Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
Jamie Bell in TV-reeks oor Beukes se ‘Shining Girls’
Jamie Bell gaan ’n hoofrol vertolk in die verwerking vir televisie van die Suid-Afrikaanse skrywer Lauren Beukes se roman ‘The Shining Girls’. Foto: Getty Images

Die Bafta-bekroonde Britse akteur en danser Jamie Bell gaan teenoor die Emmy-bekroonde aktrise Elisabeth Moss speel in ’n verwerking vir televisie van die Suid-Afrikaanse skrywer Lauren Beukes se roman The Shining Girls.

Beukes se metafisiese riller het in 2013 verskyn en handel oor ’n reeksmoordenaar wat ook ’n tydreisiger is. Dit speel onder meer in die Depressie-jare in Chicago af en volg ’n anonieme swerwer wat die jag op jong vroue maak.

Op sy spoor is Kirby, ’n jong, gekwelde joernalis wat in Chicago werk. Sy self het ’n gewelddadige aanval oorleef en probeer om haar aanvaller aan die pen te laat ry, al het die polisie lankal boedel oorgegee.

Moss, ster van onder meer die hoogaangeskrewe televisiereeks TheHandmaid’s Tale, is as Kirby te sien en sy word bygestaan in haar soektog deur Dan, ’n veteraan-joernalis, vertolk deur Wagner Moura van Elite Squad-faam.

Elisabeth Moss gaan die hoofrol vertolk in ‘Shining Girls’, ’n verwerking vir Apple-televisie van die Suid-Afrikaanse skrywer Lauren Beukes se roman ‘The Shining Girls’.

Bell is in die reeks te sien as ’n man wat op die agtergrond beweeg, ’n eenkantmens wat oënskynlik ’n band met Moss se karakter het. Die roman kan as ’n senutergende, donker kat-en-muis-speletjie beskryf word. Die intrige verdiep deurdat dit in verskillende tydperke afspeel – van die 1930’s tot 1990.

Die boek is deur Silka Luisa verwerk. Leonardo DiCaprio is die uitvoerende vervaardiger. Beukes is ook as ’n vervaardiger aan boord vir die maak van die reeks.

Bell het roem verwerf as jong akteur in die dansprent Billy Elliot. ’n Ander groot rol wat op Bell wag, is dié van die Amerikaanse dansster Fred Astaire in die biografiese prent Fred & Ginger vir Amazon.

Beukes het onder meer al die gesogte Britse Arthur C. Clarke-wetenskapsfiksieprys vir haar debuutroman, Zoo City, losgeslaan. The Shining Girls is ook met die Universiteit van Johannesburg se fiksieprys vereer.

Ander boeke uit Beukes se pen is onder meer Broken Monsters en Afterland, wat verlede jaar verskyn het. Haar romans word wyd internasionaal versprei. – Saamgestel deur Laetitia Pople uit berigte in Deadline, Variety en ’n onderhoud met Beukes met die bekendmaking daarvan dat Moss die hoofrol in die reeks gaan speel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.