Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
In dié reeks kom oumas tot die redding!

’n Ouma se aandag en liefde het byna geen gelyke nie – en dít is presies wat kykers eerstehands in die Via-reeks Ouma weet mos beleef.

Hier’s die oumas! Van links is Adri Vivier, June Fisher en Adri Strooh. Foto: Via

Drie plaaslike oumas – Adri Strooh, June Fisher en Adri Vivier – reis in dié reeks die land plat om ’n paar Suid-Afrikaners wat ’n ouma se helpende hand nodig het, by te staan en ’n rigtingwyser vir hulle te wees.

Die reeks, wat reeds op 12 November begin het, word elke Donderdagaand om 20:00 op Via (DStv-kanaal 147) uitgesaai.

“Dit is ’n program wat al in verskeie lande vervaardig is, onder meer in Kanada, Italië, Switserland en Israel,” sê Isabel Barends, vervaardiger van die reeks.

“Omdat oumas so ’n kritiek belangrike rol speel in al Suid-Afrika se kulture, was ons baie opgewonde om dié vermaaklike program vir ’n plaaslike, Afrikaanse gehoor aan te pak.

“Die insig wat die oumas het, is gegrond in lewenservaring, nie wat in boeke staan nie, en dit is wat dit so kosbaar maak.”

Barends sê hulle het “baie wonderlike oumas” gehad wat aanvanklik aansoek gedoen het om hul wysheid in die reeks te deel.

“Dit was moeilik om te kies, maar dié drie het van die begin af ’n formidabele span gemaak en hulle vul mekaar so goed aan. Hul uiteenlopende lewenservarings en persoonlikhede gee ’n goeie balans aan die raad en oplossings wat aan deelnemers gegee word.

“Hulle is al drie nog relatief jong oumas en weet vir seker wat in die wêreld aangaan.”

Dié wafferse superhelde het in die eerste drie episodes van die reeks reeds vir Marcel Steyn bygestaan, wat ’n goeie dosis selfvertroue nodig gehad het om weer liefde te vind, asook René en Thinus Oelofse, wat binnekort hul eersteling verwag, en Leerowscky Afrika, wat weer sy voete op die dansbaan moes vind.

Barends sê dít is nog net die begin van uiteenlopende uitdagings wat vir die oumas voorlê.

“Hulle word wyd en syd gevra vir raad en hulp met allerhande probleme, soos ’n ander jong ouma wat ná haar egskeiding ’n nuwe loopbaan moet begin, ’n vrou wat verslaaf is aan inkopies, en ouers wie se tieners heeldag op sosiale media deurbring.”

Die oumas in hul eie woorde

Adri Strooh (57)

Adri Strooh Foto: Via

Ek het grootgeword op ’n plaas in die Clanwilliam-distrik en my hele skoolloopbaan in een skool voltooi – Graafwater. Ek was mal oor atletiek, het gelewe vir die jaarlikse konsert, en was mal oor mondeling en debat – met ander woorde perform!

Ek het ná skool kleremakery en patroonkonstruksie gedoen en toe vir die Wooltru-groep in klerefabrieke gewerk, ook later vir Prima Toys.

Ek’s in 1991 met Frans getroud en het twee kinders, Frances en Ruben. Hulle is awesome!

Ek dink aan myself as ’n people’s pleaser, wat my beste en slegste eienskap is. Ek verfoei veroordeling, rassisme en kwaadpraat.

June Fisher (63)

June Fisher Foto: Via

Ek is ’n afgetrede onderwyseres en ’n taamlik aangename mens met ’n positiewe uitkyk op die lewe – “taamlik aangenaam” omdat mense my ook ervaar as stil, berekend en effe terughoudend.

Dit verskaf my groot plesier om ieder en elk op sy/haar gemak te laat voel, maar ek kan egter slegs funksioneer as respek die onderliggende fondament van ’n verhouding is. Dit is vir my maklik om met enige mens oor die weg te kom, wat ook al sy of haar agtergrond, lewenstylvoorkeure of sosiale stand. Ek was seker in my vorige lewe ’n hippie.

My lewensmotto is: Don’t fret the small stuff.

Adri Vivier (59)

Adri Vivier Foto: Via

My werkservaring lees soos ’n Google Maps-doolhof: joernalis tot publisiteitsbeampte en bibliotekaris; kleuterskool- tot dramaskooljuffrou; bemarker tot projekbestuurder; vryskutskrywer tot aktrise en regisseur; dan weer passievolle hoërskoolonderwyseres tot terug in die vryskutbedryf in 2020.

Dit is alles opwindend ineengestrengel met getroud wees, reeds vir 37 jaar, met vier uitsonderlike kinders, wat intussen weer uitgebrei het met twee skones en twee kleines – die nuutste aankomeling het op 31 Maart tydens die inperking met ’n tuisgeboorte aangekom!

Enkele lewensopvattings: Leef voluit en laat leef! Wortelkoek en goeie koffie is uitstekende antidepressante. ’n Bain’s-whisky een maal per dag laat die dokter wag!

Meer oor:  Marcel Steyn  |  Google Maps  |  Tv  |  Via
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.