Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
Grundling pak in ‘Elders’ Pelgrimstog van Hoop aan

Erns Grundling vat weer die langpad, die keer nie in ’n vreemde land nie, nee, hy het sommer by sy eie voordeur in Kaapstad met sy stapstok en rugsak in die pad geval en die Wes-Kaap tot by Kaap Agulhas deurkronkel.

Die roete, genaamd Pelgrimstog van Hoop, loop verby verskeie kerke, sendingstasies en vryheidsmonumente en is dus meer as net ’n staptog. Dit is ook ’n leersame ervaring wat TV-kykers van einde vandeesmaand saam met Grundling in die program Elders sal kan volg, terwyl dié wat kans sien vir sowat 350 km dit self kan aanpak.

Grundling sê die teoloog Frederick Marais van Stellenbosch het die roete uitgelê nadat hy in 2012 die Spaanse Camino gestap het en dit hom begeester het om iets soortgelyk in Suid-Afrika te skep.

Toe Covid-19 Suid-Afrika in die inperkingsgreep beetkry, het Grundling gedink dit is ’n goeie geleentheid om ’n tuisroete vir die Elders-reeks te beproef. Benewens die Camino in Spanje het hy ook ’n staptog in Japan aangedurf, wat ook op kykNET uitgesaai is.

Juis omdat die program tydens die inperking geskiet is en Grundling nie medepelgrims vir opwindende beeldmateriaal sou teëkom nie, het hy bekendes genooi om sekere skofte van die pad saam te stap.

Hulle moes wel stappers wees of ’n verbintenis met die geskiedkundige plekke langs die pad hê. Die gaste wat aan die vereistes voldoen, is skrywer Dana Snyman, TV-aanbieder Kabous Meiring, ekoloog Dave Pepler, die sangers HemelBesem en Lynelle Kenned en die Springbok-rugbyspeler Duane Vermeulen.

Erns Grundling en die sanger Lynelle Kenned naby Kaap Agulhas. Foto: Verskaf

Grundling sê hy was “werklik omgeboul” deur die Pelgrimstog van Hoop.

“Die natuurskoon hoef glad nie terug te staan vir die Camino in Spanje nie en die geskiedenis van kerke langs die roete en die stories van die vryheid van die slawe, die Hugenote en dies meer sorg vir ’n ryk ervaring. Dan is daar natuurlik die puik wynplase langs die roete waar jy kan ontspan en ons mense se wonderlike gasvryheid ervaar.”

Diegene wat self die pad wil vat, sal wil weet wat die beskikbaarheid van oornagplekke is en of teerpaaie vermy word.

Volgens Grundling is die grootste deel van die roete op gruispaaie en hier en daar selfs deur wynlande. Verblyf is op gasteplase en as jy die einde van ’n dag op ’n dorp aankom, boek jy by ’n gastehuis in. Die dorpe op die roete is Stellenbosch, Pniel, Franschhoek, Villiersdorp, Genadendal, Hermanus, Gansbaai, Baardskeerdersbos, Elim en Kaap Agulhas.

Die Pelgrimstog van Hoop word steeds ontwikkel, wat voortaan ’n klein registrasiefooi sal behels waarvoor jy ’n pelgrimspaspoort kry, ’n rooi hoed met ’n embleem van die Kaap Agulhas-vuurtoring en ’n amptelike gidsboek.

Die vuurtoring en ’n rooi pyl is die roetemerker-ekwivalent van die skulp in Spanje.

Teen ’n gemiddelde afstand van 20 km per dag kan die afstand van 320 km in 16 dae afgelê word, maar die uiteindelike mikpunt is ’n pelgrimstog wat by Kaappunt begin en 500 km later in Kaap Agulhas eindig.

  • Elders: Pelgrimstog van Hoop word van 30 September om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) in Afrikaans met Engelse onderskrifte uitgesaai. Die reeks bestaan uit 13 episodes en is vervaardig deur Bonanza Films.
Meer oor:  Kabous Meiring  |  Lynelle Kenned  |  Duane Vermeulen  |  Hemelbesem  |  Dana Snyman  |  Genadendal  |  Franschhoek  |  Villiersdorp  |  Hermanus  |  Gansbaai  |  Elim  |  Stellenbosch  |  Elders  |  Kyknet  |  Staat Van Inperking  |  Koronavirus  |  Covid-19-Pandemie  |  Erns Grundling  |  Camino  |  Pandemie  |  Tv  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.