Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
Geniet nuwe ‘wilde’ rol

M-Net (101) se splinternuwe drama, Inconceivable, het Donderdagaand begin en reeds in die eerste episode is kykers tot op die punte van hul stoele gedwing. Terésa Coetzee het met die aktrise Carine Rous gesels oor haar rol in die reeks.

Van die eerste oomblik dat sy van adv. Rachel Bishop se rol in M-Net se nuwe drama, Inconceivable, gehoor het, het Carine geweet sy wil dié rol vertolk. Haar agente het haar aanvanklik genader vir die rol van dr. Marieke Meyer, die rol wat Anél Alexander vertolk, maar Carine was vasbeslote, dis óf Rachel óf niks nie.

Haar “mallerige” kant het uitgekom in die nuwe rol wat Carine Rous in die M-Net-reeks Inconceivable vertolk.

“Ek speel gewoonlik die standvastige, rustige karakters en Rachel se karakter is iets heeltemal anders as wat ek al ooit aangepak het,” sê Carine. “Selfs met die oudisie het iemand vir my gesê hulle sien ’n baie onverwagte “wilde” kyk in my oë wat hulle nog nooit tevore gesien het nie,” sê Carine laggend.

Sy is getroud met Luke Rous, wat ook aan die produksie gewerk het. Hy en sy broer Josh het die reeks geskep, geskryf en vervaardig. Carine het voorheen ’n Safta gewen vir haar komediese rol in Elke skewe pot. Sy was ook al in Isidingo en High Rollers te sien.

“Ek weet Rachel is baie hard in die teks, maar mens moet wys hoekom is iemand hard en ek glo elke harde mens het ook ’n sagte kant,” sê sy. “Ek het presies geweet wat op die bladsy voor my gestaan het, maar ek het die teks my eie gemaak en so bietjie daarmee gespeel. Ek was self baie verras oor die uitkoms,” sê Carine.

Buiten haar werk as aktrise, is Carine ook voltyds ma en daarom is sy deesdae eintlik maar baie kieskeurig oor die rolle en werk wat sy aanvaar.

“Die vroue is regtig uitstekend en baie driedimensioneel in Inconceivable geskryf. Rachel steel al in die eerste episode ’n baba en op ’n baie vreemde manier het ek deernis met haar gehad,” sê Carine. “Die inperkingstyd het ek ten volle gebruik om aan die tekste te werk en ek het regtig die rol intensief bestudeer.”

Haar dogtertjie, Anna-Jo, is ’n jaar en vier maande oud en dis duidelik dat Carine mal daaroor is om ’n ma te wees.

“Maar dis moeilik, hoor! Ek sukkel vreeslik met skuldgevoelens as ek nie daar is by haar nie, maar toe ons Inconceivable geskiet het, het ek eintlik voor die tyd geweet dit gaan vir my erg wees, so op die ou end was dit darem nie so erg nie,” sê sy. “Ek het ná elke dag se verfilming huis toe gejaag sodat ek darem daar kan wees vir badtyd. Die ergste was dat ek nie net in die huis kon instap en haar kon vasdruk teen my nie, ek moes eers gaan stort en skoon klere aantrek sodat ek nie dalk die virus oordra nie.

“Sy is ’n baie gelukkige klein dogtertjie en ek wil dit so graag bewaar. Ek is mal daaroor om haar goedjies te leer.”

Bedags het hulle ’n oppasser wat na Anna-Jo kyk en Carine het van die begin af geweet haar kind is in baie goeie hande.

“Ek is een van daai pedantiese ma’s wat baie streng is oor higiëne en veiligheid. In ons motorhuis is ’n tafeltjie waarop ek al die kruideniersware sit en steriliseer voor ek dit in die huis bring en ek is regtig steeds baie versigtig vir Covid-19, selfs al het die maatreëls ligter geword intussen. Ek vat nie onnodige kanse nie,” sê Carine.

Oor die reeks voel sy dis iets waarna elke Suid-Afrikaner sal kan kyk, die storielyn en karakters boei mens van die eerste oomblik af.

Meer oor:  M-Net  |  Carine Rous  |  Inconceivable  |  Drama  |  Reeks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.