Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
MultiChoice se ‘inhoud-ghoeroe’ sterf aan Covid-19

Aletta Alberts, programhoof van MultiChoice, is Dinsdagoggend in Johannesburg aan Covid-19 dood.

Sy is net ná 01:00 in die Milpark-hospitaal se hoësorgeenheid dood. Sy sou Woensdag 57 jaar oud word.

Aletta Alberts

Volgens Neeltjé Swanepoel, ’n jare lange vriendin en voorheen teksskrywer van die SABC 2-joernaalprogram Pasella, het Alberts aan fibromialgie gely en soms moeilik geloop.

Alberts, wat in Parkhurst, Johannesburg, gewoon het, was voorheen hoof van SABC 2 en was daarna meer as 15 jaar lank aan MultiChoice verbonde.

Jan du Plessis, direkteur: M-Net-kanale, beskou haar as die oorspronklike “inhoud-ghoeroe”.

“Sy was mal oor alles wat TV, kuns en opera betref. Haar jaarlikse reise vir die New Yorkse operaseisoen in Desember was haar sielskos en ons kon nie wag om te hoor wat sy alles te vertel het wanneer sy teruggekeer het nie.”

Du Plessis het haar dikwels vergesel na TV-markte en -vertonings in Los Angeles. Hulle het na al die nuwe reekse uit die Hollywood-stal gekyk.

“Ons het oor die jare ’n short hand ontwikkel. Een kyk, een wenkbrou of een woord en die een het presies geweet wat die ander een van die vertoning dink – dikwels histeries snaaks sonder dat die mense rondom ons weet wat aangaan. Wie gaan my nou ‘LieweJan’ – sommer so in een woord – noem?”

Alberts is in Potchefstroom gebore en het aan die Hoër Volkskool gematrikuleer. Sy het drama aan die Noordwes-Universiteit (destyds die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys) gestudeer, maar het nooit ’n aktrise geword nie.

Sy is jonk as ’n produksie-sekretaresse by die SAUK aangestel.

Sy het saam met die vervaardiger Ken Kirsten gewerk en hulle het verskeie produksies behartig en veral saamgewerk aan modelprogramme en die uitsaai van die Mej. Suid-Afrika-kompetisies destyds.

Sy het in dié tyd vir Charlize Theron, vandag ’n groot aktrise in Hollywood, goed leer ken, en was tot met haar dood vriende met haar.

Karen Meiring, direkteur M-Net: kykNET-kanale, onthou haar as een van die vrygewigste en liefdevolle mense wat sy nog geken het.

“Dit was altyd lekker om by haar te wees en na haar te luister. Sy was hoogs gerespekteerd in die mediawêreld, sowel hier as internasionaal. Sy was ’n mentor en groot inspirasie vir talle mense en het graag jong kunstenaars gehelp om hul visie te realiseer. Sy was ’n uitsonderlike mens, kollega en vriendin en laat ’n onbeskryflik groot leemte oral waar sy ’n verskil gemaak het.”

Izelle Venter, VIA-kanaalhoof, sê daar was net een Aletta Alberts.

“Sy was onbeskaamd, sy was oordadig en sy was all-in. Sy kon hard lag, sy was sag as dit nodig was, maar sy het nooit doekies omgedraai nie. Sy was dalk die mees onpretensieuse, grêndste mens van wie ek weet.”

Haar obsessie met video-inhoud was ongekend, aldus Venter.

“Altyd foon in die hand, altyd op soek na iets nuuts om te kyk, te doen, te koop of te ondersoek. Sy het ’n onversadigbare lus gehad vir TV-programme – hetsy dokkies van hoë gehalte of wilde werklikheidsreekse. Solank dit kykers se lewens lekkerder maak. Sy was haar werk, haar werk was sy.”

Baie mense in die bedryf het baie by haar geleer en sy het vir baie mense deure oopgemaak.

Aletta Alberts was langer as 15 jaar aan MultiChoice verbonde.

“ ’n Geesdriftige mentor wat nie lus was vir ’n geploeter of ’n gesukkel nie. As jy nie jou kant gebring het nie, het sy gou haar oë gerol,” sê Venter.

“Ek het veral in die laaste jaar nou saam met haar gewerk met die bekendstelling van ons nuwe Pan-Afrika-kanaal, Honey, wat in Maart die lig gesien het. Ek bel haar eendag met ’n nuwe krisis en sê hier het ons nou ’n moerse f****p getref. Sy laat weet: ‘Dis eenvoudig Izelle, ons moet dit net ontf*k.’

“In hierdie tye was sy een van die min mense wat altyd haar beeld aangesit het tydens video-oproepe. Met haar Issey Miyake-gewaad, kleurraambril pas ingekoerier van oorsee en die kamers vol kuns op die agtergrond het sy altyd naby gevoel. En nou is sy ver. ’n Mens kon net nie genoeg van haar kry nie en ek is nog nie klaar geleer en gesels nie,” sê Venter.

Swanepoel het Alberts in 1983 ontmoet toe hulle albei studente was. Hulle was vier vriendinne wat lewenslank saam was.

“Sy het toe al, soos sy deesdae so graag gesê het, ons main frames ge-liberate! Sy het ons uit ons boksies gepluk en aan die lewe buite ’n beskermde, kleindorpse bestaan bekend gestel. Ons het saam interessante mense ontmoet en met van hulle is ons vandag nog vriende.”

Alberts het Swanepoel ook aan haar man, Hendrik, voorgestel.

Benewens haar loopbaan, onthou Swanepoel Alberts se oog vir styl.

“Sy het haar eie uitrustings ontwerp en dan moes haar ma dit maak. Haar pa het gereeld vir ons gesê hy gaan ons afneem sodat ons eendag vir onsself kan lag.

“Sy het ’n besondere aanvoeling gehad om letterlik ’n nuwe neiging te kon ruik en dan met nuwe, soms baie innoverende idees vorendag te kom – soms te erg vir die meer konserwatiewes in haar bedryf. Haar kennis van televisie en ander mediavorme was fenomenaal. Sy word wêreldwyd gerespekteer en het goeie vriende in dié bedryf gehad.

“Ek was bevoorreg om haar as vriendin te ken. Ons was meer soos susters en eintlik ’n bietjie by die heup aan mekaar vas. Sy het ’n skerp brein met ’n snydende sin vir humor gehad en soms het jy so tussen die lag deur van skok na jou asem gesnak oor wat sy gesê het. She never, in her own words, took any prisoners.”

Haar nuuskierigheid het ook die oorhand gekry.

“Flippen nuuskierig. Jy kon saam met haar in ’n restaurant sit en gesels en sy kon ná die tyd vir jou sê wat almal om ons gesels het. As ek vra hoe doen jy dit, het sy gesê sy sit net haar muisore aan. Sy het net ’n ander soort magic gehad.”

Alberts was ongetroud en het nie kinders nie. Sy word oorleef deur haar ma, suster en broer en hul gesinne.

Meer oor:  Dstv  |  M-Net  |  Multichoice  |  Aletta Alberts  |  Televisie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.