Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
‘Getroud met rugby’ ontstel kykers

Menige Getroud met rugby-kyker was die laaste weke hewig ontsteld omdat die programinhoud volgens hulle nie geskik is vir die 18:00-tydgleuf op TV wat tradisioneel beskou word as ’n gesinstydgleuf nie.

Eers is daar gekla dat ’n vloekery deesdae oral in die teks inglip. Verlede week was daar ’n verkragting in die storielyn en baie Netwerk24-lesers het te kenne gegee genoeg is nou genoeg. Ouers was kwaad omdat kinders onder 12 daaraan blootgestel is.

Anna Redelinghuys (vertolk deur Kate Roothman) in die sepie Getroud met rugby.

Deon Opperman, hoofskrywer van die sepie, se antwoord hierop is: “Getroud met rugby as sepie sou uit die staanspoor verhale skep wat al die aspekte van die wêreld waarin ons leef, weerspieël. Ons aanvanklike marknavorsing het gewys dat kykers graag wil hê dat ons relevante kwessies hanteer, asook om die lewe so realisties moontlik uit te beeld.

“Ons het oor die jare al so baie issues hanteer en geleer dat verskillende issues verskillende mense affronteer. Die groot meerderheid van ons kykers waardeer GMR se relevansie en poging om bietjie meer ‘dis hoe die wêreld is’ te wees.”

Opperman sê hulle bring nie met opset meer omstrede temas in om kykers se aandag te probeer behou nie. Hulle “bevredig net die dominante aanvraag”.

Wat die kwessie van Anna Redelinghuys (vertolk deur Kate Roothman) se verkragting betref, het Opperman as hoofskrywer baie seker gemaak dat die verkragting nie gewys word nie.

“Ons sien Anna voor en ná die daad, en ek is tevrede dat dit met uiterse sensitiwiteit uitgebeeld is.

“Daarby is al ons episodes aan ouerleiding onderworpe. Ek persoonlik meen dit is ouers se plig is om te sorg dat hul kinders nie inhoud kyk waar ’n ouderdomsbeperking aangedui word nie,” sê Opperman.

Volgens Karen Meiring, direkteur van kykNET se kanale, is daar besluit om die tydgleuf van 21:00, waarin die sepie aanvanklik uitgesaai is, na 18:00 te vervroeg “omdat dit beter werk vir ons kykers en dit kykNET in staat stel om meer oorspronklike vars inhoud in ons aandskedules te kan aanbied”.

Die storielyn oor Anna Redelinghuys wat verkrag word, word nie deur die vervaardigers as ’n kontroversiële tema besoek nie. Verkragting is ’n alledaagse aktuele tema. Dit is ’n belangrike tema om aan te roer gegewe die hoë syfers van mishandeling, geweld en verkragting in Suid-Afrika.
Soné Combrinck, uitvoerende vervaardiger van GMR.

Getroud met rugby het wel ’n ouderdomsperk van 13, al word dit om 18:00 uitgesaai.

Oor die sensitiewe storielyne en vloekwoorde wat nie bevorderlik vir kinders is nie, sê kyk­NET se senior bestuurder vir teksgedrewe produksies, Nicola Van Niekerk: “Sepies handel oor die wel en wee van karakters en stories wat eg Suid-Afrikaans is. Sepies kan nie wegskram van stories wat moeilike temas aanroer nie.

“Alle sepies dek relevante kwessies van dwelmgebruik, afknouery en mediese kwale.

“Die verkragtingstorielyn in GMR is van aktuele belang in Vrouemaand. Statistieke toon dat die meeste verkragtings in Suid-Afrika gepleeg word deur iemand wat aan die slagoffer bekend is. Dit is belangrik dat enige storie in enige sepie eers goed nagevors word en dan op ’n verantwoordelike manier uitgebeeld word. Hoewel die inhoud sommige kykers ontstel, is dit nie sensasioneel aangebied nie. Elke storielyn word met respek hanteer.”

Soné Combrinck, uitvoerende vervaardiger van GMR, stem saam. “Die storielyn oor Anna Redelinghuys wat verkrag word, word nie deur die vervaardigers as ’n kontroversiële tema besoek nie. Verkragting is ’n alledaagse aktuele tema. Dit is ’n belangrike tema om aan te roer gegewe die hoë syfers van mishandeling, geweld en verkragting in Suid-Afrika. Sepies het die verantwoordelikheid om kommentaar oor sosiale en maatskaplike kwessies te lewer.”

Volgens Combrinck is geen doelbewuste skoktegniek in die verkragtingstoneel gebruik nie. Daar was ook geen naaktheid of kru taal nie. Die toneel is “met grasie en integriteit” verfilm, terwyl Anna se trauma en hulpeloosheid uitgebeeld moes word.

“Die vervaardigers probeer deurgaans om Getroud met rugby eerlik en relevant te hou, met ’n balans van stories wat wissel tussen baie dramaties en lighartig, hartseer en blydskap, liefde en haat, geweld en versoening,” sê Combrinck.

Meer oor:  Kyknet  |  Deon Opperman  |  Tv  |  Vermaak  |  Getroud Met Rugby  |  Verkagtingstoneel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.