Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tv
Jolene ’n introvert

Dié appeltjie val rég langs die boom. Die veelsydige Jolene Martin het in die kollig grootgeword en het reeds as tiener die hoofrolle ingeryg, maar sy hunker ook na stilte en koester haar privaatheid. Sy gesels met Maretta Bellingan.

Die pragtige Jolene Martin vertel dis lekker vir haar om 40 te wees.

Arendsvlei, die telenovelle op kyk­NET & Kie, speel af by die hoërskool in die fiktiewe dorpie Arendsvlei waar Beatrice (Jolene Martin) in haar hoedanigheid as skoolhoof te make kry met die uitdagings van kwessies soos bendegeweld en tienerswangerskap.

“Ek sien baie van myself in Beatrice. Sy’s ’n onafhanklike denker, lief vir haar familie en gemeenskap en is baie gesteld op geregtigheid, wat soms backfire in haar gesig. Én ons is albei vrek unlucky in love,” lag die aktrise.

“Vir die eerste keer in my loopbaan speel ek ’n karakter waar dit nie voel soos toneelspel nie. Wat ek bedoel is, dis ware sosiale aktivisme. Haar eerste storielyn het op haar as ’n mishandelde vrou gefokus en die kykers het só goed daarop gereageer, hulle kon daarmee identifiseer.

“Ek was ook jare gelede in ’n afbrekende verhouding en die rol het baie ou wonde oopgekrap, gevoelens wat ek vir lank onderdruk het. Dit het my werklik gehelp om berusting te vind.

“Ons is so gewoond aan televisieprogramme wat die lewe verteerbaar aanbied. Dis vir my ’n voorreg om deel te wees van ’n produk wat groter eerlikheid na vore bring. Én Arendsvlei het my huis toe gebring,” erken die 40-jarige Jolene, wat in Mitchells Plain op die Kaapse Vlakte grootgeword het.

“Dit was polities ’n baie donker tyd, maar ons het in ons eie bubble geleef,” onthou sy. Ma Charlene, wat meer onlangs in die musiekblyspel South Pacific te sien was, het as operasanger gewerk en het saam met die Libertaskoor deur Europa getoer.

“My ma is beslis ’n groter ster as ek, maar sy’s só humble, ek’s regtig trots op haar. She sets the bar very high, maar dit loop in ons bloed. My oupa Alec Alexander het agt instrumente bespeel en was baie bekend op sy dae.

“Hy was dikwels in sy three piece suit in die Kersfeesorkeste wat deur die Bo-Kaap geloop het. So ja, hierdie appeltjie val rég langs die boom,” beaam die aktrise wat op 13 jaar die hoofrol in die jeugproduksie van Chicago vertolk het. “My ma het my beslis gegroom,” erken Jolene wat as vierjarige reeds balletklasse geneem het.

Van kleins af ’n ster

Sy’t ook as tiener as mede-aanbieder van twee televisiejeugprogramme opgetree, in haar matriekjaar die hoofrol in The Sound of Music vertolk en is op 17-jarige ouderdom deur die J. Paul Getty-stigting as een van net twee tieners in die wêreld uitgenooi om die VN toe te spreek oor die lewe in stede wat dramatiese verandering ondergaan het.

Later het die J. Paul Getty-stigting ’n boek van Jolene se fotografie en ’n gedig wat sy oor haar besoek aan Robbeneiland geskryf het, gepubliseer.

“Dit was crazy, ek het amper uitgebrand,” sê sy in retrospek, “maar my ouers het dit goed bestuur. Hulle het my aangemoedig, maar nooit druk op my gesit nie.”

Nog hoofrolle het gevolg in musiekproduksies soos Grease en Little Shop of Horrors. Kykers sal haar ook onthou as Can­dy, die dowwe ontvangsdame in Scoop Schoombie. “Ek’s mal oor komedie, maar dis nie so maklik as wat dit lyk nie. Gelukkig kom ek uit ’n baie komieklike familie, dit het gehelp.

“Ek het voor die kamera grootgeword en dis tweede natuur vir my. Die mees uitdagende werk, al was dit great fun, was beslis die twee game shows Coca Cola en Powerball wat ek aangebied het. Geen rol het my nog ooit so geïntimideer nie. Jou hart wil bars wanneer die countdown begin.

“Mense keer my nog steeds voor en vra, ‘waar’s my geld?’, lag Jolene wat die rol van Janine in die reeks Fishy Fesh-uns vertolk het en in tientalle televisieproduksies, waaronder Hard Copy, Isidingo, Generations, Begeertes en meer onlangs in die kykNET-reeks Getroud met rugby as Jade, te sien was.

In ’n stadium het sy egter op haar musiekloopbaan gefokus en in Majorka gewoon waar sy as sangeres by van die grootste klubs in Spanje opgetree het. In 2006 het sy haar eerste CD uitgereik. “Maar ook die laaste. Ek sien nie kans om my energie op te offer as almal jou werk van die internet kan aflaai nie!”

Ek het 40 geword en ek vervaardig ook my eerste dokumentêr vir die National Film and Video Foundation oor my Khoi-Khoi-wortels.

Doelgerig op pad

“Ek is baie strategies wat my loopbaan betref. Ek wou eers fokus op aanbieding, maar ek is nou presies waar ek wil wees, ’n aktrise wat kwaliteit-rolle vertolk.”

Jolene het vir 20 jaar in Johannesburg gewoon en het steeds ’n huis daar, maar vir eers is Kaapstad haar tuiste. Sy was vir ’n paar jaar getroud, maar het nie kinders nie. “Let wel, ek gaan binnekort ’n amazing man ontmoet en nege maande later gaan ek ma word,” verklaar sy laggend.

Wanneer sy wegbreek, kan jy haar op die salsabaan gaan soek. Sy het onlangs ook begin skilder.

“Ek lees graag, veral Suid-Afrikaanse stories. Ek het pas André P. Brink se laaste boek, Philida, gelees.

“2019 is ’n groot jaar vir my. Ek het 40 geword en ek vervaardig ook my eerste dokumentêr vir die National Film and Video Foundation oor my Khoi-Khoi-wortels. Dis ’n projek waarop ek baie trots is. Ek’s seker abnormaal, maar ek geniet dit om 40 te wees. Ek het uiteindelik myself uitgesort , dis ’n lekker plek om te wees. En ek is mal oor my werk, nou wag ek net vir prince charming.”

As sy nié ’n loopbaan as kunstenaar gevolg het nie, was sy ’n Tibetaanse monnik, sê die aktrise.

“Ek vind groot vrede in stilte en meditasie, maar ek dink nie dis ’n goed betaalde job nie,” lag sy. “So nou weet almal, ek is ’n introvert wat betaal word om ’n ekstrovert se werk te doen!”

Meer oor:  Aktrise  |  Jolene Martin  |  Vrydag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.