Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
Is sy SA se eerste ‘Bachelorette’?

Sondagaand is aangekondig dat Suid-Afrika sy eerste “Bachelorette” kry om wie se hart die manne sal kan meeding.

Nadat die nuus deur M-Net, wat die reekse vervaardig, bekend gemaak is, het aanhangers byna uit een mond geantwoord dit moet Bridget Marshall (32) wees.

Kykers het onlangs gesien hoe Marshall, van Seepunt, met ’n gebroke hart en trane in haar oë wegstap van Marc Buckner, ster van die tweede seisoen van The Bachelor South Africa, nadat hy Marisia van Wyk gekies het.

Ná haar hartseer is talle aanhangers hoopvol dat Marshall die eerste ster sal wees van The Bachelorette South Africa, omdat sy “die perfekte keuse is”.

Marc Buckner en Qiniso van Damme. Foto: M-Net

Daar is selfs ’n Facebook-blad met meer as 4 600 lede met die naam “Make Bridget Marshall SA’s 1st Bachelorette”.

“Hoewel dit nie ’n reël is nie, is dit gebruiklik dat ’n vrou uit die vorige Bachelor-seisoene vir die splinterreeks gekies word,” het Lani Lombard, publisiteitsbestuurder van M-Net, Sondagaand in ’n verklaring gesê.

Dit beteken kykers vra nie verniet dat Marshall gekies word nie. Maar stel sy belang om weer op TV na liefde te soek?

Marc Buckner gee vir Gillian Seetso ’n roos. Foto: M-Net

“Ja, ek sou ja sê,” was Marshall se antwoord toe Netwerk24 by haar wou weet of sy so ’n uitnodiging sou aanvaar.

“Ek wil ’n lewensmaat hê, ’n beste vriend,” sê sy.

“Ek is op soek na ’n man wat eerlik is en integriteit het. Iemand met wie jy dadelik kliek, wat jou skoenlappers in jou maag gee. Hy moet aantreklik wees en eendag ’n gesin wil hê.

“Wat my van ’n man sal pla, is arrogansie, selfbeheptheid, aggressiwiteit en magsbeheptheid.”

Sy sê sy dink dit sal ’n uitdaging wees om die rose uit te deel in plaas daarvan om te wag om een te ontvang.

Bridget Marshall (32) van Seepunt. Foto: M-Net

“Dit is ’n baie moeilike besluit, want soms kry jy nie baie tyd om iemand regtig te leer ken voordat jy moet besluit wie ’n roos gaan kry nie. Jy moet jou gevoel vertrou.”

Marshall het Saterdag ’n foto op Instagram gelaai nadat sy by die haarsalon was. Haar haarkleur is effens donkerder en sy spog met blonde sonstrepies. Talle het haar gekomplimenteer met die nuwe voorkoms.

Sy sê sy stem saam met baie Suid-Afrikaners dat dit hoog tyd is dat Suid-Afrika ’n seisoen van The Bachelorette kry, aangesien daar twee seisoene van The Bachelor uitgesaai is.

Die model Lee Thompson en belegger en model Buckner was die sterre van hierdie seisoene. Kykers vergeet egter nie van hul gunstelinge uit seisoen een nie.

“Dit maak net die meeste sin dat dit Gina Myers moet wees,” sê een aanhanger. Myers was Thompson se keuse in die eerste seisoen, maar die verhouding was gou op die rotse.”

“Ek hoop dit is Jozaan Digue. Lee het haar nie reg behandel nie,” meen ’n ander.

Digue was in die toptwee van die eerste seisoen, en het onlangs op Instagram bekend gemaak dat sy ’n nuwe kêrel het.

“Ek sien uit na die seisoen. Dit sou lekker wees om Michelle Reddy as die eerste ‘Bachelorette’ te sien,” sê ’n kyker.

Van die ander vroue wat mense graag wil sien, is die model en meesterstudent Qiniso van Damme, die danser Pasha dos Santos of die fotograaf en YouTube-ster Gillian Seetso van seisoen twee.

Bridget Marshall (32) wys haar nuwe haarstyl. Foto: Instagram/Bridget Marshall
Gina Myers van seisoen een. Foto: Instagram/Gina Myers

“As ek gevra word om die ‘Bachelorette’ te wees sal ek beslis ja sê,” het Dos Santos, wat opskuddings in die huis veroorsaak het, gesê.

“Ek is op die oomblik enkellopend en ek dink dit sal ’n ongelooflike ervaring wees. Ek is op soek na iemand wat lojaal, liefdevol, vriendelik, eerlik, intelligent, onafhanklik, humoristies en sterk is. Ek wil my beste vriend, lewensmaat, minnaar, man alles in een hê.

“Ek weet wat ek wil hê, so dit sal lekker en opwindend wees om die regte man te kry. Ek is opgewonde oor die nuwe reeks.”

Lombard sê dit is moontlik dat kykers iemand nuuts sal leer ken as die eerste “Bachelorette”.

“In albei seisoene was daar pragtige vroue wat maklik hierdie gesogte rol kan inneem. Agter die skerms is ons gekontak deur ander potensiële ‘Bachelorettes’ met goeie eienskappe, maar wat nog nie op die program was nie.”

Lombard sê hulle sal vandeesweek die aankondiging maak, en volgens haar sal mans hulle onmiddellik kan inskryf vir die program sodra die “Bachelorette” se naam bekend gemaak word.

“M-Net beplan om The Bachelorette se eerste seisoen vroeg volgende jaar uit te saai, en die verfilming sal so gou as moontlik vanjaar plaasvind.”


Meer oor:  Bridget Marshall  |  Sielsgenoot  |  Liefde  |  Tv-Reeks  |  Bachelorette
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.