Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
Gewilde ‘Toks en tjops’ het nie plek vir prima donnas

Met die tiende reeks van die gewilde kykNET-geselsprogram Toks en tjops wat onlangs begin het, onthou die aanbieder en oud-Springbokrugbyspeler Toks van der Linde sy aanvanklike benadering: Daar is geen plek vir prima donnas nie.

“Ons was van dag een af baie gemaklik,” sê Van der Linde, wat die program sedert 2011 saam met Janina Oberholzer en Breyten Paulse aanbied.

Sjef Vaatjie, Janina Oberholzer, Toks van de Linde en Breyten Paulse, wat elke week op die kykNET-geselsprogram Toks en tjops verskyn.

“Om te dink dit was aanvanklik net vir die Wêreldbeker-rugbytoernooi van 2011 beplan. Koos Bekker, voorsitter van Naspers se direksie, was op soek na ’n rugbyprogram vir die wêreldbeker. Ek moes dit aanbied en hulle sou na my terugkom met ’n naam. Ek was in Junie daardie jaar oorsee en toe ek terugkom, is ek laat weet die naam is Toks en tjops en ek sê toe let’s go for it.”

Die sangers Bok van Blerk, Robbie Wessels en Theuns Jordaan het in die program opgetree.

“Die program het net ’n lekker gevoel gehad,” sê Van der Linde.

“Ek onthou nog die oggend toe ons die promo geskiet het. Ons het letterlik om die kampvuur gaan sit. Geen teks, die kameras het begin rol en ons het begin gesels.”

En die kykers was gaande oor die program.

"Dis soos om by ’n braai te sit en te vergeet daar’s ’n kamera."

Elke week kuier Van der Linde, Paulse en Oberholzer saam met gaste waar hulle gesels, braai en sing.

Die sjef Vaatjie (Tommy Dickson) het hom later by die program aangesluit.

Oberholzer was in 2011 die naaswenner in die Lady Rugby-aanbiederskompetisie waarvan die wenner die wêreldbekerrugby vanuit Nieu-Seeland sou uitsaai.

“Ek het nie gedink ek is geskik om Toks en tjops aan te bied nie,” sê Oberholzer.

“Ek was wel ’n rugbyliefhebber, maar ek het nie gedink ek kon kundig daaroor praat nie. Maar Breyten en Toks het hulle van die begin af oor my ontferm en ons het ’n hegte familie op stel geword. Ek is heeltemal gelukkig om die roos tussen die dorings te wees.”

Oberholzer moes destyds baie hard voorberei vir elke program.

“Suid-Afrikaners hou van braai, van sang, van sport en hulle hou van debatteer. Dis waarom ons almal dieselfde energie het.”

Sy moes op hoogte van sportnuus bly.

“Ek het besef ek kan nie met ’n mond vol tande daar sit nie. Nou is dit byna tweede natuur omdat my belangstelling daarin soveel ontwikkel het. As ek Netwerk24 soggens oopmaak, gaan ek dadelik na die sportafdeling. Ons praat op die program oor verskillende sportsoorte en ons doen voorspellings en ons lewer kommentaar en debatteer.”

Paulse, ook ’n oud-Springbok, glo die span werk so lekker saam omdat al die aanbieders hul eie karakter het.

“Elkeen het ’n eie manier van dinge doen. Ek dink dis hoekom die hele storie werk. Die program is baie eg. Mense kan hulle daarmee vereenselwig.

“Suid-Afrikaners hou van braai, van sang, van sport en hulle hou van debatteer. Dis waarom ons almal dieselfde energie het.”

Vir Paulse was die skuif van televisie-aanbieding (Toks en tjops is nie sy eerste program nie) ’n aanpassing.

“Elkeen het sy tekortkominge. En jy moet aan sekere goed werk, maar ek wou my eie identiteit kon oordra. Ek wil steeds Breytie van die plaas wees.

“Ek wil nou en dan ’n bietjie humor gee en ek wil soms ’n bietjie ernstig wees.

“Ek weet ek praat baie vinnig, maar nou en dan moet jy ’n bietjie slow down. Dit gaan wel daaroor om elke week ’n boodskap oor te dra.”

Paulse sê hulle praat ook soms oor ernstiger sake.

“Ons moet dit aanraak, maar dis nie die hoofdoel nie. Suid-Afrikaners, ons kan sien watter love and affection ons kry. Ons probeer ons met alle kulture vereenselwig, alle sektore van ons samelewing.”

Van der Linde onthou ’n episode waarin die voormalige Springbokkaptein John Smit baie senuagtig was.

“Ek het vir hom gesê dis soos om by ’n braai te sit en te vergeet daar’s ’n kamera. En hy het dit so geniet. ’n Mens is in ligte luim op die program. Dis ’n goedvoelprogram. Ons kykers is die belangrikste, want sonder hulle is ons niks.”* Toks en tjops word Vrydae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai.

Meer oor:  Kyknet  |  Toks Van Der Linde  |  Rugby  |  Televisie  |  Sport
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.