hart liefgehad. Deur al die jare het hy my werk ondersteun, as ons mekaar raakgeloop het, het ek daardie bystand ervaar.”

Schoonhoven was vreesloos in sy aanpak van gewigtige temas in sy werk. Hulle (hy en Nataniël) het mekaar in 1988 ontmoet met die seminale politieke kabaret, Piekniek by Dingaan, wat aanvanklik in die Kunstekaap in Kaapstad opgevoer sou word, maar toe inderhaas verskuif is na die Three Arts, nadat dit verbied is deur die voorsitter van die destydse Kruik-raad.

Schoonhoven was die regisseur en het dit saamgestel uit teksnotas en liedjies van André Letoit (later Koos Kombuis). Ondanks geweldige politieke druk, het die destyds omstrede produksie van krag tot krag gegaan en is dit op die nasionale kunstefees in Grahamstad vereer. Dit is steeds ’n baken in die Suid-Afrikaanse teaterskat.

Piekniek was ’n groot gebeurtenis vir ons almal. Dit het ons almal gemerk vir altyd. Ek het gehoop dat Gerrit weer so ’n reuse-projek soos Piekniek sou kry, hy was ’n briljante regisseur,” het Nataniël gesê.

Benewens Piekniek, het hy ook Anthony Akerman se anti-oorlogsdrama Somewhere on the Border, wat ook verbied is, opgevoer en het destyds die Fleur du Cap-prys daarvoor gekry as beste nuwe regisseur. In onderhoude destyds het hy sy kritiek teenoor diensplig en die Bosoorlog uitgespreek.

Hy was van 1982 tot 1985 as regisseur verbonde aan die destydse Transvaalse Raad van die Uitvoerende Kunste en was daarna vir twee jaar ook by Sukovs in die Vrystaat. Hy was net so bedrewe in regie vir televisie en rolprente.

Sy liefdesprojek was die rolprent Twee grade van moord, met Sandra Prinsloo en Marius Weyers, ’n prent waarin genadedood ondersoek word, asook die mens se keuse en behoefte om waardig te sterf.

In ’n onderhoud met Netwerk24 het hy die prent beskryf as ’n eerbetoon aan sy suster Hanna “wat iewers op ’n verlate eiland begrawe is”. (Sy en haar man, Gareth Walters, is in 2010 vermoor op die eiland Île aux Nattes, naby Madagaskar.)

Onder die talle TV-reekse waarby hy betrokke was, tel Orion, Meeulanders, Soutmansland, Plek van die vleisvreters, Hartland en hy was tot onlangs heeltyds regisseur van Binnelanders.

By die gesogte Fleur du Cap, het hy ’n Veertjie van die ATKV vir Orion gevoeg, asook ’n huldiging van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns vir sy bydrae tot Afrikaanse televisie.

Hy was ook besig met die regie van ’n toneelstuk (Dana Snyman se Steeds Donkie) met Frank Opperman wat Sondagaand in die Atterbury-teater (in Pretoria) open. Hy en Opperman het aanvanklik op Zoom gerepeteer en later is Opperman na sy huis.

“Hy het meer gegee as wat hy wou hê. Hy het ook altyd vir sy akteurs en vriende gesê ‘life is short, you may just as well be brilliant’.”

Snyman onthou Schoonhoven as ’n gewer en ’n sagte liewe mens en vertel dat Schoonhoven aanvanklik predikant wou word.

“Hy het meer gegee as wat hy wou hê. Hy het ook altyd vir sy akteurs en vriende gesê ‘life is short, you may just as well be brilliant’.”

Hy was betrokke by produksies van Snyman se Dominee Tienie, Hond en Steeds Donkie.

Hy is in 1958 in Potchefstroom gebore, was onder andere die junior burgemeester van Potch en het daar aan die Hoërskool Gimnasium gematrikuleer. Daarna het hy ’n honneursgraad in drama aan die destydse Potchefstroomse Universiteit behaal (nou die Noordwes-Universiteit). Hoewel hy soms as akteur opgetree het, was regie sy ware hartstaak.

In ’n onderhoud het hy gesê hy “wil die dirigent wees en nie die fluitspeler nie”.

Volgens die aktrise Hanli Rolfes, ’n goeie vriendin, is kanker in die wintermaande by hom gediagnoseer en hy is daarvoor behandel.

Schoonhoven is ook op 27 September, op sy 62ste verjaardag, met Marius Meyer, sy lewensmaat van die afgelope 30 jaar, getroud.

Op Schoonhoven se versoek word ’n feesviering en nie ’n roudiens nie, beplan om vroeg in November sy lewe te vier.

Meer oor:  Gerrit Schoonhoven  |  Hulde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.